ANC meen Obamas behoort Kaapstad-toekenning af te wys

Die ANC sê die Amerikaanse president, Barack Obama, en sy vrou, Michelle, behoort nie Kaapstad se die vryheid van die stad-toekenning te aanvaar nie, berig die Cape Times.

“Vir ons is dit niks minder as ‘n afleiding nie, en ek dink dit sal jammer wees indien Obama die toekenning aanvaar van ‘n stad wat nie vir die armstes van die armes omgee nie,” het Songezo Mjongile, provinsiale ANC-sekretaris, aan die koerant gesê.

Patricia de Lille, burgemeester, het besluit om die Obamas te vereer vir die inspirerende voorbeeld wat hulle stel. Die president en sy vrou het die eer aanvaar.

Die Obamas sal vanaf 26 Junie tot 3 Julie ampsbesoeke aan Senegal, Suid-Afrika en Tanzanië bring.

De Lille het aan die koerant gesê geen reëlings is nog getref om die toekenning aan die Obamas te oorhandig nie.

ANC en DA ‘histeries’ oor Afrikanergemeenskap by Kleinfontein

Sowel die ANC as die DA het gister in Johannesburg, volgens ‘n toehoorder by die Gauteng- provinsiale wetgewer, “histeries geraak” oor die bestaan van die Afrikanergemeenskap by Kleinfontein.

‘n Bedrag van R270 000 is reeds bestee aan ‘n “ondersoek oor Kleinfontein”, sonder dat daar nog ‘n verslag voortgebring is. Mnr. Jaco Mulder van die Vryheidsfront wou nie daarop kommentaar lewer nie, omdat “hy nog nie die verslag gesien het nie”. Volgens hom is die bedrag egter bestee vir ‘n enkele besoek van provinsiale amptenare wat glo in ‘n kavalkade met lyfwagte en “selfs ‘n ambulans” na die dorpie oos van Pretoria gery het.

Die DA is sterk gekant teen die voortbestaan van Kleinfontein as Afrikanergemeenskap en het die voortou geneem met ‘n betoging van sy jeugliga onder leiding van Mbali Ntuli by die ingang van Kleinfontein. Sowel by die Gautengse wetgewer as die sogenaamde Tshwane-metro is die DA en die ANC besig om mekaar aan te hits om teen Kleinfontein op te tree.

In Afrikanerkringe word daar kommer uitgespreek dat die twee grootste partye in die land wat teen die 1000 Afrikaners by Kleinfontein saamspan, tot polarisering, konfrontasie en selfs geweld mag lei. In die voormalige Joego-Slawië het optrede teen etniese minderheidsenklawes deur die meerderheid in daardie gebied tot burgeroorlog aanleiding gegee.

PRAAG het ook die leidster van die DA, me. Helen Zille, met vrae genader oor die party se amptelike standpunt jeens Kleinfontein, wat tans afgewag word.


Siriese joernalis deur skerpskutter gedood

‘n Skerpskutter het Maandag ‘n bekende Siriese joernalis naby die Libanese grens doodgeskiet, het die media berig.

Yara Abbas, ‘n verslaggewer vir die staatsbeheerde al-Ikhbariya-nuuskanaal, is naby die Debaa-lughawe doodgeskiet.

Abbas is volgens staatsbeheerde media deur rebelle geteiken.

Die Siriese Waarnemers vir Menseregte het gesê verskeie lede van Abbas se televisie-span is ook in die aanval beseer.

Abbas was ‘n bekende op Siriese televisie. Sy het gereeld saam met die weermag gereis om oor die Siriese burgeroorlog verslag te lewer.

Verskeie buitelandse verslaggewers ook hul lewens verloor in die konflik, insluitende bekroonde Franse TV-verslaggewer Gilles Jaquier, fotograaf Remi Ochlik en Brittanje se Sunday Times-korrespondent Marie Colvin. Anthony Shadid, ‘n korrespondent vir The New York Times in Sirië, is ook oorlede.

Google wil net oor Afrika span

Google wil netwerke van Sub-Sahara-Afrika tot Suidoos-Asië finansier, oprig en bestuur in die hoop om ongeveer ‘n miljard mense in ontluikende lande internettoegang te gee, het die Wall Street Journal (WSJ) berig.

Die internet-soekreus gebruik ‘n verskeidenheid tegnologiese hulpmiddels en is in gesprekke met reguleerders van Suid-Afrika tot Kenia oor sy planne, het die WSJ berig.

Die hoë koste van infrastruktuur, streng regulasies en moeilike geografiese ligging het tot nog toe internettoegang in verskeie Afrikalande belemmer.

Google sal glo steun probeer werf by reguleerders om golwe te gebruik wat tot dusver uitgehou is vir televisie-uitsendings, en wat teen laer frekwensies deur geboue en oor langer afstande kan beweeg.

