Londenaanval ‘onbegryplik’

Die wrede moord op ‘n man wat glo ‘n Britse soldaat was op ‘n straat in Londen is Donderdag hier deur die media as “onbegryplik” beskryf.

Die aanval het helder oordag, sowat 200 m van weermagbarakke, in die suide van Londen gebeur.

Twee mans het volgens ooggetuies in ‘n straat in Woolwich die slagoffer met ‘n motor raakgery, en hom daarna grusaam met ‘n panga en messe vermoor.

Die twee is ná die aanval in hegtenis geneem na die polisie hulle gewond het.

Een van die aanvallers het in ‘n selfoonvideo wat deur ‘n omstander geneem is, teen die Britse regering te velde getrek. Die twee aanvallers het ‘n paar minute op straat rondgeloop terwyl hulle naby die man se lyk op die polisie gewag het.

“Ek is jammer vroue moes hierdie vandag sien, maar in ons lande moet vroue dieselfde sien. Julle mense sal nooit veilig wees nie. Verwyder julle regering. Hulle gee nie vir julle om nie,” sê die aanvaller in die video, terwyl hy met ‘n kapmes in sy bebloede hande staan.

“Ons het hierdie Britse soldaat vermoor. ‘n Oog vir ‘n oog,” was The Sun se hoofopskrif – ook ‘n aanhaling uit die video.

The Daily Telegraph se hoofopskrif was: “‘n Oog vir ‘n oog, ‘n tand vir ‘n tand. Ons sal nie ophou veg voor julle ons uitlos nie.”

The Sun het die aanval as “onbegryplik” beskryf.

“Vandag moet ons die ekstremiste trotseer en skouer-aan-skouer met ons gewapende magte staan,” het ‘n joernalis in ‘n artikel in die koerant geskryf.

“Ons moet ons ondersteuning in ons optrede en woorde wys. As jy vandag ‘n soldaat sien, skud sy hand en sê dankie.”

The Daily Telegraph het die premier David Cameron aangehaal, wat by ‘n mediakonferensie gesê het die land sal nooit swig voor terroriste nie.

Maak 'n opvolg-bydrae