Erge storms in KwaZulu-Natal kan voorkom word indien 2009 'n jaar gemaak word van hernude sorg vir die omgewing, het die LUR vir omgewingsake, Mtolephi Mthimkhulu, Donderdag gesê.
"Oor die laaste twee maande was KwaZulu-Natal die speelgrond vir slegte weer as gevolg van die globale weersveranderinge."
Hy het gesê die veranderinge is 'n direkte gevolg van die "onvriendelike manier waarop ons die omgewing hanteer. Dit is as gevolg van ons eie nalatigheid…"
Sy toespraak by die Hilton-hotel in Durban het gekom nadat verskeie swaar donderstorms chaos in verskeie dele van die provinsie veroorsaak het.
Sedert die begin van die jaar is daar reeds 20 mense dood in die storms.
Sommige van die slagoffers is deur weerlig getref terwyl hulle in hul wonings was.
Mthimkhulu het gesê dat aardverwarming die grootste bedreiging is wat nie net Suid-Afrika nie, maar die hele wêreld bedreig, asook elke deel van die samelewing.
"Wanneer dit swaar reën, sal ons kwesbaar wees vir siektes soos malaria, wanneer daar vloede is sal ons landbougrond vernietig word, wanneer daar droogte is sal daar armoede wees… swaar storms, swaar reën, wind.. .kan voorkom word slegs indien ons almal hierdie 'n jaar van hernude sorg vir die omgewing maak."
Hy het almal aangemoedig om klein dingetjies te doen soos om bome aan te plant om die wêreld te verander.
"Moet net nie bloekombome of dennebome plant nie, plant vrugtebome soos lemoene, mango's en avokado's."
Hy het gesê dat bome ook soos windbrekers werk gedurende storms.
Mthimkhulu het gewaarsku daarteen om bloekombome te plant, omdat hulle baie water nodig het.
