Dié en talle meer skokkende feite oor misdaad teen kinders word Donderdag, 4 Junie deur Solidariteit Helpende Hand onthul met die bekendstelling van sy kindersmisdaadverslag getiteld “Die skandvlek van ons samelewing”.
Volgens dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van Helpende Hand, is daar nie net ʼn dringende behoefte om die probleem van misdaad teen kinders aan te pak nie, maar ook ʼn verantwoordelikheid. Die jong moordslagoffer Sheldean Human se pa, Wikus Human, het verlede jaar op 4 Junie die “Hoop vir oorwinning”-tuin vir alle kinderslagoffers van geweld in Suid-Afrika ingewy.
“By die inhuldiging is ʼn oproep op almal gedoen dat ons ʼn beter toekoms aan ons kinders verskuldig is en dit is juis wat nou gedoen moet word,” verduidelik Langner.
Helpende Hand het ook bevind dat daar ʼn geweldige tekort aan inligting oor misdaad teen kinders is. Volgens Langner het die studie bevind dat kinders toenemend aan seksuele vergrype, misdade en prostitusie blootgestel word, maar beklemtoon dat betroubare statistiek oor die probleem byna onbekombaar is.
Die studie bevat onder meer insette van kundiges in die veld – ware verhale van mense wat daagliks met gebroke kinders werk. “Dit is ʼn studie gebore uit die harte van kundiges en kinders.”
Beeld berig daar is net in Johannesburg alleen na raming sowat 10 000 kinderprostitute, volgens die Suid-Afrikaanse Beroepsvereniging oor die Misbruik van Kinders (Sapsac).
Beskikbare inligting dui daarop dat dit in Kaapstad, Durban en Port Elizabeth “ewe erg gaan”, het adv. Retha Meintjes SC, adjunkdirekteur van openbare vervolging en stigterslid van Sapsac, gesê.
Bloemfontein is glo een van die grootste fokuspunte van sindikate wat betref die handel in kinders vir seks en dwelmhandel.
Volgens Sapsac word meisies in Suid-Afrika vir tussen R2 500 en R12 000 verkoop. Daar is landwye netwerke van sindikate wat by kindermisbruik betrokke is, wat “prominente en skatryk” mense en selfs medici insluit.
Kinders so jonk as 10 jaar “word gewerf en aangewend vir seksuele misbruik deur volwassenes wat die sindikate betaal”. Sulke kinders verdien tussen R1 500 en R5 000 per dag vir die sakke van hul “hanteerders”.
Sedert die verskyning van MXit het die aantal kinderverdwynings “merkbaar” toegeneem.
Kinders wat weerstand bied, word volgens Sapsac gestraf deur “uitermatige fisieke mishandeling, selfs die dood, of deur dwelms en kos van hulle te weerhou”.
Die 43% van alle sake waarby Childline betrokke is, is dié van seksueel mishandelde kinders.
Me. Louise Aucamp, forensiese maatskaplike werker, het gesê kindermisdaadvlakke in die middel- tot hoë-inkomstegemeenskappe, waar albei ouers gegradueerdes is en hoë aansien het, het die afgelope twee jaar ontstellend toegeneem.
Helpende Hand se verslag is beskikbaar by www.kindermisdaad.co.za.
