Kommersiële banke gee nie noodwendig die voordele van laer rentekoerse deur aan die verbruiker nie, het die goewerneur van die Reserwebank, Tito Mboweni, Woensdagaand gesê.
Hy het by die Sake24-geleentheid in Kyalami, Johannesburg, waar die ekonoom van die jaar aangewys is, gepraat. Dit is die derde keer hierdie maand dat die goewerneur die plaaslike banke kritiseer.
"Dit lyk asof plaaslike banke hoër as prima vra in vergelyking met wat voorheen die geval was," het hy gesê. Mboweni sal Donderdag met banke vergader om die 3,5% verskil tussen die repokoers en die rentekoers wat banke hulle kliënte vra, te bespreek.
Mboweni, wat hoofsaaklik gisteraand met 'n groep ekonome gesels het, het ook verwys na die ernstige kwessies wat beleidmakers en voorspellers in die gesig staar.
"Die huidige finansiële krisis het ons almal gedwing om 'n groot herevaluasie van die manier waarop ons oor die algemeen die werkinge van die ekonomie gesien het, te maak.
"Die fundamentele verhoudinge en ekonomiese korrelasies wat ons voorheen as vanselfsprekend aanvaar het, word nou bevraagteken en dit het intense debat op feitlik alle gebiede in die ekonomiese diskoers ontlok in hierdie moeilike en turbulente tye."
In die Reserwebank se aannames in sy inflasiemodel, het die bank se sentrale beleidskomitee aangeneem tydens die Aprilvergadering dat die gemiddelde kontraktuele prys van olie in 2009 VS50 per vat sal wees en VS55 in 2010.
Hulle het aanvaar dat groei in Suid-Afrika se handelsvennote met 2% sal afneem in 2009 en met 'n halwe persent sal toeneem in 2010.
Die beleidskomitee het geadministreerde prysinflasie op 2% bereken vir 2009 en 9,75% vir 2010, het Mboweni gesê.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.