China toets digitale militêre slaankrag

Die Chinese weermag wil volgende maand sy eerste groot militêre oefening hou om sy digitale tegnologie op die proef te stel, het die staatsmedia Woensdag berig.

Die oefening by die Zhurihe-opleidingsbasis in die noorde van Binne-Mongolië sal “gedigitaliseerde eenhede,” eenhede van die spesiale magte, lugmageenhede en “elektroniese reaksiemagte” insluit, het die regering se Xinhua-nuusagentskap berig.

Die oefening, wat laat in Junie sal plaasvind, is deel van China se pogings om “aan te pas by die inligtingsoorlog,” het die nuusagentskap berig.

Die Chinese weermag, wat 2,3 miljoen man sterk is, het in onlangse jare ‘n sterk fokus geplaas op die gebruik van digitale tegnologie om die leër te moderniseer.

Owerhede het in November gesê daar is planne om teen 2020 “groot vooruitgang te maak in volle militêre IT-toepassings”.

China se verdedigingsbegroting het vanjaar met 10,7% gestyg.

Maak 'n opvolg-bydrae