Om dan boonop die rassekaart te speel deur te sê dat die kritiese vrae van aandeelhouers 'n rassemotief sou hê, is heeltemal verregaande.
Toe Mboweni – wat in die vakbondwese opgang gemaak het – destyds as goewerneur van die Reserwebank aangestel is, het heelwat wenkbroue gelig, want hy het kwalik oor die ekonomiese kennis of lakoniese rustigheid wat gewoonlik met sentrale bankiers geassosieer word, beskik.
Intussen het die media Mboweni egter opgebou as iemand van statuur en gesag, amper asof hy sy tande by die voormalige Duitse Bundesbank geslyp het.
Gister se vertoning het egter laat blyk dat daar agter die fasade van Reserwebankgoewerneur baie min grasie en oordeelsvermoë skuil. Soos Mugabe, is Mboweni net nog 'n Afrikadiktator wat nie daarvan hou om vrae te beantwoord nie.
Te midde van die huidige globale finansiële krisis, kan dit Suid-Afrikaners min vertroue in die finansiële stelsel gee indien die hoof van ons sentrale bank homself in die openbaar oorgee aan uitbarstings van kinderlike woede en outokratiese gedrag.
Indien Mboweni nie eens aandeelhouers kan hanteer nie, hoe op aarde gaan hy 'n moontlike krisis aanspreek waarin die publiek se spaargeld by 'n groot bank of verekeringsmaatskappy, of dalk ons geldeenheid se waarde, in die weegskaal mag wees?
Mboweni het gister sy reputasie dermate geskaad dat mens net kan hoop dat hy vroeër sy uittrede aankondig as wat hy blykbaar beplan.
Nooit weer moet die Reserwebank se goewerneur 'n regstellende-aksie-aanstelling wees nie. Die goewerneur moet bo alle verdenking en sy gedrag as verteenwoordiger van die land se geldstelsel moet te alle tye onbesproke wees.
Ons sentrale bankier behoort op meriete aangestel te word, nie op grond van velkleur nie.
Mboweni se kleinsielige opmerkings oor ras spreek nie net van minderwaardigheid en die besef dat hy eintlik onbevoeg is om die pos te beklee nie, maar verteenwoordig ook 'n verleentheid vir Suid-Afrika.
