Vuvuzela lei tot permanente oorskade

Image

Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Oudiologie, Carina Wolmarans, sê die vuvuzela het beslis 'n negatiewe uitwerking op mense. Kinders, sê sy, kan dalk nog herstel van die oorskade wat hulle met die geraas opdoen, maar volwassenes mag onherstelbare oorskade opdoen indien hulle aan die geraas blootgestel word.

Wolmarans het gereageer op die groeiende aantal versoeke wat daarop aandring dat die vuvuzela uit stadions gehou word.

Die Spaanse sokkerspeler Xabi Alonso sê die instrument is 'n algehele aandagafleier wanneer spelers op die veld moet konsentreer en dit doen niks vir die atmosfeer van die stadion nie.

Verskeie internasionale uitsaaijoernaliste, waaronder Duitsers, kla dat die aanhoudende geraas van die instrument by die Konfederasiebeker-toernooi dit onmoontlik maak vir luisteraars en kykers om hulle te hoor.

“Dit is irriterend en dis erger op televisie. Van my vriende wat nou die sokker kyk, vra my wat op aarde aangaan. Hulle dink hul televisies is stukkend,’’ het mnr. Arne Richter, joernalis van Deutsche Presse Agentur, ’n Duitse nuusagentskap, gister aan Beeld gesê.

Sepp Blatter, Fifa-president, het Woensdag gesê dis “onmoontlik’’ om dié “plaaslike klank’’ te keer toe ’n Hollandse joernalis hom gevra het of vuvuzelas volgende jaar verbied sal word.

“Daar is baie geraas by die stadion van hierdie spesiale trompette. Dit is ’n probleem vir televisie. Dit is egter ’n plaaslike klank. Dit is onmoontlik om so plaaslike klank te keer. Wanneer ons in Suid-Afrika is, is ons in Afrika. Dis lawaaierig en daar is energie, ritme en musiek. Ons moet aanpas,’’ het hy gesê.

Die Onafhanklike Demokrate het gesê daar is niks soos die vuvuzela om die Suid-Afrikaanse sokkerondersteuner se liefde vir die spel uit te druk nie.

Rich Mkhondo, die plaaslike reëlingskomitee se kommunikasiehoof, het Donderdag gesê hy hoop die vuvuzela bly.

“Dis ’n tradisionele, feestelike instrument. Ons respekteer dit. Daar is mense wat nie daarvan hou nie, maar ons het nog altyd gesê die wedstryde gaan lawaaierig wees.’’

Die gasheeruitsaaidiens, HBS, het nog geen amptelike klag oor die vuvuzela ontvang nie.

мебель дляФільчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae