Die nuwe gegewe sal na verwagting die akute voedseltekort wat saamval met 'n rekord inflasiekoers en die ekonomiese ineenstorting, help verlig.
Die gelisensieerde winkels herinner aan Sowjet-era ondernemings in Oos-Europa wat net in harde geldeenhede handel gedryf het.
Met die ineenstorting van die toerismebedryf, landbou en vervaardigde goedere, kom die meeste buitelandse valuta die land binne van die miljoene Zimbabwiërs wat elders werk en geld huistoe stuur.
Die meeste geld word reeds op die onwettige swart mark verhandel. Navorsers by die Sentrale Bank sê Zimbabwiese burgers spandeer elke maand miljoene op inkopietogte na naburige lande om mieliemeel, kookolie en ander ware te koop. Dit sluit ook motoronderdele en elektroniese apparate in.
Met buitelandse valuta wat nou wettig verhandel word, sê sakebestuurders dat die winkelrakke eersdaags weer voorraad sal dra, alhoewel dit nie dadelik alle probleme sal oplos nie. Dit sal tyd neem om die finansiële detail uit te werk en om voorraad in te kry.
Winkels sal toegelaat word om in Zim dollar asook harde geldeenhede sake te doen. Ingevoerde artikels sal net te koop wees in 'n betroubare geldeenheid.
Die Reserwe Bank sê in 'n verklaring dat elke onderneming 20 000 Amerikaanse dollar vir só 'n lisensie sal moet betaal en die Bank sal ook 15% van die verkope in harde valuta invorder.
Amptenare by een landwye winkelkettinggroep sê hulle beplan om voortaan in harde geldeenhede sake te doen, maar hulle het nog nie die VS$600 000 fooi wat nodig sal wees om 30 supermarkte van lisensies te voorsien nie.
