In ‘n vertroulike dokument aan die burgemeesterskomitee het die stad gesê dat hulle aan Jonas sewe maande se salaris sal betaal, tesame met enige verlof wat aan hom verskuldig is.
Dit is stappe in ‘n poging om onnodige uitgawes en vernedering te spaar indien hy dissiplinêr verhoor moet word en in diens moet bly terwyl sy verhoor aan die gang is.
Die debakel omtrent Jonas het die stad se beeld, en dit van die metropolisie skade aangedoen, en enige uitgerekte aksie teen hom kan dienslewering benadeel en verdere negatiewe publisiteit veroorsaak.
Verder het die vertrouensverhouding tussen die Stad Kaapstad en Jonas en die publiek onherstelbaar afgebreek.
Die skikking is deur ‘n onafhanklike arbeidsreg-spesialis en onderhandelaar, Sarah Christie opgestel. Die volle burgemeestersraad sal die finale seggenskap hê wanneer hulle volgende Woensdag vergader.
Jonas het aan ‘n dagblad gesê dat hy net ‘n prokureur gekry het om namens hom ‘n skikkingsooreenkoms te beding, maar dat hy nie self met die onderhandelinge betrokke was nie. Hy het gesê dat hy in rou is oor die dood van ‘n familielid en dat hy volgende week aandag aan die saak sal gee.
Jonas is sedert 22 Augustus met volbetaalde verlof, nadat die dagblad onthul het dat hy in Carletonville streekshof klagte van bedrog en vervalsing in die gesig staar wat te doen het met die beweerde valse omskakeling van ‘n militêre bestuurslisensie na ‘n siviele ekwivalent.
Na verwagting moet hy vroeg volgende maand weer in die hof moet verskyn.
Jonas, wat voorheen ‘n generaal in die weermag was, is sedert 2005 die metropolisie hoof in Kaapstad.
Pieter Cronje, die woordvoerder vir Stad Kaapstad, het net gesê dat die partye in vertroulike samesprekinge is, en dat Jonas geskors sal bly tot die gesprekke gefinaliseer word. Na verwagting behoort die samesprekinge teen die einde van die maand afgehandel te wees.
Die stad het beplan om Jonas dissiplinêr aan te kla vir die swak manier waarop hy die stad verteenwoordig het op die vergadering met die polisiekommissaris, en die manier waarop hy planne van die metropolisie in slegte lig gestel het.
Deur aan hom ‘n skeidingspakket aan te bied, voel die stad dat hulle dissiplinêre verhore wat uitgerekte regsake insluit, kan vermy. Na raming kan ‘n dissiplinêre verhoor die stadsraad sowat R600 000 kan kos, en heelwat meer in regskoste indien die saak deur Jonas teengestaan word.
