Agt mans en 'n vrou is dood en nog agt ernstig beseer in 'n kop-aan-kopbotsing tussen twee minibustaxi's in Phokeng naby Rustenburg Dinsdagnag, het die Noordwesdepartement van vervoer gesê.
"Die ongeluk was tussen 'n taxi wat mense na die omliggende dorpies geneem het en 'n Coin-sekuriteitsvoertuig wat op pad was na Rustenburg," het woordvoerder James Moche in 'n verklaring gesê.
"Dit wil voorkom asof die bestuurder van die minibus van die sekuriteitsfirma beheer oor die voertuig verloor het in die reënerige toestande en kop aan kop gebots het met die taxi."
4 Mense in die sekuriteitsfirma se bussie is gedurende die ongeluk uit die voertuig geslinger. Drie van hulle is dood en die vierde het ernstige beserings opgedoen.
"Die voertuig het aan die brand geslaan en is totaal vernietig."
Nog ses mense in die Quantum-taxi is dood. Die bestuurders van beide voertuie is onder dié wat dood is.
Die agt wat beseer is, is na die Job Tabane-hospitaal op Rustenburg geneem.
Die Noordwes-LUR vir vervoer Phenye Vilakazi het die ongeluk as grusaam beskou en sy meegevoel aan die families van die oorledenes oorgedra. Hy het ook wense vir vinnige beterskap aan die beseerdes uitgespreek.
