Die Swart Prokureursassosiasie (SPA) het hulle besorgdheid oor die nuutverkose KVP-president Terror Lekota se uitlating oor regstellende aksie uitgespreek en dit as 'n "bedreiging" bestempel.
Lekota het gister tydens die party se inlywingskongres gesê die KVP sal verbind bly tot die grondwet en is toegewy aan die beleid van regstellende aksie.
Lekota het egter verklaar dat regstellende aksie nie op grond van ras geïmplementeer sal word nie.
Die president van die SPA, Andiswa Ndoni: "Dié standpunt vertoon 'n gebrek aan begrip vir die bestaansrede van indiensnemingsgelykheid en Breëbasis-Ekonomiese Bemagtigingsbeleide.
"Albei hierdie beleide is bedoel om swart mense te bemagtig om as gelykes aan die korporatiewe wêreld en die ekonomie deel te neem."
Hy sê enige iemand wat daartoe verbind is om uitvoering te gee aan die Menseregtehandves in die grondwet, sal besef dat swartmense, insluitende swart beroepslui, nog steeds benadeel word in die korporatiewe wêreld en in die ekonomie as 'n geheel.
"Die syfers wat jaarliks vrygestel word deur die Indiensnemingsgelykheidskommissie spreek vanself. Enige ander grondslag as ras is nie werkbaar nie omdat dit presies vanweë rassediskriminasie van die verlede is dat die demografie van die land nie in die werksplek weerspieël word nie."
Ndoni sê volle en doeltreffende deelname van swartmense aan die ekonomie kan net bereik word deur die versnelling van beide beleide.
Hy sê die SPA sal sy lede en ander broederorganisasies in die nuwe jaar konsulteer oor hoe om die beste op hierdie "bedreiging" te reageer.
"Die KVP is skynbaar vasberade om die bietjie vooruitgang wat swartmense gemaak het, om te keer om blanke stemme te trek," sê Ndoni.
"Dit is kortsigtig en nie in pas met die aspirasies van swartmense en die gelykheidsvoorskrifte van die Grondwet nie."
