Ná ’n deeglike ondersoek het die spesiale ondersoekeenheid (SOE) gister gesê dat duisende staatsamptenare onwettige huissubsidies ontvang.
Mnr. Faiek Davids, adjunkhoof van die SOE, het gesê sowat R26 miljoen se onwettige huissubsidies is tussen Mei 2007 en Maart vanjaar aan 1 962 staatsamptenare oorbetaal.
“Die werkers was nie geregtig op die subsidies wat hulle ontvang het nie,” het hy gesê.
Die ondersoek het aanleiding gegee tot 724 strafregtelike vervolgings en 634 tugverhore.
Die SOE het ’n ooreenkoms met van die amptenare aangegaan om die geld terug te betaal. As dit gebeur kan die SOE hopelik R18 miljoen terugkry.
