TV-kyk skadelik vir taalontwikkeling

Om gedurig die TV in ’n huishouding met babas en kleuters aan te hê is sleg vir brein- en taalontwikkeling, het ’n onlangse studie bevind.

Televisie is sleg vir babas en kleuters se ontwikkeling omdat dit die aantal woorde wat kinders hoor en sê beperk, het ’n studie vandeesweek gewys.

“Hoorbare televisie verminder duidelik spraak by babas en hul versorgers binne die huishouding – en dit is moontlik skadelik vir ’n baba se ontwikkeling,” het prof. Dmitri Christakis, professor in pediatrie aan die Washington-universiteit en leier van die studie, gesê.

Die studie het bevind dat vir elke uur wat die televisie in so ’n huishouding hoorbaar aan is, die kinders tussen 500 en 1 000 minder woorde by die volwassenes hoor.

“Volwassenes praat sowat 941 woorde per uur. Ons studie het bevind dat volwassenes se woorde bykans heeltemal uitgewis word wanneer die kind ’n TV kan hoor,” sê Christakis.

“Hierdie bevindings verduidelik moontlik die verhouding tussen kinders se TV-blootstelling en vertraagde taalontwikkeling,” meen Christakis.

Hy het bygevoeg dat deurlopende blootstelling aan televisie moontlik ook vertragings van kognitiewe en aandagontwikkeling in kinders kan verklaar aangesien daar geglo word dat taalontwikkeling van kardinale belang vir vroeë breinontwikkeling is.

Die studie het 329 kinders tussen die ouderdom van twee maande en vier jaar betrek. Hulle moes spesiale frokkies dra waarin digitale opnemers vasgewerk was.

Die studie het oor sowat twee jaar gestrek. Die uitslae van die studie verskyn in die Junie-uitgawe van die mediese vaktydskrif Archives of Pediatrics and Adolescent Medicine.

дизельный передвижнойДанильченко Юрий прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae