Soesjikoning Kenny Kunene gee Ramaphosa ‘n sedeles terwyl hy porno publiseer

Die magstryd binne die Suid-Afrikaanse swart elite is besig om klugtige afmetings aan te neem. Vanoggend by die ingang van die Johannesburgse Hooggeregshof het die pierewaaier Kenny Kunene, wat voorheen soesji vanaf naakte dames af geëet het, aan die media ‘n sedeles aan die adres van Cyril Rampaphosa gerig en geregverdig waarom sy aanlyntydskrif Weekly Xposé, gaan aanhou om die adjunkpresident se privaat e-posse te publiseer.

‘n Beweerde minnares van Ramaphosa, die 29-jarige Natasha Theledi, het blykbaar gereeld pornografiese video’s van haarself aan Cyril Ramaphosa gestuur. Kunene se aanlynpublikasie het sowel van die video’s as uittreksels uit die e-posse gepubliseer, waarna Theledi hom en die tydskrif in die Hooggeregshof vir laster en skending van privaatheid gedagvaar het.

In ‘n kwalik bedekte verwysing na Ramaphosa het Kunene gesê, betreffende sy en Theledi se verhouding: “As jy nie luise wil hê nie, moenie by die honde slaap nie.”

Volgens Kenny Kunene (sien video-onderhoud hier onder), is Ramaphosa die hoof van die Vigsraad en daarom ‘n “Koning van Etiek”. “Nou, as jy getroud is en jy gaan uit met ‘n Koning van Etiek, raak jy ‘n saak van openbare belang. En as jy met die adjunkpresident van enige land uitgaan, word jy ‘n voorwerp van belang. Hoe geheim jy dit ook al wil hou, as dit uitkom, word dit ‘n saak van openbare belang, veral as daardie spesifieke adjunkpresident getroud is. En dit word ‘n daad van huweliksontrou. Dit word ‘n saak van openbare belang. Dit is my siening, en die siening van Weekly Xposé dat, as jy in dié tipe verhouding betrokke raak, dan weet jy wat die gevolge is. Die feit dat daar e-posse was wat spesifiek opgestel is vir kommunikasie in die verhouding sê ook (vir ons) dat die dames bewus was… van die risiko vir hul privaatheid. Dit is die grondslag waarop ons dié (aansoek) teenstaan.”

Elders in die hoofstroommedia, waar Ramaphosa as die establishmentkandidaat steeds beskerm word, is daar gewys op die bande tussen Kunene en die ander bekende swart nasionalis, Andile Mngxitama, wat laas glo die redakteur van die Business Day, Peter Bruce, namens die Guptas met betogings voor sy huis “geteister” het.

Volgens Ranjeni Munusamy van die Sunday Times, bestaan daar ‘n “gemeenskaplike agenda” tussen Mngxitama en Kunene aangesien hulle albei in die naweekhofsitting tien dae gelede teenwoordig was toe Ramaphosa gepoog het om die publikasie van sy e-posse te keer. Op 4 September het sy in dié koerant geskryf:

“Die teenwoordigheid in die hof van Andile Mngxitama en Kenny Kunene, wat met die Gupta-geborgde fopnuusnetwerk gekoppel word, het ‘n gemeenskaplike agenda tussen die staatskapingsnetwerk en die aanval op Ramaphosa onthul.”

Soos wat die magstryd verhewing in aanloop tot die ANC se kongres in Desember 2017, sal nog vuil wasgoed uitkom en die absurde aard van die Suid-Afrikaanse politiek nog verder verhoog.

Swart bendes plunder Florida terwyl orkaan Irma woed

Ten minste 32 plunderaars is regoor Florida, VSA, in hegtenis geneem terwyl die orkaan Irma aanhou om Amerika noord van Tampa te teister. Skokkende videos het na vore gekom waarin hoofsaaklik Afro-Amerikaanse jeugdiges getoon word wat probeer om by winkels in te breek en verlate eiendomme probeer uitbuit.

Die polisie van Miami-Dade het getwiet: “Tot dusver is 28 inhegtenisnames vir inbraak/plundery gemaak. Ons beamptes hou aan patrolleer en die aanklokreël is van toepassing tot 7 vm. #HurricaneIrma.”

