Diamantraad skors SAR

Die Wêreld Diamantraad het die tydelike skorsing van die Sentraal Afrikaanse Republiek uit die Kimberley Proses Sertifiseringskema verwelkom.

Die president van die raad, Eli Izhakoff sê dit is ‘n strawwe, maar gepaste maatreël om die integriteit van die diamantbedryf én die welstand van mense in die SAR te beskerm.

Die doel van die Kimberley Proses Sertifiseringskema is om te verhoed dat geld afkomstig van die verkope van ongeslypte diamante gebruik word vir die finansiering van rebellegroepe.

Intussen het die Suid-Afrikaanse dodetal van die staatsgreep in die SAR tot 15 gestyg, nadat nog ‘n Suid-Afrikaanse soldaat wat teen die Seleka magte geveg het aan sy beserings beswyk het.

China toets digitale militêre slaankrag

Die Chinese weermag wil volgende maand sy eerste groot militêre oefening hou om sy digitale tegnologie op die proef te stel, het die staatsmedia Woensdag berig.

Die oefening by die Zhurihe-opleidingsbasis in die noorde van Binne-Mongolië sal “gedigitaliseerde eenhede,” eenhede van die spesiale magte, lugmageenhede en “elektroniese reaksiemagte” insluit, het die regering se Xinhua-nuusagentskap berig.

Die oefening, wat laat in Junie sal plaasvind, is deel van China se pogings om “aan te pas by die inligtingsoorlog,” het die nuusagentskap berig.

Die Chinese weermag, wat 2,3 miljoen man sterk is, het in onlangse jare ‘n sterk fokus geplaas op die gebruik van digitale tegnologie om die leër te moderniseer.

Owerhede het in November gesê daar is planne om teen 2020 “groot vooruitgang te maak in volle militêre IT-toepassings”.

China se verdedigingsbegroting het vanjaar met 10,7% gestyg.

Siriese joernalis deur skerpskutter gedood

‘n Skerpskutter het Maandag ‘n bekende Siriese joernalis naby die Libanese grens doodgeskiet, het die media berig.

Yara Abbas, ‘n verslaggewer vir die staatsbeheerde al-Ikhbariya-nuuskanaal, is naby die Debaa-lughawe doodgeskiet.

Abbas is volgens staatsbeheerde media deur rebelle geteiken.

Die Siriese Waarnemers vir Menseregte het gesê verskeie lede van Abbas se televisie-span is ook in die aanval beseer.

Abbas was ‘n bekende op Siriese televisie. Sy het gereeld saam met die weermag gereis om oor die Siriese burgeroorlog verslag te lewer.

Verskeie buitelandse verslaggewers ook hul lewens verloor in die konflik, insluitende bekroonde Franse TV-verslaggewer Gilles Jaquier, fotograaf Remi Ochlik en Brittanje se Sunday Times-korrespondent Marie Colvin. Anthony Shadid, ‘n korrespondent vir The New York Times in Sirië, is ook oorlede.

Franse anti-gay-optog raak gewelddadig

Die Franse polisie het bykans 300 mense in hegtenis geneem tydens ‘n optog in Parys waarin standpunt téén gay-huwelike en aannemings ingeneem is.

Die betoging was aanvanklik vreedsaam en deelnemers het vlae en baniere gewaai. Die betogers het egter later bottels en rookbomme na die polisie begin gooi. Honderde jeugdiges was betrokke.

Die polisie het traangas gebruik om die betogers uiteen te jaag.

Volgens die owerhede het sowat 150 000 mense aan die protesoptrede deelgeneem, maar die organiseerders sê daar was minstens een miljoen mense.

Frankryk het onlangs gay-huwelike goedgekeur en die eerste troue tussen twee mans was Woensdag in Montpellier in die suide van Frankryk.

Mesaanval op polisielid in Frankryk ook ‘terreur’

Franse aanklaers sal die mesaanval op ‘n soldaat naby die land se hoofstad, Parys, as ‘n terreurdaad hanteer.

Die BBC berig dat die soldaat, Cedric Cordier tydens ‘n voetpatrollie met twee kollegas deur ‘n man van agter af oorval en met ‘n mes in die nek gesteek is.

Die polisie sê hoewel die soldaat ernstig beseer is, sal hy die aanval oorleef.

Frankryk se minister van verdediging, Jean Yves Le Drian, het aan verslaggewers gesê die soldaat is as gevolg van sy beroep geteiken.

Die polisie is steeds op soek na die aanvaller wat vermoedelik van Noord-Afrika afkomstig is.

Pres. Francois Hollande sê daar is tot dusver geen teken dat die aanval verband hou met die onlangse moord op ‘n Britse soldaat in Londen nie.

Nóg ‘n man is in hegtenis geneem in verband met die dood van van ‘n Britse soldaat in Londen, het die Britse speurdiens, Scotland Yard, bevestig.

Die 22-jarige man is in die noorde van Londen aangekeer omdat hy vermoedelik deel was van ‘n sameswering om moord te pleeg, berig RSG.

