Warm weer duur voort

Die Suid-Afrikaanse Weerburo sê warm weerstoestande gaan voortduur in die grootste deel van die sentrale binneland met ‘n hittegolf wat later vandeesweek in die noord-oostelike deel van Noordwes, dele van Gauteng en die westelike deel van Limpopo sal heers.

‘n Weervoorspeller sê egter die warm temperature in die res van Noordwes, die Vrystaat en Noord-Kaap kwalifiseer nie as ‘n hittegolf nie.

Volgens haar sal temperature tussen 36°Celsius en 38°Celsius wissel by Zeerust in Noordwes waar die hittegolf van Donderdag tot Saterdag sal duur. Sy sê gemeenskappe moet versigtig wees in die bloedige hitte.

Moloabi sê daar is van Donderdag tot Sondag ‘n 30% kans op reën in Noordwes en die Vrystaat, terwyl daar teen Saterdag en Sondag ‘n 60% kans in die oostelike deel van die Vrystaat is.

Volgens haar is daar vanmiddag in die sentrale deel van die Vrystaat ‘n moontlikheid van reën, met ‘n wolkband wat van die verre oostelike deel van die Noord-Kaap by Kimberley deurbeweeg.

One thought on “Warm weer duur voort”

Maak 'n opvolg-bydrae