Irma was ‘n kategorie-vier-storm toe dit die eerte maal land getref het in die Floriday-eilanda, maar is nou ‘n katorie een. Dit verloor krag en gaan na ‘n tropiese storm toe afgegradeer word.

Diewe het selfs ‘n wapenwinkel beroof terwyl ander op kamera gevang is waar hulle in ‘n sportwinkel inbreek. Sondag is twee groepe plunderaars trouens op kamera vasgevang waar hulle besig was om twee verskillende sportwinkels in Suid-Florida te stroop. Plaaslike media het verder berig dat ten minste een beweerde plunderaar geskiet is en ten minste 12 in hegtenis geneem is.

In die middestad van Miami het ‘n plaaslike televisieverslaggewer Sondag gesien hoe ‘n dosyn goed gekoördineerde plunderaars ‘n winkel beroof.

Twee tieners is in hegtenis geneem nadat hulle gepoog het om Saterdag by ‘n huis in te breek in die voorstad Weston in die welaf Fort Lauderdale-omgewing, het NBC 6 TV berig.

‘n Plaaslike nutsmaatskappy naby Orlando beweer dat ‘n aantal kliënte onstellende klagtes gelê het van rowers wat hulle as elektrisiteitswerkers voordoen en dan huiseinaars oor die loop van ‘n wapen beroof, volgens WOFL-TV.

“Ons wil hê almal moet veilig wees gedurende die orkaan. En ons sal nie diewe verdra wat diegene misbruik wat hul huise verlaat nie. Stropers moet bereid wees om tronk toe te gaan as hulle mense gedurende ‘n noodtoestand probeer uitbuit,” het die sheriff van Polk-graafskap, Grady Judd, in ‘n mediaverklaring gesê.

Die polisie van Fort Lauderdale het bevestig dat  nege mense in verband met plundery in hegtenis geneem is. Polisiehoof Rick Maglione sê: “Om tronk toe te gaan vir ‘n paar tekkies is ‘n taamlik swak loopbaankeuse. Bly tuis en kyk na u geliefdes en wees dankbaar dat hulle almal veilig is.”

Dog sommiges het die polisie vir hul pogings om plunderaars te vang, gekritiseer. Een persoon op Twitter het gesê: “Om eiendom te beskerm wat andersins tydens die orkaan vernietig sou word, is vir die polisie belangriker as om lewens te beskerm.”

‘n Ander het gesê: “Julle behoort julle oor mense te kwel en om hulle veilig te hou.”

Video’s het aanlyn verskyn wat toon hoe plunderaars winkels stroop wat verlede week deur Irma beskadig is. In St. Maarten het ten minste twintig mense na bewering reeds winkels gestroop wat deur die storm vernietig is.

Ten minste 28 mense is in die Karibbiese gebied geood, terwyl groot skade aan verskeie eilande aangerig is, waaronder die Britse Maagdeilande.

Irma het Florida getref nadat die orkaan oor Kuba getrek het met stormsterkte winde, reën en vloede. Dit mag blyk te wees die mees rampspoedige strom wat die deelstaat nog ooit getref het, waartydens sewe miljoen mense aangesê is om hul huise te verlaat.

Britse skool verbied rompe om transgender studente welkom te laat voel

‘n Sekondêre skool is East Sussex, Brittanje, het die idiotiese stap geneem om meisies te verbied om rompe aan te trek, die jongste voorbeeld van die bevordering van ‘n sogenaamde “gender neutrale” agenda.

Priory School in Lewes, het ‘n beleid ingestel om dieselfde uniform vir alle studente af te dwing om transgenders te laat welkom voel, het Skynews berig.

Die skoolhoof, Tony Smith het aan die plaaslike pers gesê: “Spesifiek, spreek dit die huidige kwessies van ongelykheid en fatsoenlikheid aan.

“‘n Ander probleem was dat ons ‘n klein maar toenemende aantal transgenderstudente het en daarom is dieselfde uniform vir hulle belangrik.”