Drie ander mans is reeds in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Twee van dié mans is steeds in die hospitaal nadat hulle op die toneel waar die 25-jarige soldaat Lee Rigby herhaaldelik gesteek is, deur die polisie geskiet is.

Een van die mans, Michael Adebolajo, is voorheen in Kenia in hegtenis geneem omdat hy na bewering probeer het om hom by die Somaliese Islamitiese militante groep al-Shabab aan te sluit.

Adebolajo is glo genader deur die Britse geheimediens MI5 ses maande gelede en gevra of hy vir hulle wil werk.

‘n Jeugvriend van die vermeende terroris beweer MI5 het Adebolajo ná ‘n reis na Kenia verlede jaar, genader.

Abu Nusaybah het gesê die moordverdagte het geglo MI5 het hom afgeluister en ‘aan sy deur kom klop’ vir inligting oor ‘n sekere individu.

MI5 is reeds fel gekritiseer nadat dit bekend geword het dat Adebolajo en mede-verdagte Michael Adebowale vir agt jaar gemonitor is deur die veiligheidsdiens.

Dié skokkende onthullings oor die beweerde moordenaars se bekende skakeling met Islamitiese ekstremisme, is deur Abu Nusaybah, op die BBC se Newsnight-program gemaak: “Sy bewoording was,  ‘Hulle luister my af – hulle sal my nie uitlos nie'”.

Vyfde nag van onluste in Swede

Swart jeugonluste in die Sweedse hoofstad Stockholm het die vyfde agtereenvolgende nag gewoed. Honderde immigrantetieners het deur die voorstede getrek, vensters gebreek en motors gebrand in die land se ergste uitbraak van geweld die jaar.

Ten minste ses voertuie is aan die brand gesteek in die stad laat Donderdag, terwyl die polisie versterkings van ander Sweedse stede ontbied het om verdere onrus te probeer onderdruk.

Brandbestryders was die hele nag besig om die vlamme van verskeie brandende motors en ‘n skool in immigrantgebiede van Stockholm te blus.

Die vorige aand is die brandweer na sowat 90 verskillende brande uitgeroep. Op die vierde nag van geweld, het jeugdiges meer as 30 motors in 15 woonbuurte asook ‘n restaurant in Skogas, suid van Stockholm, in puin gelê. Drie wetstoepassers is beseer, het die polisiewoordvoerder Kjell Lindgren berig.

Stockholm se brandbestryders sê hulle het 90 brande gerapporteer in totaal en “nog nooit tevore gesien dat so baie vure woed op dieselfde tyd nie”.

Leiers van immigrantegemeenskappe was uit op die strate in ‘n poging om jong mense te verhoed om terreur te saai. Ten spyte van hul pogings, het groepe motors aan die brand gesteek toe dit aand word. Oproeriges het klippe gegooi na die polisie en joernaliste.

Die meeste van die oproeriges is glo werkloos.

Immigrante is tans sowat 15 persent van die bevolking. Hierdie immigrante het versuim het om te integreer in die Sweedse samelewing, en is slegs in die land om die maatskaplike voordele te geniet, sê die Sweedse joernalis Ingrid Carlqvist.

“Die mense kom hier aan, want hulle weet dat Swede sal hulle geld vir niks gee. Hulle hoef nie te werk nie, nie belasting te betaal nie – net hier bly en ‘n klomp geld kry. Dit is regtig ‘n probleem, ” het Carlqvist bygevoeg.

Londenaanval ‘onbegryplik’

Die wrede moord op ‘n man wat glo ‘n Britse soldaat was op ‘n straat in Londen is Donderdag hier deur die media as “onbegryplik” beskryf.

Die aanval het helder oordag, sowat 200 m van weermagbarakke, in die suide van Londen gebeur.

Twee mans het volgens ooggetuies in ‘n straat in Woolwich die slagoffer met ‘n motor raakgery, en hom daarna grusaam met ‘n panga en messe vermoor.

Die twee is ná die aanval in hegtenis geneem na die polisie hulle gewond het.

Een van die aanvallers het in ‘n selfoonvideo wat deur ‘n omstander geneem is, teen die Britse regering te velde getrek. Die twee aanvallers het ‘n paar minute op straat rondgeloop terwyl hulle naby die man se lyk op die polisie gewag het.

“Ek is jammer vroue moes hierdie vandag sien, maar in ons lande moet vroue dieselfde sien. Julle mense sal nooit veilig wees nie. Verwyder julle regering. Hulle gee nie vir julle om nie,” sê die aanvaller in die video, terwyl hy met ‘n kapmes in sy bebloede hande staan.

“Ons het hierdie Britse soldaat vermoor. ‘n Oog vir ‘n oog,” was The Sun se hoofopskrif – ook ‘n aanhaling uit die video.

The Daily Telegraph se hoofopskrif was: “‘n Oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand. Ons sal nie ophou veg voor julle ons uitlos nie.”

The Sun het die aanval as “onbegryplik” beskryf.

“Vandag moet ons die ekstremiste trotseer en skouer-aan-skouer met ons gewapende magte staan,” het ‘n joernalis in ‘n artikel in die koerant geskryf.

