Nadoodse ondersoeke is verlede Woensdag deur 'n patoloog van Port Shepstone, Dr. Ikram Ali, uitgevoer. Hy het bevind dat daar geen anatomiese beserings aan die liggame was nie. Pandarum sê as die uitslae eers vrygestel is en die naam van die gifstof bekendgemaak is, sal die polisie probeer om uit te vind waar dit vandaan kom. Die Mazubane-gesin is op 21 September dood aangetref in hulle huis op Dingleton aan die Suidkus nadat hulle 'n kruie-konkoksie gebruik het.
Twee lede van die gesin wat nie tuis was nie, het oorleef. 'n Buurman het die liggame in die sitkamer gevind met bloed wat uit hulle neuse stroom.
'n Baba van twee weke, vier seuns tussen 2 en 7 jaar, 'n 17-jarige seun, 'n 21-jarige man, vier vrouens in hulle dertigerjare en twee 55-jariges is dood aangetref. Dit was die grootouers, hulle kinders en kleinkinders. Daar word vermoed dat die 17-jarige seun, 'n leerlingtradisionelegeneser, die dodelike konkoksie tydens 'n jaarlikse seremonie van die gesin toegedien het.
Die broer van die leerlingtradisionelegeneser, David Mazubane, sê sy jonger broer het op 15-jarige ouderdom met sy opleiding as tradisionele geneser begin.