Onderwysers hoop dit sal dinge “regverdiger vir transgender leerlinge” maak in reaksie op ‘n toename in die aantal sulke studente. Maar die media het nie berig oor die aantal transgenders by die skool nie. Vermoedelik kan die skool hulle op een hand tel.

Volgens die skool se webwerf is die nuwe uniform “spesifiek ontwerp om te reageer op die vele probleme en voorstelle wat deur ouers, studente en skoolpersoneel geopper word”, insluitend waarom seuns dasse moet dra terwyl meisies nie.

Seuns dra grys broek, ‘n wit hemp, vlootblou trui en ‘n blou-en-silwer das, terwyl meisies geen das hoef te dra nie.

‘n Plaaslike ma het egter aan die plaaslike koerant gesê: “My dogter het gesê sy het ‘n geslag en dit is vroulik. Om geslagsneutraal te wees wanneer sy ‘n geslag het, is ‘n groot probleem vir haar, want sy is trots om ‘n meisie te wees.”

Maar die nuwe reëls sal help “om klagtes uit te skakel oor die fatsoenlikheid van kort rompe” het die skoolhoof gesê.

In April vanjaar het die Nasionale Unie van Onderwysers [National Union of Teachers toepaslik afgekort as NUT] gesê kinders so jonk as twee moet geleer word oor transgenderprobleme.

Afgevaardigdes by die NUT se jaarlikse konferensie in Cardiff het sy lede aangemoedig om LGBT+ kwessies in die kleuterskool te bevorder, sodat seks en verhoudingsonderrig (SRE) “inklusief” kan word. NUT beweer lesbiese, gay, biseksuele en transgender studente “word uitdruklik in die wet vertel dat hul lewens ook belangrik is”.

Talle Britse skole het reeds geslagsneutrale uniforms aanvaar, insluitend Brighton College in die privaat sektor en ongeveer 80 staatskole, het The Telegraph vroeër berig.

Enkelgeslag privaatskole is ook vertel om die gebruik van terme soos “meisies”, “jong vroue” of “jong dames” te verwyder.

Hoofde en onderrigpersoneel by koshuise sal die nuwe voornaamwoord, “Zie”, moet gebruik, indien hulle nie enige transstudente aanstoot wil gee nie, in ooreenstemming met hul verpligtinge ingevolge die Gelykheidswet 2010, waarvolgens geslagsidentiteit en “heraanpassing” een van die so- genoem beskermde eienskappe is.

Johannesburgse middestad ‘n spookdorp ná kabeldiefstal

Groot dele van die Johannesburgse middestad was gister ‘n spookdorp nadat kabeldiewe blykbaar verlede naweek “etlike kilometers ondergrondse koperkabels” gesteel het. Die wetteloosheid in Suid-Afrika het so ‘n erge graad bereik dat kabeldiefstal feitlik ‘n alledaagse verskynsel geword het.

Volgens ‘n woordvoerder van City Power, die nutsmaatskappy wat krag aan die stad voorsien, het die diewe verlede Sondag toegang verkry tot ondergrondse tonnels waarin die kabels gehuisves word. Eers is die kabels aan die brand gesteek om ‘n elektriese kortsluiting te veroorsaak wat sekerings sou laat afgaan ten einde die hele netwerk af te skakel. Daarna was dit vir die diewe veilig om die elektriese kabels te knip en weg te dra.

‘n Groot deel van die middestad is deur die kragonderbreking getref, vanaf die Carlton-sentrum tot Selbystraat. Ook die land se besigste Hooggeregshof, die Gautengse plaaslike afdeling in Pritchardstraat, is getref en het vanaf die begin van die week met behulp van noodkragopwekkers gefunksioneer. Gister teen etenstyd het die diesel egter opgeraak en is hofsale tesame regters, advokate en prokureurs eensklaps in donkerte gehul. Verskeie dringende sake moes tot later in die week uitgestel word, in die hoop dat die kragtoevoer herstel sou word.

Alle winkels in die Carlton-sentrum is al heel week lank gesluit, met veiligheidswagte wat ingange bewaak. Die parkeergarage van die Carltonsentrum, Afrika se hoogste gebou, was gister nog oop en die gedruis van die noodkragopwekkers was in die kelderverdieping hoorbaar, met ‘n swaar reuk van diesel wat in die lug hang.

