praag.co.za

Category: Sport

  • Federer, tennis se grootmeester

    Dit gebeur min dat ‘n groot sportman se uiteindelike nalatenskap in een sekonde – een hou of tree of hekkie of skoot – bepaal word. Maar vir Roger Federer hét daar so ‘n oomblik aangebreek. Daar was twee moontlike uitslae: Is hy suksesvol in daardie sekonde, sal hy voortgaan om uiteindelik sy status as die beste speler om ooit ‘n tennisraket op te neem, beklink. Misluk hy, sal hy in alle waarskynlikheid wegsink in die kronkels van sy eie innerlike worstelinge en die gety van geskiedenis, gedoem om bloot ‘n besprekingspunt in ‘n debat oor grootsheid te wees.

    Vir Federer om aanspraak te maak op die toppunt van die grootsheidspiramide was dit nog altyd onontbeerlik om die Franse Ope te wen. Sedert die eerste helfte van die dekade was hy die onbetwiste grootmeester op hardebane en gras; en ook die tweede beste speler op die klei van Roland Garros. Hy sou, was dit nie vir Rafael Nadal nie, ook daar die primêre speler van sy era gewees het.

    Sy groot kans, die geleentheid wat so selde kom, het in 2009 aangebreek. Die een kleispesialis na die ander het gebuig en die verhoog verlaat. Nadal self het in die perfekte wedstryd gespeel deur ‘n Sweedse orkaan – brutaal, rou, vol skerp kante en verwoestende grondkartetse – met die naam Robin Soderlingh uitgeval. Federer het nooit voorheen so ‘n oop roete na die Franse kroon gehad nie. Maar toe duik Tommy Haas in die kwarteindrondte op.

    Federer was in ‘n speldeining, nie ‘n ongewone gebeurtenis nie. Gewoonlik het hy dit bestuur deur een of ander wapen in sy arsenaal te vind waarop hy kon vertrou, sy spel daarom te konstrueer en sy teenstaander af te takel. Maar dié keer wou weinig werk – nie sy sjirurgiese rughand nie, en ook nie die voorhand wat as die gevaarlikste wapen in manstennis beskou is nie. Sy voetwerk was onseker, sy voorgevoel dof. Dit alles in ‘n stryd met die uitspattig begaafde Haas, ‘n deurgaanse onderpresteerder wat gespeel het asof die noodlot hom geroep het.

    Haas het, toe hy eers vasgestel het dat Federer se wapens dowwerds skiet, begin om ware swakpunte in die Switser se pantser te soek – en te vind. Federer was naderhand soos ‘n slagskip wat al sy wapenstelsels verloor het, met die uitsondering van een. Sy afslaan het so presies en dodelik soos altyd gevuur. Maar net soos ‘n skip nie op een hoofwapen vir oorlewing kan staatmaak nie, was Federer besig om as’t ware in die klei van die Stadion Phillipe Chatrier weg te sink. In die aangesig van Haas se dwarsbaan-, middelbaan-, agterbaanwenners, het Federer se afslaan geknal en knal en knal, uiteindelik met ‘n desperate, verwese noot.

    Haas het die eerste twee stelle maklik gebank en in die derde stel het hy ‘n enkele punt op Federer se afslaan nodig gehad om hom noodlottig te breek vir ‘n oorwinning. Hy het die diens ontvang en die bal in Federer se rughandkant ingedruk.

    As jy een van die beste spelers in die wêreld is, kerf jy die bal met jou rughand terug in desperate vertroue dat elke hou wat jy suksesvol terugstuur vir jou opponent die geleentheid gee om ‘n fout te maak; ‘n soort van ‘n gelate werp van brood op wispelturige waters. Maar as jy Roger Federer is, is dít nie wat jy doen nie. Dán hardloop jy om die invalsrigting van die bal, vind daardie volmaakte oomblik van balans en, al het jy ‘n honderd sulke balle herwaarts en derwaarts in die wedstryd gesprei, werp jy jou raket met volle uitgelatenheid, volle oorgawe, in ‘n vlietende kring sodat daar ‘n plofknars op die snare is en die bal van die raket af sis, oor die net suis en die buitestreep tref en wegskroei van jou teenstander af.

    Daardie een hou van Federer kan dien as opsommend van sy loopbaan, ’n oomblik van verbysterende meesterskap, ’n blitsige passie saamgestel uit al sy kenmerke van balans, fokus, grasie en dodelike venyn.

    En net daar, so skielik asof ‘n foutiewe stroombreker vervang is, skakel Federer aan. Dis alle stelsels aan! Die wapentorings zoem met hernude lewe. Die slagskip stoom volspoed.

    Die een voorhand na die ander donder deur Haas se verdediging. Rughandlasers tref die diepste hoeke, valhoutjies huppel skalks oor die net, sierlike booghoue laat Haas lyk asof hy in homself vashardloop. Federer wen die derde stel, die vierde stel, die vyfde stel, die halfeindrondte en, nou met ‘n sekere onafwendbaarheid, die eindstryd teen Robin Soderlingh wat hy tot ‘n briesie eerder as ‘n orkaan reduseer, en dan majestueus uitdoof.

