Die Verenigde State het Donderdag gewaarsku dat die cholera-epidemie in Zimbabwe erger word en aangekondig dat miljoene dollar bestee gaan word om die siekte te beveg.
Amerikaanse amptenare het 'n stelling deur president Robert Mugabe dat die epidemie oor is, verwerp. Die Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling het aangekondig dat hulle $6,2 miljoen gaan uitgee om die siekte te beveg, tesame met die $4,6 miljoen wat reeds bestee is.
"Wat ons nie sien nie, is dat die uitbraak opgehou het," het Henrietta Fore, hoof van USAID gesê. "Ons het tans 'n verslag wat aandui dat daar amper 800 mense dood is en 16 000 mense besmet is met die siekte. Dit is 'n cholera-uitbraak wat sal aangaan en wat dringend is."
Fore en die Amerikaanse ambassadeur in Zimbabwe, James McGee, het in Washington met verslaggewers gepraat oor die dringende toestand in Zimbabwe, waar watervoorsiening, sanitasie, staatsgesondheidsdienste en onderwys ineengestort het nadat die land se ekonomie ingegee het ná agt jaar se hiperinflasie en wanbestuur.
