Tergende vrae rondom ISIS-werwing

Hoe bespreek en betaal ‘n skoolmeisie van 15 plek op ‘n buitelandse vlug om by ISIS te gaan aansluit?

Dié en ander tergende vrae is geopper nadat ‘n vyftienjarige gereed was om ‘n British Airways-vlug in Kaapstad na haar bestemming te neem.

Yusuf Abramjee, die hoof van Crime Line, het gesê die meisie het ‘n vlug na Saoedi-Arabië bespreek.

Die meisie van Kenwyn is Paassondag gekeer om van Kaapstad na O.R. Tambo internasionale lughawe te vlieg volgens David Mahlobo, minister van staatsveiligheid.

Mahlobo het bevestig dat die meisie laat Sondagmiddag van ‘n British Airways-vliegtuig verwyder is waar sy in die sakeklas gewag het dat haar vlug opstyg.

Sy het nege uur voor die vlug uit haar huis verdwyn maar haar grootouers het eers Sondagoggend onraad bemerk.

Die polisie en die minister van staatsveiligheid is net betyds van haar verdwyning in kennis gestel voordat sy die land kon verlaat.

Bewysstukke wat in haar kamer gevind is, dui daarop dat sy geld oorgeplaas het en dat sy op die internet in kontak was met ISIS-werwers.

Abramjee en Mahlobo het aan ANA bevestig dat die meisie Maandag in die sorg van haar ouers geplaas is.

Die verdagte omstandighede rondom haar poging om alleen ‘n vliegtuig te bestyg wat bestem is vir Saoedi-Arabië laat talle vrae oor hoe British Airways se besprekingskantoor aan ‘n minderjarige ‘n internasionale kaartjie verkoop het.
 
Onder normale omstandighede moet ‘n tiener met ‘n wettige voog na die buiteland reis.
 
“Nee, dit is nie net ‘n wettige voog nie, net iemand wat verantwoordelik is,” het die besprekingsbeampte van British Airways by navraag gesê.
 
“Daardie persoon sal die nodige vorms teken namens die minderjarige, asook besonderhede van ‘n verantwoordelike volwassene wat die minderjarige sal afhaal by die bestemming.
 
“Hulle moet dan ‘n fooi van $150 betaal.”
 
Besoekers het ‘n visum nodig om na Saoedi-Arabië te reis, behalwe passasiers wat dieselfde of ‘n eerste aansluitingsvlug binne 18 uur haal.

Volgens die ouers sou die meisie na Turkye reis om by die rebelle in Sirië aan te sluit, het IFS berig.
 

One thought on “Tergende vrae rondom ISIS-werwing”

  1. Hoe bespreek en betaal ‘n skoolmeisie van 15 plek op ‘n buitelandse vlug om by ISIS te gaan aansluit? Met geld van Ronnie Kasrils se geheime fonds natuurlik. En die vriendelike samewerking van British Airways, altyd voorkeur diens vir wit weduwee terroriste en ISIS volgelinge wêreldwyd.

Maak 'n opvolg-bydrae