Nuwe besems

Niks kan erger as Lawwe Lulu wees nie.

Vir die land se kommersiële landbousektor het ‘n skynbaar nuwe dag aangebreek toe Pres. Jacob Zuma Lulu Xingwana na ‘n ander portefeulje geskuif het, en wyle Dirk du Toit uit sy span weggelaat het.

In hul plek het onderskeidelik Tina Joemat-Pettersson en dr. Pieter Mulder gekom, en na aanvanklike uitsprake het dit gelyk of kommersiële boere nou hul Aspoestertjie-status kwyt sou wees.

Dat alles nie pluis sou wees nie, moes dalk reeds afgelei gewees het toe die departement steeds dawerend oor plaasmoorde en plaasaanvalle swyg.

Joemat-Petterson het ook erken dat die kundigheid in haar departement ontbreek om boere se tariefbelange aan te spreek. Die georganiseerde landbou het sy dienste gratis aangebied, en die minister het dit aanvaar.

En daarna is niks weer hieroor van die minister gehoor nie, en boere, veral graanboere, se probleme bly in wese onveranderd.

Dit herinner aan die Dirk du Toit-era waar die minister by ‘n vergadering boere, waarby sy departemente van Landbou en van Grondsake goed verteenwoordig was, boere vra vir voorleggings om ‘n klagtedirektoraat op die been te bring, omdat sy eie kantoor nie die volle neerslag van onbevoegde of onwillige amptenare kan hanteer nie. Wanneer hy egter tydens die verrigtinge ‘n onderhoud voor die TV-kameras doen, sing hy ‘n gans ander deuntjie.

En swyg in alle tale oor plaasaanvalle.

In Europa is dit nie vreemd nie as boere opruk en met hul plaasinstrumente groot chaos veroorsaak nie. Veral die Franse boere het al so internasionaal die nuus getref.

Een maal het Suid-Afrikaanse boere ook in die taal gepraat wat die regering blykbaar verstaan, en die sogenaamde trekkeroptog in Pretoria gehou.

Gewoonlik is dit egter nie die Suid-Afrikaanse kommersiële boere se styl nie, en word ‘n ordentlike proses via georganiseerde liggame gevolg waar elektroniese voorleggings en lesings deur akademici volop is. In verskeie provinsies is reeds indrukwekkende veiligheids- en intelligensiestrukture opgerig en blyk dit dat talle plaasaanvalle moontlik reeds hierdeur verhoed is. Maar intussen word die aantal kommersiële boere al hoe minder, en neem plaasaanvalle toe.

Intussen kom daar steeds uit regeringskringe gereelde verbale aanvalle op boere.

Kan ‘n land wie se kosmandjie onder soveel druk verkeer werklik nog bekostig dat sy groot voedselprodusente se tyd deur bykans enigiets behalwe om te boer opgeneem word? Die boere is nou ook politici wat hul belange by die regering moet dien, administrateurs wat ‘n magdom wetgewing se administrasie moet behartig, munisipaliteite wat aan hul werkers en voormalige werknemers verblyf van kwaliteit moet voorsien, die staat wat onderwys moet voorsien, wat hul sakebelange moet diversifiseer om te kompenseer vir die landbougedeelte wat dikwels nie lonend is nie en boonop aan natuurelemente en swak regeringsbesluite uitgelewer is, en hy is voltydse soldaat of polisieman wat sy gesin teen plaasaanvalle en sy vee en oeste teen diefstal moet beskerm, en hy is vir lang tye nog brandweerman ook omdat die veld in Suid-Afrika, volgens die polisie, so geneig is om vanself aan die brand te slaan.

Voeg hierby ambulansman, natuurbewaarder, padbouer….

En al wat die meeste eintlik wou doen, was om te boer.

 

мультики трансформерлобановский александр дети

Maak 'n opvolg-bydrae