Residensiële verbruikers betaal 43 sent per kilowatt-uur vir elektrisiteit terwyl myne en groot nywerhede slegs 16 sent betaal. Die kosprys van elektrisiteit is min of meer 16 sent per kilowatt-uur.
Die uitvoer van elektrisiteit geskied egter teen ongeveer 11 sent per kilowattuur, wat ver onder die kosprys is. Met ander woorde, die residensiële verbruiker wat reeds noustrop trek as gevolg van inflasie, subsidieer sowel die groot nywerhede as die uitvoer van elektrisiteit.
Die meeste uitgevoerde elektrisiteit word deur De Beers en Anglo American se myne in Namibië, asook Billiton se aluminiumsmelter in Mosambiek gebruik.
Die uitvoerende bestuur van Eskom ontvang boonop twee keer soveel aan salaris as die gemiddeld vir genoteerde maatskappye.

Eskom melk die middelklasverbruiker deur alle winste van residensiële verbruikers te verhaal. So sê 'n konsultant van Forensies.com, dr. Philip Theunissen wat bekendgemaak het dat Eskom 88% van alle winste van residensiële verbruikers verhaal.