Business Express onder klippe gesteek

“Die feit dat die Business Express tussen Pretoria en Johannesburg vanoggend met klippe bestook is, plaas die veiligheid van passasiers op die trein onder verdenking,” sê mnr. Jaco Mulder, VF Plus-LPW vir Gauteng.

Volgens me. Christel Liebenberg, kantoorbestuurder van die VF Plus in die Gauteng Wetgewer, was sy ‘n passasier op die trein wat vanoggend net voor 06:00 vanuit Centurion na Johannesburg vertrek het.  Die trein het naby Tembisa gaan staan, vermoedelik vanweë ‘n kragonderbreking wat vermoedelik verband hou met kabeldiefstal in die Kaalfontein/Kemptonpark-omgewing.  Die passasiers moes oorklim op ‘n ander Business Express wat kort na sy vertrek onder die klippe gesteek is deur mense langs die treinspoor en ook vanuit ‘n stilstaande Metrotrein.

Volgens me. Liebenberg is van die vensters stukkend gegooi en het glasskerwe deur die trein getrek, waarop passasiers gillend skuiling op die vloer van die trein gesoek het. Talle passasiers, waaronder vroue en kinders, is erg getraumatiseer deur die voorval veral omdat dit vantevore ook plaasgevind het.

“Indien die regering nie die veiligheid van passasiers op openbare vervoerstelsels kan waarborg nie, is dit ook gedoem tot mislukking en sal daar van die Gautrein ook niks kom nie.  Voorvalle soos dié kan die Wêreldbekersokker versuur terwyl daar reeds ‘n vraag bestaan oor die veiligheid van toeriste,” het Mulder bygevoeg.

Volgens Mulder is die regering se onvermoë om diens te kan lewer toenemend besig om tot publieke opstand te lei. “Die VF Plus eis dat die regering hul veiligheidsmaatreëls op openbare vervoerstelsels onmiddellik opskerp.”

мозаикалобановский супермаркет класс

Maak 'n opvolg-bydrae