Boere in aanhouding weens stroper se beserings

Drie boere is op aanklag van poging tot moord in hegtenis geneem nadat hulle ‘n vermeende renosterstroper gevang het.

Beeld berig die drie boere – PP Maré, Chris Naudé en Johannes van Zyl – word by die polisieselle op Gravelotte, Limpopo, aangehou.

Hul prokureur, Aldo Rech, het aan die koerant gesê die boere het vroeër die week ‘n wenk ontvang dat stropers in die gebied bedrywig is,

Die mans beweer hulle het Woensdag twee vermeende stropers agtervolg.

Een van die verdagtes het weggekom, maar die tweede een is vasgetrek. Hy het beserings opgedoen toe hulle deur bosse gevlug het.

Beeld berig die boere het hom vasgebind en die polisie ontbied.

Volgens die boere het die verdagte messe by hom gehad waarmee renosters onthoring word.

Kol. Ronel Otto het aan die koerant gesê die boere is van poging tot moord aangekla omdat die vermeende stroper ‘n kopwond gehad het. Hy is sedertdien in die hospitaal opgeneem.

Rech ontken dat sy kliënte die man aangerand het.

Maré, Naudé en Van Zyl is Donderdag in Phalaborwa se landdroshof borgtog toegestaan.

“Die mans is elk R3 000 se borgtog toegestaan en sal weer in Junie in die hof verskyn,” het kol. Ronel Otto, ‘n polisiewoordvoerder, gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae