Die Zimbabwiërs het almal voorheen onderdak gevind by die Johannesburgse sentrale Metodistekerk waar daar tans 2 000 van hulle landgenote in moeilike omstandighede woon.
Behalwe dat gesinne beknopte kamers en gange moet deel, slaap talle Zimbabwiërs reeds buite die kerk. Die kerk voorsien ook 'n maaltyd waarvoor die inwoners moet toustaan.
Vanweë die moeilike ekonomiese omstandighede wat in Suid-Afrika heers, voel plaaslike inwoners dat hulle met Zimbabwiërs moet meeding vir werk. Dit was ook een van die aanleidende oorsake vir die golf geweld teen buitelanders verlede jaar.
Yukiko Kumashiro van die Internasionale Organisasie vir Migrasie, wat Woensdag se repatriasie gereël het, sê om huis toe te gaan is die beste opsie.
Alhoewel 'n paar Zimbabwiërs van die geleentheid gebruik gemaak het wat die IOM aan hulle gebied het, stroom daar steeds talle van hulle landgenote oor die grens nadat Suid-Afrika visumvereistes opgehef het sodat dit makliker is vir hulle om hier te werk.