Met verkeersligte oral buite werking, het groot verkeersopeenhopings motoriste en voetgangers geteister.

Vanoggend het City Power aangekondig dat die kragnetwerk waarskynlik eers teen Saterdag herstel sal word.

Maandagaand het brande steeds in die tonnels gewoed, wat tegnici daarvan weerhou het om die nodige herstelwerk te doen.

Die omvang van die skade wat die brande en kabeldiefstal veroorsaak het, is nog nie bepaal nie, maar die tonnels waarin kabels gehuisves word, is volgens Wayne Minnaar, superintendent van die Johannesburgse Metropolisie, “nege kilometer lank”.

 

Minnaar het verskoning aangeteken teenoor alle kliënte van die munisipaliteit en gesê: “Ons doen ons bes om die situasie so gou moontlik op te los.”

Honderd-en-vyftig verkeerspolisiemanne is ontplooi om die verkeer te help reël.

So pas het ons via Twitter verneem dat die koperdiewe blykbaar aangekeer is. ‘n Foto van die burgemeester Herman Mashaba op die toneel van ‘n koperskrootwerf is getwiet (foto hier bo).

Volgens ‘n e-pos wat later vanmiddag deur die munisipaliteit uitgestuur is, sal die krag nie meer teen Saterdag nie, maar eers teen Sondag herstel wees.

Oostenryk of Australië? Poetin sê VSA-leiers ken nie die verskil nie

Russiese president Vladimir Poetin het aan verslaggewers gesê ná sy besoek aan die BRICS-beraad wat in China gehou is dat die Amerikaanse leierskap ongekunsteld is. Hoewel hy die aantal Amerikaanse diplomate in Rusland kan beperk, sal hy dit nie doen nie, omdat Amerikaners probleme ondervind om tussen Oostenryk en Australië te onderskei, sê hy.

“Dit is moeilik om ‘n dialoog te hou met diegene wat Oostenryk met Australië verwar. Daar is niks wat hieraan gedoen kan word nie, dit is blykbaar die vlak van politieke kultuur van ‘n sekere deel van die Amerikaanse elite. Die Amerikaanse volk is eintlik ‘n wonderlike nasie as hulle soveel mense met so ‘n lae vlak van politieke kultuur verdra,” het Poetin gesê.

Poetin het verduidelik dat beide Moskou en Washington vroeër ingestem het om ‘n gelyke aantal diplomate in hul onderskeie lande te hê, wat nie die geval was omdat die VSA veel meer diplomate in Rusland het.

“Streng gesproke, as ons praat oor volle pariteit, behoort daar nie 455 Amerikaanse diplomate in Moskou te wees nie, maar minder as 155. Daarom behou ons ons die reg voor om ook ‘n besluit te neem oor die aantal Amerikaanse diplomate, maar ons sal dit nie nou doen nie. Ons sal ‘n oog hou oor hoe die situasie verder ontwikkel,” het die president beklemtoon.

Poetin het gesê Amerika het nie die reg om Russiese diplomatieke personeel so onbeskaafd te behandel nie, al mag hulle doen wat hulle wil. “Maar wat anders hier is, is dat dit op ‘n onbeskaafde wyse gedoen is, en dit stel ons Amerikaanse vennote nie in ‘n goeie lig nie.”

“Met betrekking tot die geboue en fasiliteite [van die Russiese diplomatieke missie in die VSA], is dit regtig ‘n ongekende voorval,” het Poetin gesê. “Die Amerikaanse kant het Rusland van die reg om ons eiendom te gebruik, ontneem. Dit is ‘n duidelike skending van Rusland se eiendomsreg. Daarom vra ek die Russiese ministerie van buitelandse sake om regstappe te neem. Kom ons kyk hoe die veelbeprese Amerikaanse regstelsel werk.”

Rusland se ministerie van buitelandse sake het versoeke gestuur aan kundiges om ‘n regsgeding teen die VSA op te stel oor die onwettige beslaglegging op diplomatieke eiendom, het Sergei Lavrof, minister van buitelandse sake, bevestig.

