Loubser het gesê Suid-Afrikaanse banke lyk nou sterker as oorsese banke. "Dit lyk nou nie sleg vir Suid-Afrika nie, maar as die situasie elders in die wêreld so voortgaan, kan ons moeilike tye verwag," het hy gesê.
Geen rede vir paniek nie, sê Russell Loubser, uitvoerende hoof van die Johannesburgse Aandelebeurs. Markte wêreldwyd het byna al 'n derde van hul waarde verloor, maar Loubser sê ons het sterk maatskappye wat goeie dividende betaal.
Loubser het gesê Suid-Afrikaanse banke lyk nou sterker as oorsese banke. "Dit lyk nou nie sleg vir Suid-Afrika nie, maar as die situasie elders in die wêreld so voortgaan, kan ons moeilike tye verwag," het hy gesê.
Die wêreld van finansies gaan verander. Só skryf Michael Gordon van die Institutional Investment Fidelity International in die Financial Times. Hier is 'n paar dinge om te verwag:
1. Dit gaan meer plaaslik raak. As vrees in die plek van gierigheid oorneem, dan neem emosies ook oor. Oos wes, tuis bes, lui die spreekwoord. Beleggers voel veiliger nader aan bekende dinge.
2. Finansiële sake is nou verpolitiseer omdat die publiek verwag dat regerings moet ingryp om hulle spaargeld te red. En regerings is plaaslike instellings, nie internasionale liggame nie.
3. Kompleksiteit is uit die mode en eenvoud is terug. Beleggers wil verstaan wat hulle koop en waarvoor hulle hulself inlaat.
4. Beleggers gaan wegbeweeg van allerlei slim modelle wat gebaseer is op wat markte in die verlede gedoen het en mense se insig en talente gaan van groter belang raak. Dis nou nie meer teorie nie maar die harde werklikheid wat tel
5. Innovering is uit en ervaring is terug. Die skok van nuwe dinge is nou te pynlik. Die tradisionele manier van doen gaan tel. "Oulik" gaan met "verstandig" vervang word.
6 Om vertroue te wen moet deursigtigheid geld. Niks gaan nou meer weggesteek kan word nie. Selfs al vra die publiek nie meer vrae nie, gaan die owerhede dit beslis doen.
7. Oorsig gaan net so belangrik word soos insig. Dié instellings wat die huidige krisis gaan oorleef, is instellings waar oorsig 'n belangrike funksie van bestuur is.
Engen Petroleum het die aankoop van Shell Internasionaal se besighede in Lesotho gefinaliseer.
Engen het nou ‘n teenwoordigheid in 17 lande buite Suid-Afrika en het so ook hulle teenwoordigheid in Afrika suid van die Sahara vergroot.
Die Lesotho-transaksie behels jaarlike volumes van 36 miljoen liter brandstof in die kleinhandel- en ander afdelings. Dit sluit in kommersiële brandstof en smeermiddels en gee vir Engen net minder as 31% van die marksegment.
09:31:47 Toenemende vrese oor 'n globale ekonomiese resessie het aandeelpryse Donderdag laat daal, met die Europese Sentrale Bank wat aangedui het dat dit binnekort koerse vir die eerste keer in vyf jaar mag verlaag.
Jean-Claude Trichet, die president van die ESB, het die deur vir 'n moontlike verlaging in amptelike leenkoerse vir die 15 lidlande van die eurosone oopgemaak deur te sê dat eurosone-inflasierisiko's nie verdwyn het nie, maar wel afgeneem het. Na verwagting sal koerse in November verlaag word of selfs vroeër indien die krisis in finansiële markte vererger.
Die toeskietlike toon van die ESB het bygedra tot 'n skerp daling in die waarde van die euro wat tot $1,38 getuimel het – 'n eenjaarlaagtepunt teen die dollar, asook 145 jen, die laagste koers vir twee jaar teen die Japannese geldeenheid.
Die dollar het ook teen die rand verstewig en die plaaslike geldeenheid het gister verswak tot R8,41 vanaf R8,23 die vorige dag. Teen 'n handelsgebalanseerde mandjie van geldeenhede het die dollar Donderdag met 1,2 persent gestyg en met 12,9 persent sedert April. Ruolie het met 4,6% getuimel tot $93,97 per vat. Swak Amerikaanse verbruikersdata, asook getuienis dat die kapitaalmark selfs vir die beste maatskappye geslote bly, het skerp dalings in hulpbronpryse en ontluikende markte veroorsaak.
