Die aanval van me. Helen Zille vandag in haar weeklikse nuusbrief (SA Today) op myself en die VF Plus na aanleiding van die uitlatings gister deur mnr. Jacob Zuma oor Afrikaners is gebaseer op leuens en onwaarhede. Die VF Plus het nie die vergadering tussen die ANC en verskeie Afrikaner-organisasies bygewoon nie. Ook het nie die VF Plus of ekself enige verklaring uitgereik in reaksie daarop waarin die standpunte volgens me. Zille verwelkom is nie.
Dit is skokkend dat me. Zille van blatante leuens gebruik maak om haar aanval op myself en die VF Plus te regverdig. Sy skuld die VF Plus, myself en die kiesers van Suid-Afrika ‘n verskoning.
Van die skokkende onwaar-stellings wat Zille maak is onder andere die volgende:
1. “die VF Plus soek toenadering by die ANC eerder as om die ANC te konfronteer” – dit is leuens. Het die VF Plus toenadering tot die ANC gesoek toe die VF Plus die ANC-regering grondwethof toe geneem het om te baklei vir die stemreg van alle SA Burgers in die buiteland? Of toe die VF Plus Kieshof toe gegaan het om Winnie Mandela uit die Parlement te hou? Die antwoord is nee.
2. “die VF Plus smeek vir die regte van kiesers by die ANC eerder as om daardie regte op te eis” – dis ook ‘n leuen. Die sentrale tema van die VF Plus in hierdie verkiesing is juis om duidelik te sê dat die VF Plus opstaan vir jou regte. Kiesers sien dit en glo dit en juis daarom is die steun van die VF Plus besig om te groei.
Dit is jammer dat die DA onder leiding van me. Zille nou weer soos met elke verkiesing begin om ander opposisiepartye eerder as die ANC aan te val. Dit is ‘n kortsigtige taktiek wat getuig van die opperste opportunisme. Me. Zille sou nie vandag die Burgemeester van Kaapstad gewees het of enige koalisie in Kaapstad of elders gelei het indien dit nie vir die ander opposisiepartye was wat sy nou deurlopend aanval en verdag maak nie. Kiesers moet kennis neem van hierdie oneerlikheid en opportunisme.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.