    Met die Franse Ope-titel in die Federer-vertoonkas, is die debat vir alle praktiese doeleindes oor. Dit sal OJ Simpson-se-jurie gehalte vooroordeel verg om vir Roger Federer sy plek as die beste tennisspeler ooit te ontsê.

    Daar is die onbestrybare, koel feite: Sestien Grand Slam-titels versamel in al vier die hooftoernooie, op gras, op hardeblad, op klei. Miskien nog meer veelduidend is die ononderbroke rits van 23 Grand Slam-halfeindrondtes waarop hy trek – die volgende beste reeks was Ivan Lendl se tien.

    Alle sport vaar op die stroom van statistieke, maar die getalle vertel nie die ware verhaal van Roger Federer nie. Dit is nie net die “wat” nie, maar eerder die “hoe” wat tel. Hy slaan die bal hard, ja, so hard soos omtrent enige ander speler – sy voorhand is deur John McEnroe beskryf as die gevaarlikste wapen in manstennis – en ja, hy het die voetwerk van ‘n klopdanser en luiperdagtige atletiese vermoëns. Sy afslaan is dodelik, dit is so, onmoontlik om te voorspel omdat hy soveel variasies daarvan het alhoewel hy die bal elke keer op presies dieselfde plek in die lug gooi.

    Maar daar is ook ‘n sekere oudmodiese element aan sy spel, ‘n elegansie en taktiese sofistikase wat die kenmerk in die spel van ‘n vorige geslag spelers was. In vrye vlug het hy die grasie van ‘n Bariesjnikof, die swier van ‘n matador en die ingestudeerde dodelikheid van ‘n skaakgrootmeester. Niemand is beter met die ontleding van teenstand as Federer nie en dit is altyd vasnaelend om te sien hoe hy ‘n opponent sal toets-toets-toets totdat hy ‘n swakplek gevind het, en hoe meedoënloos en akkuraat hy dié pantsergleuf dan uitbuit.

    Dis ook asof hy die driehoeks- en meetkunde van ‘n bewegende bal beter as enige iemand anders verstaan, wat hom die vermoë gee om ‘n gevaarlike bal nie net terug te slaan nie, maar om inderdaad ‘n wenner daarvan te maak. (Later die jaar in sy VSA-Ope-halfeindstryd teen Novak Djokovic het hy ‘n bal tot anderkant die afslaanstreep agterna gesit en dit van vooraf teruggekrap, tussen sy bene deur, ‘n hou wat al deur ander spelers uitgevoer is, maar met die verskil dat syne ‘n volmaak gekorrelde verbyhou vir ‘n wenner was.)

    Tennis se verbintenis met die massamedia, het van dit nie net ’n sport nie, maar ’n skouspel gemaak, en daar word van ’n ster verwag om meer te wees as net ’n sukses op die baan. Vir die nuusnetwerke en die sterrepers is Federer ‘n gawe reguit uit die hemel. Hy is sjarmant, hoflik en veelbesproke in drie tale – Duits, Frans en Engels. Sy geduld met die pers is legendaries. (Nadat ‘n joernalis ‘n lang onderhoud met Federer gevoer het en toe tot sy afgryse uitgevind het sy stemopnemer was nie aan nie, het die tennisster ewe gemoedelik voorgestel dat hulle die onderhoud van vooraf voer.) Hy is modebewus en kan altyd deur ‘n ring getrek word, mees roemryk op Wimbledon in sy glanswit opwarmuitrusting wat meer aandpak as sweetpak was.

    Tog was die Federer op die kruin van sy loopbaan amper onherkenbaar as die briljantbegaafde maar opvlieënde speler van vroeër. Hy was eers ‘n regte raketkraker met ‘n poniestert. Waarnemers het gereken sy emosionele broosheid sou hom van ware grootsheid beroof. Maar hy het homself herontwerp en hoewel hy nou nog uiters emosioneel op die baan kan wees, is sy psigiese onwrikbaarheid een van die sleutels tot sy langdurige sukses.

    Grootsheid bestaan egter nooit in afsondering nie. ‘n Sportman se status word deur sy teenstaanders bepaal. ‘n Mike Tyson, byvoorbeeld, het nooit die ware legendehoogtes behaal nie, juis omdat hy in ‘n tyd geboks het waar daar weinig hoë-gehalte teenstand was. Federer daarenteen is goed gedien met sy teenstand. Borg het sy Connors gehad, McEnroe sy Lendl en Sampras sy Agassi, maar Federer se primêre nemesis sou die jong Spanjaard, Rafael Nadal, word, ‘n monster van ‘n speler wie se onverbiddelike, brute krag en baanspoed uiteindelik Federer se vermoëns dungeskuur het, hoofsaaklik in die Franse Ope, maar ook in 2008 se klassieke Wimbledon-stryd en 2009 se epiese Australiese Ope.