VK: Inset oor ‘progressiewe’ Moslem-vroue verwyder na gas se hatergeskiedenis opduik

Die Verenigde Koninkryk se openbare uitsaaier Channel4 News het ‘n program aangebied deur verslaggewer Assed Baig waarin Moslemvroue “terugveg deur stereotipes te verwerp”. Die inset het Nadia Chan geprys, wat ook ekstremistiese menings huldig.

Die verlinkse Channel4 het die kort dokumentêr aangebied waarin ‘n vrou met ‘n geskiedenis van gewelddadige, rassistiese en godsdienstige ekstremistiese retoriek aanlyn as voorbeeld van ‘n Moslem-rolmodel deelgeneem het. Die vrou het haarself in die verslag voorgestel deur te sê: “My naam is Nadia Chan en ek het ‘n meestersgraad in Regte. Ek beskryf myself as ‘n anti-koloniale Islamiet.”

Kykers wat na Chan se aanlyngeskiedenis gekyk het ná die uitsending verlede Donderdag, het ‘n Twitter-rekening gevul met rassistiese aanmerkings teen wittes en gemengde-rasse, en ondersteuning vir terrorisme ontdek.

Channel4 het intussen die verslag en video van sy webwerf verwyder asook twiets wat die program adverteer. ‘n Woordvoerder het gesê: “Verlede Donderdag, het Channel 4 News ‘n verslag uitgesaai kyk na die rol van Moslem vroue in die Britse samelewing. Na aanleiding van aanhitsende kommentaar wat aanlyn gemaak is deur een van die vroue wat in die vooraf-opgeneemde onderhoud verskyn het, het ons besluit om die stuk te verwyder terwyl ons verder ondersoek instel.”

Maar terwyl hulle nog “ondersoek instel” het sosiale media-gebruikers dit alreeds gedoen.

Chan beskryf die Iere as “parasiete” en vra vir gewelddadige militansie teen die Britse regering en blankes. Sy het ook Moslems aangemoedig om “gewapende verset van die Islamitiese Jihad” te ondersteun op die Islamitiese staats-TV.

Chan se tweets wissel van openlike vyandigheid jeens blankes, rassistiese aanhalings deur Robert Mugabe, en oproepe tot geweld teen die polisie. “Die enigste wit man wat jy kan vertrou, is ‘n dooie witman,” het sy geskryf, en Mugabe aangehaal.

“Ons benodig harde militantes, hulle [wittes] probeer ons doodmaak en hulle word dapperder. Hierdie stinkerds [“honkies” ‘n rassistiese term] sal meer doodmaak, tensy hulle gestop word,” het sy geskryf. Sy beskryf witmense as “parasiete” en “grotmense” in verskeie twiets, omdat sy blykbaar glo dat die Europeërs die uitvinding van seep van Moslems ontvang het. “Eintlik Moslems (90 persent Pakistan is Moslem) was hulself 5 keer per dag, in teenstelling met julle vieslike wit grot parasiete, het moslims vir jou seep gebring onthou.”

Sy het haar afkeer uitgespreek vir gemengde-ras-mense met een Europese ouer met opmerkings soos “[jou] mamma is wit ew [walglik] lol,” en “My meegevoel met julle witmense, maar hou altyd PAKISTANIS uit jou m*****f*****. ‘Moenie jou bek rek nie!'”

Channel4 het vinnig die twiet uitgevee na die 6-minute dokumentêr wat verontwaardiging van die publiek uitgelok het.

Die verslaggewer Assig Baig, wat Chan uitgenooi het, was vroeër berispe omdat hy Moslems as “Uncle Toms” uitgeskel het vir die bywoning van onthale wat deur die Britse regering gereël word. Die ondersoekende joernalis Baig het matige Moslems aangeval met rasse-beledigings, insluitend “huismoslems”, en selfs beweer dat Britse Moslems wat sulke Islamitiese geleenthede bygewoon het, te gehoorsaam is aan blankes.

Baig het ook Britse soldate aangeval. “Hulle is nie my seuns of ‘ons’ seuns nie … Sedert wanneer het ons begin om betaalde soldate te prys, met Kevlar-beskerming, lugondersteuning, swaar masjiengewere, gepantserde voertuie en tenks as helde?”

