Verwelk die krieketblommetjies al weer?

Ek en my maat Wim was daardie swart dag in 1999 persoonlik op Edgbaston in Birmingham, toe menere Klusener en Donald ‘n breinfloute beleef het en uitgehardloop is met die laaste bal van die Krieketwêreldbeker 1999. Ek kon sedertdien nog nie besluit wat was erger nie: die skok langs die veld, of hoe die Aussie-ondersteuners ons buite die stadion getart het nie.

Steve Waugh en kie het toe al die Proteas se blommetjies as “chokers” bestempel. Tydens dieselfde wedstryd in Birmingham het Herschelle Gibbs, te vol selfvertroue soos gewoonlik, vir Waugh gevang maar toe die bal slordig weggegooi. Die skeidsregter het geoordeel dat Gibbs nie beheer oor die bal gehad het nie en Waugh was gevolglik nie uit nie. Waugh het toe vir Gibbs gesê: “You’ve just dropped the World Cup, mate.”

Waugh se uittartery is sedertdien telkens reg bewys. In 2003 het sersantmajoor Sean Pollock nie sy sakrekenaar byderhand gehad nie, en is die blommetjies deur Sri Lanka in Durban gepluk. Hoe minder ek skryf oor die rampspoedige halfeindstryd teen Australië in die Karibbiese See in 2007, hoe beter. Dit was asof ‘n skielike breinfloute wat die kolwers beetgepak het toe hulle almal uitgekom het en verwoed probeer slaan het.

Nietemin leer die blommetjies nie hulle les nie. Dit loop weer oor van die selfvertroue. Voor die aanvang van die huidige IKR se Kampioenetrofee, spog Dale Steyn ewe windgat dat g’n span in die toernooi die blommetjies se gelykes is nie. Sri Lanka het egter nie na Steyn geluister nie, en eerder Steve Waugh se woord daarvoor gevat. Dit was van die begin af ‘n slagting.

Die naatbouler Wayne Parnell is gestriem in sy 10 boulbeurte. Grootbek Steyn se syfers was nie juis waffers nie. Roelof van der Merwe het moedig probeer. Waar, o waar, was Morné Morkel? As ek op my huis se voorstoep staan, kan ek Supersportpark se ligte sien. Al wat my gisteraand so ‘n effe hoop gegee het, was die dreigende donderweer wat uit die weste aangekom het. Miskien sou Duckworth-Lewis die blommetjies wonderbaarlik red. Toe nie.

Wat is dit met die blommetjies dat hulle 435 lopies in die beste eendagwedstryd van alle tye kan aanteken, maar dat hulle g’n vermoë het om tydens kompetisies soos die Wêreldbeker hond haaraf te maak nie?

“Chokers”, inderdaad.

изготовление деревянных лестниц ценаФильчаков прокуратура харьков

Maak 'n opvolg-bydrae