Aandeelpryse het gister skerp gedaal, met die Johannesburgse aandelebeurs se algehele indeks wat vanaf 'n hoogtepunt van 24114 punte tot 22 560 teen sluitingstyd gedaal het, 'n daling van meer as 6 persent.
Die Amerikaanse S&P 500-indeks wat die 500 grootste maatskappye in die VSA verteenwoordig, het gisteraand 4 persent laer gesluit op 1 114 punt, net bokant die laagtepunt wat dit Maandag ná die skokstemming in die Amerikaanse kongres teen die $700-miljardhulppakket bereik het.
Volgens Todd Steinberg, hoof van aandele en afgeleides vir die Amerikas by BNP Paribas, "Het 'n verskuiwing in sentiment in aandeelmarkte plaasgevind. Die fokus is nou op die ekonomie en selfs al word die hulppakket goedgekeur, is dit die uitwerking van die hulp op die ekonomie wat saak maak en dit gaan tyd neem om voelbaar te raak."
Die MSCI-indeks van ontluikende markte het met 8,8 persent gedaal en is 43,3 persent laer as die hoogtepunt verlede jaar. Kanada se vernaamste aandeelindeks het met 7 persent getuimel om die laagste punt sedert November 2005 te bereik. Brasilië se Bovespa-indeks het met 11,7 persent in VS-dollarterme gedaal. In Londen het die FTSE 100 1,8 persent laer gesluit op 4 870.
Met vooruitsigte vir die wêreldekonomie wat al slegter raak, bly beleggers onwillig om geld selfs vir die sterkste maatskappye te leen. Kredietmarkte bly grootliks bevrore, en die kommersiëlepapiermark het met 'n verdere $95-miljard oor die afgelope week gekrimp. Banke sukkel steeds om hulself te bevonds, met driemaande-LIBOR wat op 4,21 persent, oftewel 6 basispunte hoër, vasgestel is.
Die opbrengs op Amerikaanse staatseffekte het gedaal soos wat handelaars geld verwed dat die Federale Reserwe Amerikaanse koerse mag verlaag, miskien selfs voor die rentevasstellingsvergadering van 29 Oktober. Termyne in federale fondse het gedaal te midde van verwagtings dat "'n dieper en langer ekonomiese afswaai waarskynlik is," volgens ontleders van Brown Brothers Harriman.
16:50:23 Zimbabwe het amptelik verlede Vrydag begin om in buitelandse geldeenhede handel te dryf in wat beskou word as 'n erkenning van die ineenstorting van die Zimbabwiese dollar.
Die nuwe gegewe sal na verwagting die akute voedseltekort wat saamval met 'n rekord inflasiekoers en die ekonomiese ineenstorting, help verlig.
Die gelisensieerde winkels herinner aan Sowjet-era ondernemings in Oos-Europa wat net in harde geldeenhede handel gedryf het.
Met die ineenstorting van die toerismebedryf, landbou en vervaardigde goedere, kom die meeste buitelandse valuta die land binne van die miljoene Zimbabwiërs wat elders werk en geld huistoe stuur.
Die meeste geld word reeds op die onwettige swart mark verhandel. Navorsers by die Sentrale Bank sê Zimbabwiese burgers spandeer elke maand miljoene op inkopietogte na naburige lande om mieliemeel, kookolie en ander ware te koop. Dit sluit ook motoronderdele en elektroniese apparate in.
Met buitelandse valuta wat nou wettig verhandel word, sê sakebestuurders dat die winkelrakke eersdaags weer voorraad sal dra, alhoewel dit nie dadelik alle probleme sal oplos nie. Dit sal tyd neem om die finansiële detail uit te werk en om voorraad in te kry.
Winkels sal toegelaat word om in Zim dollar asook harde geldeenhede sake te doen. Ingevoerde artikels sal net te koop wees in 'n betroubare geldeenheid.
Die Reserwe Bank sê in 'n verklaring dat elke onderneming 20 000 Amerikaanse dollar vir só 'n lisensie sal moet betaal en die Bank sal ook 15% van die verkope in harde valuta invorder.
