Arm huishoudings moet van geleenthede gebruikmaak wat die regering daarstel om ongelukke soos die tragiese dood van 'n 2-jarige seun in Atteridgeville te vermy, het Pretoria se burgemeester, Gwen Ramokgopa, Donderdag gesê.
In 'n verklaring het die stad gesê Ramokgopa het die familie van Mduduzi Buthelezi Donderdag besoek nadat hy Saterdagaand noodlottig geskok is, klaarblyklik nadat hy aan 'n stoof geraak het wat nie elektries geaard was nie.
"Ons het hierheen gekom om ons meegevoel oor te dra en simpatie te betuig aan die familie wat 'n kind verloor het," het Ramokgopa gesê.
"Wat dit tragies maak, is dat dit voorkom kon word."
Ramokgopa het gesê die familie kon hulp gekry het van die stad se hulpprogram vir die armes – 'n program wat hulp verleen aan families wat minder as R1700 per maand verdien.
Volgens die program kwalifiseer gesinne vir 12 kiloliter water en 100 kilowatt elektrisiteit gratis per maand.
Daar word beweer dat die moeder se oom die elektrisiteit na die huis verskeie kere onwettig verbind het nadat die stad se elektrisiteitsafdeling dit van die netwerk verwyder het.
