Amerika se minister van buitelandse sake, Gondoleezza Rice, het Maandag gesê dat sy met Amerika se bondgenote gaan praat om bykomende bevriesing van bates en ander sanksies teen president Robert Mugabe van Zimbabwe in te stel.
"Ek gaan met ons bondgenote, veral sommige Afrikalande en Brittanje praat en ons sal sien," het Rice in 'n AFP-onderhoud gesê toe sy gevra is of die VN steeds sanksies kan instel.
"Ek dink dit is hoog tyd dat die internasionale gemeenskap sanksies teen die bewind moet opskerp," het Rice gesê nadat die VN-veiligheidsraad weer nie daarin geslaag het om op te tree by die vergadering wat sy verlede week bygewoon het in New York nie.
"Ek weet nie hoe lank die mense dit nog kan laat aanhou onder die voorwendsel dat dit 'n binnelandse aangeleentheid is nie. Want dit is nie," het Amerika se hoofdiplomaat gesê.
"Dit is duidelik dat dit probleme oor die grense heen skep en selfs al was dit 'n binnelandse aangeleentheid, is dit wat gebeur met die mense van Zimbabwe nie verskoonbaar nie," het sy bygevoeg.
"Ons (Amerika) het wel sommige bates bevries soos u weet en daar is samesprekinge om te kyk om sommige daarvan multilateraal te maak," het Rice gesê toe sy oor moontlike optrede gepols is.
"Ons sal kyk daarna," het Rice bygevoeg.