Verder wil Google lae-koste-selfone verskaf en ballonne daarvoor gebruik om seine van hoër hoogtes oor honderde vierkante kilometer uit te stuur.

Die maatskappy het reeds met verskeie kleinskaalse oefenlopies begin, waaronder ‘n proefneming in Kaapstad.

Google wou nie kommentaar oor die planne lewer nie. Beter toegang tot breëband-inligting strek tot voordeel van Google, omdat meer mense dan van sy soek- en ander dienste gebruik maak.

Doeanebeheer opgeskerp na Gupta-debakel

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal doeane-beheer verskerp by die Waterkloof-lugmagbasis en ander toegangspunte, het The Star Dinsdag berig.

Dít volg nadat ‘n vliegtuig met die Gupta-familie se trougaste op 30 April onregmatig op die lugmagbasis geland het.

In ‘n geskrewe antwoord op ‘n parlementêre vraag deur Tim Harris, DA-LP, het Pravin Gordhan, minister van finansies, gesê Waterkloof is “nie onder gewone omstandighede ‘n kommersiële toegangspunt nie”, maar dit sal ná die Gupta-voorval hersien word.

Harris het Gordhan gevra hoekom die SAID se doeanebeamptes nie teenwoordig was om te verseker dat doeane-prosedures gevolg word nie.

“Die bestuur van die SAID is beveel om te kyk watter lesse uit die voorval geleer is, en om voorstelle aan die minister van finansies te maak oor wat verander moet word om doeane-beheer by die nodige toegangspunte te verbeter,” het Gordhan gesê.

Gordhan het gesê Waterkloof is nie as ‘n internasionale lughawe geklassifiseer nie.

Diepsloot: Situasie gespanne na xenofobiese aanvalle

Die situasie in Diepsloot is steeds gespanne nadat ‘n Somaliese winkelier twee Zimbabwiërs doodgeskiet het, sê die polisie woordvoerder Lungelo Dlamini.

Buitelandse winkeliers in Diepsloot, Johannesburg skuil by ‘n motorwassery waar polisiebeamptes hulle beskerm nadat inwoners die naweek hul winkels geplunder het.

‘n Ethiopiese man het aan Eyewitness News gesê hy smous kruidenierswarel in die gebied. Hy sê hy is bang hy word deur die plunderaars geteiken en wil hê die polisie moet hom beskerm.

Die polisie se vinnige optrede het glo verhoed dat die geweld verder uitbrei.

“Dit lyk soos apartheid. Die mense beroof nie plaaslike winkels nie, maar wil net buitelanders se winkels besteel.”

Diepsloot-inwoners sê die naweek se moord en die grootskaalse plundering van 19 buitelanders se winkels, is as gevolg van frustrasie oor werkloosheid en armoede.

Die Somaliër beweer die oorledenes het sy spaza-winkel probeer beroof.

Inwoners het op die winkel toegeslaan in reaksie op die moorde.

‘n Ooggetuie sê inwoners het ná die skietery hul woede op buitelanders in die gebied gerig en gedreig om hul winkels af te brand.

Suid-Afrikaners is vyandig teenoor buitelanders in Diepsloot sê ‘n Zimbawiese burger en sê buitelanders steel hul werksgeleenthede en vroue.

ANC-tenderpreneur ‘aan die werk’ in Pretoria

Beeld berig dat die ANC in die sogenaamde Tshwane-metro “in die kruisvuur verkeer oor tenders van miljoene rande wat glo op verdagte wyse aan die party se streeksekretaris toegeken word.

Die Tshwane-metro het in April ’n tender teen meer as R3,3 miljoen aan die maatskappy Paul & Partners Engineers & Quantity Surveyors toegeken vir werk oor drie jaar aan die New Parkmore-reservoir in die ooste van Pretoria.

Die maatskappy behoort aan Paul Mojapelo, ANC-streeksekretaris in Tshwane.

Daar is aanvanklik aanbeveel dat die tender toegeken word aan EVN Africa Consulting Services, wat die werk vir R1,1 miljoen sou doen.

EVN Africa het 95 bodbeoordelingspunte gekry en Paul & Partners 86 punte, weens dié maatskappy se hoë tenderprys.

Afgesien van EVN Africa het agt ander maatskappye beter punte as Mojapelo se maatskappy behaal.

Daar was volgens inligting ‘ingryping van bo’ wat meegebring het dat Paul & Partners die tender gekry het.”

’n Senior amptenaar in die aankope-afdeling het gesê die tegniese evaluering is ’n “groot grap”.

“EVN Africa doen groot projekte oor Suider-Afrika heen en Paul & Partners het nie eens ’n webwerf nie. Maak jy die som.”

Daar was in November 2011 soortgelyke vrae oor ’n tender vir werk in talle van Tshwane se munisipale streke, wat aan Mojapelo toegeken is.

Mojapelo het gesê hy het ’n wettige maatskappy en betaal belasting.

