President Clinton het die Community Redevelopment Act, 'n wet uit die Carter-era om huiseienaarskap vir minderhede toeganklik te maak, weer opgediep en afgestof. Die ideologies gedrewe sosiale-ingenieursprojek om huislenings aan veral swartes beskikbaar te stel in die negentigerjare het net soveel bygedra om die huidige krisis te veroorsaak as Wallstraat se beweerde gierigheid.
Clinton se ondersteuners wat jare lank vir goedkoop behuising geagiteer het gaan nou die Amerikaanse belastingbetaler miljarde dollar uit die sak jaag. Die oorywerige regulering het daartoe gelei dat die risiko vanweë die politieke retoriek van medemenslikheid en "omgee" verplaas is na die instansies wat die geld uitgeleen het.