Amptenare by een landwye winkelkettinggroep sê hulle beplan om voortaan in harde geldeenhede sake te doen, maar hulle het nog nie die VS$600 000 fooi wat nodig sal wees om 30 supermarkte van lisensies te voorsien nie.
Die Europese Unie het Woensdag een van die hoogste boetes ooit opgelê vir kartelaktiwiteite, op wat hulle noem ‘n “paraffienmafia” wat daarvan beskuldig word dat hulle pryse en markte gemanipuleer het.
‘n Groep maatskappye wat paraffien-was maak, is beveel om boetes ter waarde van amper €700 miljoen te betaal. Dit is amper $1 mijard of R8 miljard.
Neelie Kroes van die Europese Kommissie het die groep van nege maatskappye, wat deur Sasol gelei is, ‘n paraffienmafia genoem, wat amper elke Europese verbruiker geraak het.
Volgens die Dow Jones Wilshire 5000, die mees omvattende aanduider van markaktiwiteit, is $1,2 triljoen se markwaarde Maandag in een dag uitgewis. Dit is byna twee keer soveel as ie veelbesproke hulppakket wat gister in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers verwerp is.
Die Hang Seng-indeks het binne die eerste 10 minute vandat die mark geopen het tot onder die 17 000-vlak gedaal maar het teen 11-uur in Hong Kong teruggespring tot 17 266 punte, 'n verlies van 3,43 persent of 641 punte teenoor Maandag se sluitingsvlak.
Die ineenstorting van aandeelpryse het oral in Asië voorgekom ná 'n skerp daling in Wallstraat in reaksie op die verwerping van die ekonomiese noodplan deur die Amerikaanse huis van verteenwoordigers.
Hong Kong se aandeelpryse daal sedert verlede Oktober tot die indeks 'n hoogtepunt van bykans 32 000 punte behaal het.
Beleggers is swaar getref deur verliese op Suid-Afrika se Aandelebeurs nadat die VSA se beloofde hulppakket gesloer het. Old Mutual was die ergste geraak met 'n verlies van 10% vanmiddag.
Markte het gereageer op die nuus van die regeringsingryping in Brittanje se Bradford & Bingley en België se Fortis wat deur die Belgiese, Nederlandse en Luxemburgse regerings met $16.3 miljard gered is. Duitsland se grootste eiendomsverbandhouer, Hypo, is ook in die moeilikheid.
Aandelemakelaars Barnard Jacobs Mellet het kliënte gewaarsku dat onstabiliteit kan voortduur. Daar word verwag dat die bank-,versekerings- en finansiële aandele nie goed sal vertoon in die huidige krisis nie.
Old Mutual se blootstelling aan Amerikaanse instellings soos AIG, Freddie Mac en Fannie Mae asook Lehman Brothers, het hulle vir skerp kritiek uitgesonder.
Die Amerikaanse owerheid het vanoggend bekend gemaak dat hulle betrokke was by 'n oorname van Wachovia se bankbedrywighede deur Citigroep. Hiervolgens kry die Amerikaanse regering 'n belang in Citi.
Enige verliese bo hierdie vlak sal deur die FDIC geabsorbeer word. Hulle kry ook 'n aandeel in Citigroep in ruil vir hul waarborg van die verliese wat deur Citi oorgeneem word.
Citigroep het $12 biljoen in voorkeuraandelekapitaal en opsies aan die FDIC toegeken, om te vergoed vir die risiko wat die FDIC dra.
Wachovia Corporation, met hul hoofkantoor in Charlotte, North Carolina, is die vierde grootste bank in die VSA, gebaseer op totale bates.
Aandelemarkte in Asië is af vandag nadat vrese vir 'n globale krediettekort weer die oorhand gekry het.
Aandelemarkte in Australië is ook laer. Die Nikkei 225 Index is 0.3 persent af. Die grootste verloorder was egter die Hang Seng Index in Hong Kong, wat 2.1% verloor het. Die Hong Kong Interbankleningskoers, 'n aanduiding van die bereidwilligheid van banke om aan mekaar te leen, bly uiters volatiel.
