Ek wil sommer hier ernstig beswaar aanteken teen die plasing van 'n brief van Sydney Gregan van die Afrikaner Voksparty. As 'n "liberale demokraat" is ek sterk en driftig ten gunste van die vryheid van spraak en mening vir almal – behalwe vir diegene wat dit nie vir ander gun nie. Gaan kyk gerus na die jongste uitgawe van Gregan se party se elektroniese nuusblad, Volkstem, en die liederlike, totaal ongegronde aanval op Radio Pretoria wat daar sommer as "'n Pro-ANC-verkiesingsagent" bestempel word – en dit blykbaar omdat Radio Pretoria soms steun vir die VF+ laat blyk. En in Gregan se brief op die Praagblad word enigeen wat nie voldoen aan sy vereistes nie, skynbaar nie aanvaar as 'n Afrikaner nie. Jy stem saam met hulle, jy aanvaar hulle sieninge en beleid of jy is 'n verraaier. Aitsa!
Ek is ook 'n groot voorstander van 'n eie Afrikanertuisland – hoe klein ook al, maar ek pleit nou al dat indien dit eendag bereik sou word (helaas, seker nie in my tyd nie) moet Gregan en sy party uit daardie gebied verban word en gedwing word om in "swartland" te bly. Sulke bekrompe, onverdraagsames hoort nie in die Afrikanervolk nie – gewis nie as leiers nie.
