Die fout wat D.H. Fourie in sy brief Wie is die sogenaamde 'Afrikanerleiers'? maak, is dieselfde as wat die VF+ maak. As jy deelneem en deel is van ‘n parlement en proses met 'n Afrikasosialistiese, sogenaamde demokratiese staat, aanvaar jy die seggenskap van ‘n party soos die ANC en jy aanvaar die nuwe Suid-Afrika. Daarmee gee jy in beginsel erkenning aan ‘n swart meerderheidsregering, die Handves van Menseregte, die huidige grondwet en “nie-rassigheid.” D.H. Fourie is neerhalend oor regse Afrikaners. Linkses het regse Afrikaners ook baie al afgekraak, gekasty en verneder – die gebruik van woorde soos "verkramptes" en "rassiste" het al 'n kenmerk van die linkse media geword.
Bogenoemde is alles wat die Afrikaner marginaliseer. Die gedurige herinnering aan die Afrikaner dat hy moet skuldig voel oor die verlede en apartheid is eintlik die wig wat tussen blanke Afrikaners ingedryf word; ek verwys na die Afrikaner as blanke. Op alle gebiede – sport, godsdiens, ekonomie, kultuur, politiek – word ons gedurig daaraan herinner hoe verkeerd en "onmenslik" dit was. Linkses onder Afrikaners sê ons moet versoen. Versoen? Beteken dit om op die plaas of in die stad vermoor te word of op grond van velkleur nie 'n werk of besigheid te verkry nie?
Dat die KVP of COPE die antwoord is, betwyfel ek. Weereens soos met KODESA, word Afrikaners en ander blankes mislei. Dat ‘n ander "nie-rassige" party ons van onderdrukking gaan verlos, is ‘n leuen. In die eerste plek is COPE net nog 'n linkse party wat die regte geluide maak voor die verkiesing om ook blanke stemme te werf. Daar is absoluut geen waarborg dat hulle hul verkiesingsbeloftes gaan nakom nie.
Die Afrikaner moet lig loop vir wolwe in skaapsklere al is hulle ook blank. COPE dra nie die Afrikaner se belange op die hart nie. 'n Leier soos Lekota kan jy in elk geval nie vertrou nie – sy ampstermyn as minister van verdediging laat veel te wense oor. COPE is net nog ‘n "reënboognasie"-party wat die ANC-resep volg soos voor die '94-verkiesing en ná Mandela se ampstermyn verstryk het.
Die Afrikaner sal weer 'n ware leier kry, dit is seker.