Die Britse regering het kommer uitgespreek oor “haatspraak” van konserwatiewes, maar die Britse openbarediens-uitsaaier was duidelik nie bekommerd oor Chan se uitnodiging nie. En nog belangriker, waarom word sy nie van haatmisdade aangekla nie?

Establishment-witbroodjie Ramaphosa tref slaggat

Die adjunkpresident van Suid-Afrika, Cyril Ramaphosa, wat allerweë as die establishmentkandidaat gesien word betreffende die magstryd om die ANC-leierskap, het oor die naweek ‘n slaggat getref in die vorm van ‘n seksskandaal. Selfs die rand het in reaksie op die nuus matig verswak vanaf R12,90 per VS-dollar tot R12,97.

Ramaphosa het ter elfder ure gepoog om die onthullings oor sy privaat lewe deur die koerant Sunday Independent te keer by wyse van ‘n dringende aansoek in die Gautengse Hooggeregshof, Johannesburg- plaaslike afdeling. Regter Vally het egter Saterdag bevind dat Ramaphosa geen gronde het om publikasie te verhoed nie. Die advokaat vir die verdediging het gemeen dat Ramaphosa eerder ‘n lastereis teen die koerant moet instel as om te poog om vooraf sensuur deur die hof te eis.

Ramaphosa word allerweë as die establishment-kandidaat gesien wat Jacob Zuma moet opvolg, vanweë sy bande met die Johannesburgse sakewêreld en bepaalde oligarge wat ‘n groot deel van die SA ekonomie beheer. Die onthullings dat Ramaphosa blykbaar ten minste agt minaresse gehad het terwyl hy steeds getroud is, het sy openbare aansien geknou.

Op verskeie radiostasies is daar gepoog om die skade te beperk deur argumente dat Ramaphosa se privaat lewe niks met sy politiek of sy integriteit as politikus te make het  nie. Die redaktrise van die Suid-Afrikaanse Huffington Post, Ferial Haffajee, het gereageer deur te sê:

“Suid-Afrika volg nie die seksuele waardes van vele Westerse nasies waar ‘n seksskandaal ‘n politikus tot ‘n val mag bring nie. Ons norme is van Afrika en om op ons vasteland ‘n manlike politieke leier te vind wat nie ‘n eggenote en verskeie minaresse aanhou nie, is soos om vir die spreekwoordelike naald in die hooimied te soek…

Die skandaal sal waarskynlik bloot sy aantreklikheid as ‘n prins vir die meer konserwatiewe blanke Suid-Afrikaners en vir die sakegemeenskap skaad, wat hom vergoddelik het as iemand sonder foute en die antitese van die bankrotskap van president Jacob Zuma. Nou het hy hom onthul as sterflik en met voete van klei. En, blykbaar, met meer minnaresse as wat Zuma vrouens het.”

 

Ramaphosa het in ‘n kwalik bedekte aanval op die Zuma-kamp teruggekap deur te sê dat staatshulpbronne soos die nasionale intelligensiediens misbruik word om magstryde binne die ANC te besleg.

“Dit moet gesien word binne die konteks van ‘n breër veldtog gemik teen verskeie politieke leiers, vakbondleiers, joernaliste en aktiviste in die breër samelewing,” het Ramaphosa Saterdag in in ‘n verklaring gesê.

Die skandaal sal waarkskynlik die Zuma-kamp se hand sterk en mev. Dlamini-Zuma se kanse verhoog om in Desember leier van die party en uiteindelik president van die land te word.

Britse LP’s vra ondersoek na wit dogtertjie by Moslem-pleegouers beland

‘n Ondersoek na die plasing van pleegkinders is deur LP’s in Brittanje aangevra nadat ‘n wit Christen-kind na bewering in die sorg van ‘n nie-Engelssprekende Moslem-familie geplaas is.

Die klein telgie, vyf jaar oud, wat Engels as haar moedertaal praat, is die afgelope ses maande in twee verskillende Moslem-huishoudings geplaas. In een van die huise het die pleegmoeder ‘n nikab gedra, terwyl die ander in die ander ‘n boerka gedra het.