“Daar is geen rede waarom ek nie vir Tshwane werk kan doen nie.”

Die Tshwane-metro het nie op navrae gereageer nie.

Volledige berig hier.

Xenofobiese geweld vlam op ná buitelandse inmenging

Orange Farm en Sebokeng gaan kwaai gebuk onder xenofobiese geweld, en die aanvalle is onlosmaaklik deel van ander kwessies in hierdie gemeenskappe wat deur buitelandse inmenging vererger word.

Orange Farm, suid van Johannesburg, en die naburige Sebokeng-plakkerskampe, is uiters gespanne nadat xenofobiese aanvalle op buitelandse winkeleienaars Vrydag weer opgevlam het.

Die mededinging om skaars hulpbronne, soos HOP-huise en kliënte vir informele handelaars wat moet staatmaak op ‘n grootliks werklose gemeenskap vir inkomste, het Vrydag tot hernude geweld gelei.

Die plundering wat gevolg het teen buitelandse winkeleienaars in die gebied, was byna identies aan dié van Februarie 2010 toe swart skoolkinders buitelanders se winkels in Orange Farm onder die dekmantel van diensleweringprotes aangeval het.

Hierdie keer is die protes georganiseer deur Wasp, wat tans egter alle betrokkenheid in die plundering ontken. Dié nuwe party word deur buitelandse geld en wit kundigheid van oorsee bedryf en hits swartes aan teen ‘kapitaliste’.

Llt.kol Lungelo Dlamini het gesê die gebeure het Maandag met ‘n diensleweringprotes buite Sebokeng begin. Paaie is versper en die protes het vinnig versprei na die naburige Evaton en Orange Farm, binne sowat 20 minute.

Die polisie vermoed die paaie is versper in ‘n poging om beamptes te verhoed om  toegang tot die gebiede waar die plundering plaasgevind het, te verkry.

Teen Donderdag het die polisie buitelanders aangeraai om die gebied te verlaat en selfs gehelp om sommige van hulle se winkels en huise te pak.

Die polisie het ook inligting ontvang dat skole gesluit sou word Vrydag sodat kinders kan deelneem aan die protes.

Daardie middag, is winkels in Sebokeng geplunder en hul buitelandse eienaars moes vlug. Die plundering het gou oor die grens van Gauteng na Orange Farm gespoel waar meer as 100 mense in hegtenis geneem is. Hulle sal in die hof verskyn hierdie week.

Die voorval herinner aan die 2008-xenofobiese geweld waarin meer as 60 mense dood en duisende ontwortel is.

Harde dwelms by Moot-skool gevind

Kokaïen en ander dwelms is gevind by ‘n skool in die Moot, Vrydagmiddag.

Die ontdekking van ongeveer sewe sakkies kokaïen by die Hoërskool Staatspresident CR Swart in Waverley het weer eens bewys dat dwelms in skole vinnig besig is om ‘n epidemie te word.

Die Tshwane Metropolisie se klopjag op die skool het Vrydagoggend plaasgevind, na aanleiding van ‘n wenk van besorgde lede van die gemeenskap sowel as die skool.

Uit 14 kinders wat as gebruikers geïdentifiseer en getoets is, het drie positief vir dwelmgebruik getoets.

Volgens supt Isak Mahamba, het hulle op die skool om 09:00 op Vrydagoggend toegeslaan.

Nie een van die dwelms waarop beslag gelê is was in die besit van die leerlinge nie, maar op die skoolterrein gevind, omdat hulle na bewering die pakkies uit die vensters gegooi het toe hulle hoor van die polisieteenwoordigheid.

Mahamba het gesê dat die skool is ‘n bron van kommer as gevolg van die groot aantal leerlinge wat hulle genader het vir hulp met betrekking tot dwelmverslawing.

Hy het gesê dat sewe klein sakkies kokaïen, sowel as dagga is gevind.

Mahamba het gesê ouers en onderwysers moet betrokke raak in die identifisering van kinders wat hulp nodig het. Hy het gesê hulle sal dwelmklopjagte uitvoer in die komende maande by verskeie ander skole.

Hoërskool Staatspresident CR Swart was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Franse anti-gay-optog raak gewelddadig

Die Franse polisie het bykans 300 mense in hegtenis geneem tydens ‘n optog in Parys waarin standpunt téén gay-huwelike en aannemings ingeneem is.

Die betoging was aanvanklik vreedsaam en deelnemers het vlae en baniere gewaai. Die betogers het egter later bottels en rookbomme na die polisie begin gooi. Honderde jeugdiges was betrokke.

Die polisie het traangas gebruik om die betogers uiteen te jaag.

Volgens die owerhede het sowat 150 000 mense aan die protesoptrede deelgeneem, maar die organiseerders sê daar was minstens een miljoen mense.

Frankryk het onlangs gay-huwelike goedgekeur en die eerste troue tussen twee mans was Woensdag in Montpellier in die suide van Frankryk.