Geskiedenis is gemaak Woensdag in die afgeleë area van Msinga, toe hofbedrywighede in 'n saak in sy geheel in Zoeloe hanteer is, het die Mercury koerant berig.
Die landdroshof daar is gekies as afskoppunt vir 'n projek van die departement van justisie om die gebruik van inheemse tale aan te moedig.
Tans word meeste hofverrigtinge in Engels aangebied en vertaal in Afrika-tale.
Die departement van justisie glo egter nie dat dié gebruik van Engels inpas by sy oogmerk van "toegang tot die reg vir almal" nie.
Bridgette Shabalala, die hoof van KwaZulu-Natal se departement van justisie is aangehaal dat sy gesê het die Msingahof is in 'n landelike gebied waar die meeste mense Zoeloe praat.
"Die projek sal mense wat nie Afrikaans of Engels kan praat of verstaan nie, in staat stel om gelyke toegang tot die reg te verkry deur hofverrigtinge meer toeganklik te maak vir die gewone burgers…"
Tale in die hof het verlede jaar die nuus gehaal toe 'n landdros by Scottburgh aangedring het om met verrigtinge voort te gaan met geen vertaler teenwoordig nie.
Joernaliste wat teenwoordig was het gekla, maar landdros Themba Ndlovu het gesê hy sal nie om verskoning vra nie, aangesien Zoeloe ook 'n amptelike taal was.