Die Moslems het haar gedwing om haar kruisie wat sy om haar nek dra, te verwyder en sy is nie toegelaat om haar gunsteling kos, carbonara, te eet nie omdat dit spek bevat. ‘n Vertroulike verslag van die plaaslike owerheid, is deur The Times gelek.

In een van die huishoudings is sy gedwing om Arabies te leer. Maatskaplike dienste is bewus gemaak van haar situasie nadat sy begin huil het en gepleit het om nie terug te gaan na die familie nie omdat “hulle nie Engels praat nie”. In die verslae het ‘n maatskaplike dienswerker is die dogterjie beskryf as “erg getraumatiseer”.

‘n Vriendin van die meisie se ma het aan The Sun gesê: “Dit is ‘n vyfjarige wit dogtertje. Sy is vasgevang in ‘n wêreld waar alles vreemd en onbekend voel. Dis onstellend vir ‘n jong kind.”

Sedert haar plasing in Tower Hamlets, Londen, het die dogtertjie glo aan haar ma gesê het: “Kersfees en Paasfees is dom” en dat “Europese vroue onnosel en alkoholiste” is, het The Telegraph berig.

Volgens The Times het ‘n regter beslis dat dit in die kind se beste belang sal wees om saam met ‘n familielid te woon wat na haar sal omsien met betrekking tot etnisiteit, kultuur en godsdiens.

Sy het die Tower Hamlets-munisipaliteit in Londen beveel om ‘n dringende ondersoek na die saak te doen, wat sy “diep verontrustend” genoem het en ‘n saak van dringende openbare belang.

Maar die munisipaliteit weier om te onthul waarom die die besluit geneem is. ‘n Woordvoerder vir die raad het gesê: “Ons kan nie kommentaar lewer op individuele sake of dié wat onderhewig is aan hofverrigtinge nie.” Die Londense munisipaliteit het egter gekla oor “onakkuraathede” in die beriggewing deur The Times.

Volgens hulle is die meisie tydelik geplaas by ‘n Engelssprekende gesin van “gemengde ras”.

Na die verhoor by die gesinshof het die dogtertjie se familie groot verligting uitgespreek om haar terug te hê. Sy is in die sorg van haar ouma geplaas.

Neil Carmichael, die voormalige Tory-voorsitter van die Education Select Committee, het ‘n ondersoek na plasings gelei, maar kort ná die algemene verkiesing, nadat hy op 8 Junie sy setel verloor het, is dit opgeskort.

Hy het gesê: “Dit is nie die soort ding wat ons nie wil sien nie, sou ek gedink het. Ek dink dit is baie belangrik dat jong kinders gemaak word om tuis te voel, gemaklik moet voel, as ‘n volwaardige familielid te voel.

“Dit moet die sleutelriglyne wees.”

‘n Departement van Onderwys-woordvoerder het ook gesê ‘n kind se agtergrond moet ‘n “belangrike oorweging” vir owerhede wees.

Plaaslike owerhede moet ‘n kind se godsdiens, rasse-oorsprong en kulturele en taalkundige agtergrond oorweeg wanneer hulle binne pleegsorg geplaas word.

Miqdaad Versi, die assistent-sekretaris-generaal van die Moslemraad van Brittanje, het sy verontwaardiging oor die Times-verslag te kenne gegee: “Demonisering van die vreemdeling, veral die Moslem-vreemdeling, is die duidelike onderstroom in hierdie hele stuk. Dit is verskriklik. ” Van die dogterjie se ellende het hy niks gesê nie.

Universiteit van Transkei betaal studente ‘per ongeluk’ R14m, toe tref sy die winkels

‘n Diensverskaffer van die voormalige Universiteit van die Transkei, wat tans as die Walter Sisulu-universiteit bekendstaan, het vyf maande gelede “te veel nulle” by ‘n betaling vanuit die NFSAS-beursfonds gesit en R14 miljoen aan ‘n studente betaal. Die eintlike bedrag moes R1400 gewees het.

