Mesmoordenaar vra vergifnis

‘n Man van Kaapstad het om vergifnis gevra nadat hy erken het dat hy ‘n vrou vermoor het, het die Cape Times Donderdag berig.

Mogamat Armien Salie (31) het Woensdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof verskyn vir die moord op die 33-jarige Anzunette de Plessis in Oktober, het die koerant berig.

Sy het hom glo ingelaat om haar dak vir lekplekke te ondersoek, maar hy het na haar kamer gegaan en ‘n kamera geneem.

“Sy het agter my gestaan en ‘n bakleiery het gevolg. Ek het terugbaklei en ek was baie kwaad. Ek het die mes uit my sak geruk,” het Salie in ‘n verklaring gesê.

Volgens die Cape Times het Salie glo Woensdag in ‘n video-opname erken dat hy die jong ma aangeval en keelaf gesny het voordat hy verskeie items in die huis gegryp en weggehardloop het.

“Ek weet ek kan nie terugbring wat ek weggeneem het nie en ek is jammer dat ek so ‘n verskriklike ding gedoen het… Vind dit asseblief in jul harte om my te vergewe,” het hy in die video gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae