Heath het aan die Mail & Guardian gesê dat regter Chris Nicholson se uitspraak prima facie getuienis van die oortredeings van die Nasionale Vervolgingsgesagwet bevat deur die drie.
Nicholson het bevind dat die besluit om Zuma te vervolg ongeldig was. Heath het gesê dat Suid-Afrikaners beskerm behoort te word teen die "sistematiese misbruik van staatsmiddele deur die president en sy handlangers soos in die uitspraak vervat". Hy het ook die NVG se besluit om teen die uitspraak te appelleer, gekritiseer.
Hy het bygevoeg dat die NVG wat deur senior advokate Billy Downer en Wim Trengove verteenwoordig word, lankal reeds in die bek geruk moes gewees het met hulle stroom-op gedrag. Dit is "ongelooflik" volgens hom dat twee sulke senior regslui nie bewus kon gewees het van prosedurale foute nie.