Britse banke gaan vra dat die regering hulle uithelp met verliese wat voortsspruit uit die nypende krediettekort. Daar is selfs sprake van die skepping van 'n regeringsbank wat lae-waarde bates en verbandgesteunde sekuriteite kan oorneem. Gordon Brown ontken egter die beweringe.
Die ekonomiese afswaai in Brittanje is besig om te versnel. George Magnus, 'n senior ekonomiese adviseur by UBS in Londen, het aan Bloomberg Televisie gesê dat die verbandmark morsdood is en dat die regering drasties iets sal moet doen. Die Bank van Engeland het meer as £100 miljard beskikbaar gestel en sal nog fondse gee om die krisis te bestuur.
Regeringsamptenare van die Tesourie, die Bank van Engeland en die Finansiële diensteraad is daagliks met mekaar in verbinding om die stelsel te probeer stabiliseer. Bradford & Bingley, die grootste huisverbandverskaffer, se aandele het Vrydag na benede getuimel. Royal Bank of Scotland, Brittanje se grootste bank ná HSBC, het besnoei op lenings om kapitaal op te gaar.
"Daar heers 'n ernstige krisis in die geldmark," sê Neil MacKinnon, hoofekonoom van die ECU Groep in Londen en voorheen 'n werknemer van die Britse Tesourie. "Die VK sal by die VSA moet gaan kers opsteek en kom met 'n regeringshulpplan."
Die Amerikaanse regering het Donderdag die grootste bank ooit in Amerikaanse geskiedenis oorgeneem. Washington Mutual, die sinkende spaar- en uitleenbank is volgens 'n noodplan in stukke opgedeel om die Amerikaanse belastingbetaler nog pyn te spaar. Dele daarvan is aan JPMorgan Chase verkoop.
Die oorname en JPMorgan-ooreenkoms het trouens as 'n algehele verassing vir die bestuur van Washington Mutual gekom. Dit is die tweede keer dat die VSA se regering 'n sukkelende bank in die arms van JPMorgan dryf. In Maart het JPMorgan Bear Stearns oorgeneem wat op die rand van bankrotskap gehuiwer het.
Kenners meen dat regeringsingryping nodig was omdat die nadraai van die bank se ondergang te omvangryk en destabiliserend kon inwerk indien dit deur die Federal Deposit Insurance Corporation oorgeneem sou gewees het. 'n Banknavorser sê Washington Mutual was te groot om te vou in die gewone sin. Dit sou die reeds sinkende Federal Deposit tussen $20 en $30 miljard uit die sak gejaag het, 'n bedrag wat die FDIC nie sou kon bekostig nie.
Die bank het in April 'n kapitaalinspuiting van $5 miljard gekry, maar die uitkoms het onveranderd gebly.
08:56:03 Suid-Afrika se VPIX-inflasiekoers het in Augustus tot 13,6% opgeskiet, teenoor 13% in Julie. Die VPIX sluit verbruikerspryse, maar sonder huisverbande, in. Dis nou die 17de agtereenvolgende maand dat die inflasiekoers buite die Rerwebank se boonste perk van 6% verkeer.
Verlede maand se syfer is ook die hoogste sedert die VPIX ingestel is. Die mark is oor die algemeen deur die hoë syfer teleurgestel, want dit wil nou voorkom asof rentekoerse nie gou sal daal nie.
Ekonomie meen dat inflasie waarskynlik nou 'n hoogtepunt bereik het en hoop dat die Reserwebank tog vroeg aanstaande jaar sal begin om rentekoerse te verlaag.
Volgens Statistiek Suid-Afrika is die jaarlikse styging in die VPIX in metropolitaanse gebiede veral te wyte aan groot jaarlikse stygins in die voedselprysindeks (5,3%), vervoer (3,1%), brandstof en elektrisiteit (1,3%), verblyf (0,9%), huishoudelike uitgawes (0,8%), mediese sorg (0,6%), opvoeding (0,4%), klerasie en skoene (0,3%) en persoonlike sorg (0,3%).
Ná die vrystelling van die infalsiesyfer het die staatseffektemark en die rand gedaal. Aan die ander kant het kleinhandelverkope met 4,6% verswak in die jaar tot Julie, wat weer druk op die Reserwebank plaas om koerse eerder gouer te verlaag.