AI se kritiek kan Westerse skenkers ontmoedig wat ’n demokrasie wil sien voordat hulle hulp ontsluit.
“Hoewel die vlak van politieke geweld aansienlik laer is vergeleke met verlede jaar, is die menseregtesituasie twyfelagtig en die sosio-ekonomiese toestande is nou haglik,” het Irene Khan, AI se sekretaris-generaal, gesê.
“Voortdurende en ernstige menseregteskendings, tesame met die mislukking om die hervorming van die polisiemag in te stel en die gebrek aan ’n duidelike verbintenis in sommige dele van die regering, is struikelblokke wat aangespreek moet word.”
Khan se besoek was die eerste deur ’n sekretaris-generaal van AI en die groep se enigste hoëvlakmissie in die laaste tien jaar van ekonomiese verval. Dit word gesien as ’n teken van politieke oopheid ná wat kritici as Robert Mugabe se verdrukkende eenpartybewind bestempel het.
Internasionale skenkers sê hulle moet nog oortuig word dat die nuwe eenheidsregering waarin Morgan Tsvangirai as premier dien nie net ’n voorwendsel is vir Mugabe (85) om sy byna drie dekades van beheer te verleng nie.
Khan het gesê dit lyk of daar geen dringendheid onder sommige regeringsleiers is om menseregte te ondersteun nie. “Woorde is nie met doeltreffende optrede opgevolg nie.”
Maar sy het gesê die somber beoordeling deur AI – wat Mugabe al dikwels gekritiseer het – is nie rede vir skenkers om die hulp te weerhou wat nodig is om Zimbabwe te red nie. Die Zimbabwiese regering het gesê dit sal R80 miljard kos om die land te herbou.
