Laat ons ontkom aan die taalkundige volksrepubliek

08:43:46 Mnr. Thys Human maak in 'n lesersbrief beswaar teen ons gebruik van die term "Volkskongres" vir die nuwe politieke party wat onder die Engelse naam "Congress of the people" gestig is. Hy meen die woord "volk" kan nie as ekwivalent van "people" gebruik word nie.

Maar die geykte term "people" soos dit in Suid-Afrika gebruik word, het tog duidelik sy oorsprong in die linkse en sosialistiese begrip wat sinoniem met die proletariaat of werkersklas sou wees. Dat die leierskap van die nuwe swart party in die persone van mnre. Shilowa en Lekota allesbehalwe die werkersklas verteenwoordig is nie ter sake nie. Dit gaan tog immers hier om semantiek en die betekenis wat die naamgewers van die party wil oordra, as synde 'n party met 'n breë appèl op die swart massa oftewel die "people".

Wat anders is die "people" as "die volk"? Vroeër jare is daar in Afrikaans ook van "werksvolk" gepraat wanneer na plaaswerkers verwys word. Die woord leen hom dus teen meer as betekenis of nuanse in Afrikaans.

Al die jare praat ons in Afrikaans boonop van die "Volksrepubliek van China", waarmee kommunistiese China – teenoor die nasionalistiese "Republiek van China" – bedoel word.

Ook in Nederlands word die term "volksrepubliek" vry algmeen gebruik om 'n sosialistiese of kommunistiese land aan te dui. Volgens die Nederlandse Wikipedia: "Een volksrepubliek of volksdemocratie (andere namen Socialistische Republiek, Socialistische Volksrepubliek of Democratische Volksrepubliek) is een term waarmee communistische staten worden aangeduid of zichzelf aanduiden." Ook in 'n ander verwante taal, Duits, word die term "Volksrepublik" op presies dieselfde wyse gebruik.

Ons kan dus min fout vind met die term "Volkskongres" wat dieselfde linkse en kommunistiese konnotasies van "volksrepubliek" getrou weergee.

Die verskynsel dat daar geen Afrikaanse ekwivalente vir sekere politieke partye gebruik word nie, is onses insiens kommerwekkend. Indien ons na die nuwe party slegs op sy Engelse naam behoort te verwys, moet ons dan insgelyks van die "Democratic Alliance" begin praat? Immers beskik die DA ook oor 'n Engelse leier of leidster en bedien die party hom meesal in die parlement van Engels, wat sekerlik 'n argument daarvoor skep dat die DA se naam ook nie "vertaal" behoort te word nie.

En wat van buitelandse politieke bewegings? Is ons veronderstel om na mnr. Barack Obama van die "Democratic Party" te verwys en na sy opposisie as die "Republicans"? Sou Gordon Brown in die VK se party voortaan in Afrikaans die "Labour Party" heet, pleks van die Arbeidersparty?

Wat die ANC en die SAKP betref, heers 'n volslae anomalie. Die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty – wat sonder twyfel 'n "Volksrepubliek van Suid-Afrika" nastreef – beskik oor 'n Afrikaanse naam, terwyl sy alliansievennoot, die ANC, slegs 'n Engelse naam het.

Praag het reeds by tye die term ANK, as afkorting van "Afrika-Nasionale Kongres", op ons webblad gebruik. Sommige van ons rubriekskrywers het ook daarvan gehou en wend dit konsekwent in hul kommentaarstukke aan.

Benewens die verlies van feitlik alle kulturele en opvoedkundige instellings – veral universiteite – heers daar vandag feitlik 'n monopolie sover dit die gedrukte Afrikaanse media betref wat deur een, nogal linkse, mediagroep beheer word. Vir alle praktiese doeleindes beheer Nasionale Pers Afrikaans. Omdat Naspers se koerante besluit het dat daar op Engels na die nuwe Volkskongres verwys moet word, is ons veronderstel om hul voorbeeld te volg.

Die Akademie en die Taalkommissie beskik oor weinig invloed oor sulke sake en bemoei hom nie amptelik met "taalpolitiek" nie, volgens navrae wat ons reeds in dié verband aan die Taalkommissie gerig het.

Praag se standpunt is eenvoudig: Ons taal is nie 'n allegaartjie van Engels soos Nederlands waar daar gecomputer en gedownload en gemail word nie. Die sukses van Afrikaans sedert die Patriotbeweging was juis dat ons op soveel terreine skeppend te werk gegaan het en 'n skatkis van eie vakkundige terme geproduseer het. Die gedagte dat Afrikaans nie in staat is om die party van mnre. Lekota en Shilowa te benoem nie, is eenvoudig absurd.

In dié verband behoort die term "Volkskongres" deur die alternatiewe media gepropageer te word, as Afrikaanse ekwivalent vir die Engelse leenwoord wat deur Naspers in ons kele afgedruk word.

Laat ons ontkom aan die taalkundige volksrepubliek wat reeds heers en waar Engels, die staatstaal en taal van die ANK, die SAKP en hul splintergroepe, as de rigueur aan ons voorgehou word. Kom ons gebruik Afrikaanse name en politieke terme, selfs vir die heersende ANK.

Immers toon dié taalkundige rebellie dat ons nie gediend is met alles wat die ANK en die polities korrekte media aan ons opdis nie.

Wat dink u? Gee vir ons u mening by briewe@praag.co.za. Stem ook in ons meningspeiling oor watter naam vir die nuwe swart party gebruik behoort te word (hiernaas aan die regterkant).mobile casino freeлобановский александр компромат

Maak 'n opvolg-bydrae