Amerikaanse ambassadeur vaar uit teen Mugabe

Die Amerikaanse ambassadeur in Zimbabwe, James McGee, het Sondag erge kritiek uitgespreek teen Robert Mugabe omdat hy die land se skaars hulpbronne vermors terwyl miljoene mense in erge armoede te midde van 'n cholera-epidemie verkeer.

McGee het in Suid-Afrika se Sunday Times geskryf dat Zimbabwe se regering misluk het om die mees basiese pligte na te kom en vir sy mense te sorg terwyl die internasionale gemeenskap die land met hulp moet staande hou.

"Wat doen die Mugabe-regering? Hulle gaan en koop honderde motors, sodat elke minister en goewerneur meer as een voertuig kan hê en hulle koop plasmatelevisiestelle vir die regters."

"Pleks daarvan dat hulle skaars hulpbronne gebruik om watersuiweringschemikalieë te koop om die cholera te keer, manipuleer hulle die geldeenheid om persoonlike wins te maak," het hy geskryf.

Amper 750 mense is dood in die cholera-epidemie wat die mees onlangse krisis is wat dié Afrikaland getref het, waar die laaste skatting in Julie inflasie op 231 miljoen persent geplaas het.

Na raming sal sowat 5 miljoen mense voedselhulp nodig hê in die komende maande.

Internasionale versoeke dat Mugabe moet uittree, neem toe ná 'n maandelange politieke skaakmat ná die Maartverkiesings, en die mislukking van strydende politieke partye om konsensus oor 'n regering van nasionale eenheid te bereik.

Volgens McGee het Amerika sowat 70% van die voedselhulp wat in Zimbabwe versprei is voorsien en meer as 218 miljoen dollar aan humanitêre hulp oor die laaste jaar voorsien.

Die internasionale gemeenskap word gedwing om die leiding te gee as gevolg van Mugabe se kriminele nalatigheid, het hy gesê.

"Die Mugaberegering behoort die boeke oop te maak en aan die wêreld te wys hoeveel geld bestee word op die mense van Zimbabwe en hoeveel op luuksevoertuie," het hy bygevoeg.   

лосины девочка 7 летлобановский класс

Maak 'n opvolg-bydrae