“Ons moet ons ondersteuning in ons optrede en woorde wys. As jy vandag ‘n soldaat sien, skud sy hand en sê dankie.”

The Daily Telegraph het die premier David Cameron aangehaal, wat by ‘n mediakonferensie gesê het die land sal nooit swig voor terroriste nie.

Vierde nag van onluste in Swede

Swart jeugdiges het ‘n restaurant aan die brand gesteek en heeltemal in puin gelê asook meer as 30 motors in Stockholm, Swede.

Drie polisielede is beseer in ‘n vierde nag van onluste in immigrante voorstede van die Sweedse hoofstad. Die onluste het begin ná ‘n noodlottige polisieskietery.

Polisiewoordvoerder Kjell Lindgren sê ten minste 30 motors is aan die brand gesteek in westelike en suidelike Stockholm vroeg Donderdag. Brandweermanne het gesê hulle het “nog nooit tevore gesien dat so baie vure woed op dieselfde tyd nie.”

Oproerige swart jeugdiges het ook ‘n restaurant in Skogas, suid van Stockholm, afgebrand.

Lindgren sê ‘n 16-jarige meisie is kortliks aangehou op die vermoede dat sy ‘n brandstigtingsaanval beplan het, maar is later huis toe gestuur na haar ouers.

Die onrus het Sondag begin in reaksie op ‘n skietvoorval van 13 Mei waartydens die polisie ‘n 69-jarige immigrant wat hulle met ‘n mes aangeval het in ‘n noordwestelike voorstad, noodlottig gewond het.

Senaatskomitee stem vir wapens aan Sirië

‘n Amerikaanse senaatskomitee het ‘n wetsontwerp deurgedruk wat sal toelaat dat –  indien dit onderteken word deur die Obama-administrasie – wapens gelewer sal word aan Siriese rebelle waaronder Al Kaida, ‘n skuif wat die hele streek bedreig.

Die Senaatskomitee oor Buitelandse Betrekkinge het met 15-3 gestem ter bewapening van die rebelle. Die Amerikaanse publiek is egter fel gekant teen militêre inmenging in Sirië.

“Ek dink nie dat hierdie besluit, hierdie wetsontwerp in die Huis van Verteenwoordigers aftrek sal kry nie, en as dit wel kry, sal ons moet wag en sien of Obama hierdie wetsontwerp onderteken,” het die historikus Gerald Horne gesê.

Horne is nogtans van mening dat die Israel-lobby in Washington Amerikaanse politici, insluitend President Obama kan swaai.

“Die Israel-lobby in die besonder is baie energiek en baie aktief in dié verband met steunwerwing vir hulp aan die rebelle, wat baie vreemd is want as hierdie rebelle aan bewind gekom, vermoed ek dat Israel baie slapelose nagte sal hê,” sê Horne.

Die taal van die voorgestelde wetgewing is vaag, maar dit dui op die verkoop van wapens, maar dat “geen anti-vliegtuig verdedigingstelsels” voorsien sal word nie.

Ten spyte van die rebelle se bande met Al Kaida, is Amerikaanse wetgewers vasbeslote dat wapens voorsien sal word aan groepe wat “verbind is tot die verwerping van terreur en ekstremistiese ideologie”.

Senator Rand Paul van Kentucky het teen die wetsontwerp beswaar gemaak, en gewaarsku: “Julle befonds vandag die bondgenote van Al Kaida.”

“Dit is ‘n ironie wat jy nie kan oorkom nie,” het hy aan die Washington Times gesê.

Obama sal SA eersdaags besoek

Die Amerikaanse president, Barack Obama, gaan Suid-Afrika volgende maand besoek as deel van sy toer deur Afrika.

Die Withuis het Maandag gesê Obama sal vanaf 26 Junie tot 3 Julie Senegal, Suid-Afrika en Tanzanië besoek.

Die Amerikaanse Nasionale Veiligheidsraad het die aankondiging op sy Twitter-blad bekend gemaak.

Obama se vrou, Michelle, wat suidelike Afrika in Junie 2011 besoek het, sal hom vergesel op die toer.

Dit sal Obama se tweede ampsbesoek aan Afrika wees. Hy het Ghana in Julie 2009 besoek.

Obama is onder kwaai druk tuis, nadat dit aan die lig gekom het dat die Amerikaanse belastingdiens, die IRS, opsetlik konserwatiewe Tea Party-lede uitgesonder het vir belastingondersoeke sedert die Demokraat aan bewind is.

Kort tevore het dit bekend geraak dat die Obama-administrasie mede-verantwoordelik is vir die dood van die Amerikaanse ambassadeur in Bengazi en die feite probeer toesmeer het met versinsels oor die gebeure wat tot Chris Stevens en drie ander Amerikaners se dood gelei het.

Die aanval in Bengazi is gelei deur Al Kaida-terroriste wat deur die VSA bewapen en befonds is om Sirië te destabiliseer.

Obama se besoek sal waarskynlik gemik wees teen die blanke minderheid in Suid-Afrika om steun vir die swart minderheid in die VSA te werf.