Die munisipaliteit van Kaap Agulhas was Dinsdag besig om die skade te assesseer wat deur die oornag fratsvloede veroorsaak is in die Kaap Agulhas en Struisbaai omgewings.
Burgemeester Richard Mitchell het gesê skoonmaakpogings is aan die gang. 'n Span rampbeheerbeamptes is gestuur om die skade in die dorp te kom bepaal.
Swaar reën het baie huise wat in laagliggende gebiede lê oorstroom. Omtrent 110 inwoners van die Oukamp informele nedersetting wie se huise oorstroom is en vol modder was, word in die gemeenskapsaal geakkommodeer.
"Noodskuiling en voorrade word gereël en etes sal voorsien word aan die mense wat geraak word," het die burgemeester gesê.
Die hoof van Overberg se brand- en rampbeheer, Reinard Geldenhuis, het gesê twee brandweerwaens is na die gebied gestuur om vars water te voorsien aan inwoners, omdat die dorp se watervoorsieningsnetwerk beskadig is.
'n Rampkoördinasiesentrum is opgestel om die wat haweloos gelaat is te help.
Inwoners wat hulp nodig het, kan die hulplyn kontak by die nommers 028-435-6538 of 028-435-6820.