Die studente het dit aanvanklik stil gehou en het reeds R500 000 van haar “meevaller” uitgegee alvorens die universiteit sy fout agtergekom het. Dit was eers toe die gelukkige Transkeise studente begin het om ‘n strokie van haar rekening op sosiale media te versprei dat die administrasie van die Walter Sisulu-universiteit onraad bemerk het.

Radiostasies het vanoggend gegons oor die R14 miljoen en op Radio 702 het omroepers en luisteraars die rede gevoer oor wat hulle sou doen indien dit met hulle gebeur. Oor SAFM het Yonela Tukwayo, die universiteit se woordvoerder, gesê dat “die studente daarvan bewus is dat die geld per ongeluk in haar rekening gedeponeer is”. Sy kon egter geen besonderhede verskaf oor waarop die studente intussen die geld bestee het nie. Hulle hoop om die geld van haar terug te eis omdat NSFAS reëls neerlê waarop beursgeld bestee mag word.

Sy het net R68 by die Spar van haar fortuin bestee, maar die oorblywende boerpot op die strokie toon meer as R13,6m.

Die hoof van die Betalingsvereniging van Suid-Afrika, Walter Volker, het egter tydens ‘n onderhoud gesê dat dit nie so eenvoudig is om die geld terug te eis nie. Geen bank mag die geld uit haar rekening onttrek nie en die universiteit sal haar eers moet dagvaar om dit van haar terug te eis.

“Dit is wat ‘n mens noem ‘n ‘elektroniese-fondsoorplasings-krediet’,” sê mnr. Volker. “As die geld in die ander persoon se rekening is, is dit hulle geld. En die bank kan nie eensydig net die betaling omkeer nie. Ooglopend kan die bank, indien daar ‘n fout van die een of ander aard was, kan die bank die persoon vra in wie se rekening die geld verkeer, of hulle dit vrywillig aan die regmatige eienaar sal teruggee. As hulle nie daartoe bereid is nie, dan het die persoon wat die fout begaan het geen ander keuse as om ‘n regsproses aanhangig te maak nie… Dit kan duur wees.”

Die hof van die SA Betalingsvereniging het voorts gesê dat die meeste mense sou toelaat dat die bank die transaksie omkeer en die geld aan die regmatige eienaar laat terugkeer. “Maar as hulle nie saamwerk nie, dan is die enigste uitweg om ‘n mens na die howe te wend, want die banke beskik nie oor die reg om net eensydig fondse rond te skuif nie,” sê Volker.

Blykbaar “ondersoek”die universiteit die saak en waarom die studente “so lank stilgebly het”.

 

Munisipaliteite verloor oor ou skuld in Grondwethof

Die Grondwethof van Suid-Afrika het vanoggend beslis dat nuwe huiseienaars nie verantwoordelik is vir die historiese skuld van vorige eienaars teenoor munisipaliteite nie. Van die laer howe het voorheen uitsprake gelewer dat munisipaliteite hul uitstaande erfbelastings en ander skuld van die huidige eienaar mag invorder, selfs jare nadat vorige eienaars sulke skuld laat ophoop het.

Verskeie munisipaliteite, waaronder dié van Pretoria, Durban en die Oos-Rand (Ekurhuleni) het aangevoer dat dit wettig is om op ‘n onlangs verkrygde eiendom beslag te lê en dit op te veil om skuld wat hulle toekom, te delg.

Die saak in die Grondwethof is aanhangig gemaak deur verskeie huiseienaars wat dié praktyk wou betwis.

In die verlede kon ‘n eiendom nie na ‘n nuwe koper oorgedra word alvorens ‘n munisipale sertifikaat uitgereik is nie, wat alle skuld oor ‘n tydperk van twee jaar uitwis.

Die nuwe eienaar is egter belas met alle skuld wat jonger as twee jaar was.

Die kruks van die huidige appèl was die interpretasie van die munisipale stelselswet wat deur munisipaliteite gebruik is om te weier om sulke klaringsertifikate uit te reik totdat alle skuld betaal was.

Regter Edwin Cameron het vandag se uitspraak, waaroor die regters eenstemmig was, gelewer. Volgens hom kan dit gelees word as sou munisipale skuld nie die oordrag van eiendom oorleef nie.