    Nadal het selfs vir ‘n tydperk Federer se nommer-een posisie afgeneem, maar voordat ‘n Nadal-era kon aanbreek, was dit die Spanjaard wat momentum verloor het en Federer het drie van die volgende vier Grand Slams gewen. En verlede jaar het ’n nuwe maarskalk uiteindelik die slagveld verower. Novak Djokovic, op sy beste, was duidelik beter as Nadal op sý beste. Federer het sy Nadal gehad, maar Nadal het nou sy Djokovic.

    Hoe lank Federer nog sal aanhou, is ‘n ope vraag. Hy is reeds deur die ouderdomsgrens van 30, ‘n gevorderde ouderdom vir ‘n tennisspeler. (Bjorn Borg, onthou, het op 26 uitgetree.) Hy het goed afgeskop in die jaar en Djokovic hét effens teruggedaal uit die stratosfeer van verlede jaar, maar hy weet nou hoe goed hy kan wees. Nadal bly so gevaarlik soos altyd, en dan is daar nog Andy Murray ook. Tog sal dit niemand verbyster as Federer nóg ’n Grand Slam of twee by sy oes voeg nie.

    Daar is ‘n gevoel van ‘n grootsheid wat verbygaan elke keer as Federer speel. Maar tot daardie dag aanbreek, het ons die voorreg om sekerlik die grootste tennisspeler van alle tye, die ware kunstenaar van die baan te sien, as hy nogmaals in posisie sweef, nogmaals die sekondebreuk van volmaakte balans vind, en die bal slaan soos niemand anders nie.

    Фильчаков прокурор

  • Oosthuyzen en die onoorbrugbare net-net

    So hier is die plan: Vat ’n groot lap aarde, boor 18 gate, wyd van mekaar versprei, daarin, gee vir ’n paar jongmanne elkeen ’n paar stokke van verskillende groottes en laat hulle kyk wie kan ’n bal met die minste houe in al die gate kry. Dis gekkigheid. Dis gholf. Wat ek ook al betaal word om sport namens Praag se gewaardeerde lesers dop te hou, dis nie genoeg nie, nie wanneer die betrokke sport die Amerikaanse Meesters-gholftoernooi is nie. En nie wanneer ’n jong, innemende Afrikaner ’n kans het om die wêreld se bestes ore aan te sit nie. Dán word gholfkyk uitmergelend, ’n marathon van senuweeuitputting, ’n uittorring van die siel wat vir g’n mens goed kan wees nie. Vergeet van rugby, moet krieket nie eens noem nie: Wanneer dit by spanning kom, is daar niks soos gholf nie.

    Ek wil nie eers dink waardeur die spelers gaan nie. Wat gholf so spannend maak, is die mikroskopiese speling tussen stratoferiese sukses en verpletterende neerlaag. Louis Oosthuyzen, is daar nou in die rekordboeke opgeteken, het uiteindelik tweede gekom nadat ’n Amerikaner met die Amerikaansste van name, Bubba Watson, hom in die tweede putjie van ’n valbylstryd geklop het. Saterdag, op een van die putjies, het ’n sethou van Oosthuyzen tot op die nippertjie van die koppie gerol. As dit ’n minuut van ’n graad verder gerol het, ’n enkele gholfbaldimpel verder, het Oosthuyzen ’n dag later die toernooi gewen. As ’n vlinder op daardie bal op die nippertjie gaan sit het, het die bal geval. In gholf kan die streling van ’n vlinder op ’n bal ’n ewige verskil maak.

    Nie dat Oosthuyzen sy vuis teen die noodlot moet skud nie. Hy het vroeër gister ’n massiewe skep geluk gehad. Op die tweede putjie was hy nog ’n hou agter die voorlopers. Hy het ’n naderhou van 160 meter in die nou bek van die setperk ingeslaan, die bal het teen die helling afgeswenk en aanhou rol totdat die putjie dit gesluk het. Dit was ’n albatros wat hom in een oomblik van -7 tot -10 versnel het. Hy sou die voorloper tot na die 18de putjie bly. Ongelukkig was hy toe nie meer die enigste voorloper nie. Watson het hom ingehaal.

    Oosthuyzen sal ook weet dat hy genoeg kanse gehad het om die toernooi te bêre. Hy was meer ontspanne as sy onmiddellike teenstanders wat die gesoute Phil Mickelson ingesluit het. De jonge Louis – Shrek, soos hy in gholfkringe bekend staan – het gemaklike gholf gespeel, sonder enige uitwendige tekens van spanning. Maar miskien was hy net té ontspanne, want op kritieke tye het hy die bal onnodig kort geslaan en het dit ysterkonsentrasie en ’n onwrikbare wil geverg om die situasie te beredder.

    Selfs in die uitspelery kon hy toegeslaan het. Met die tweede uitspeelputjie het Watson, wat die voorreg van eerstespeel gehad het, die bal tussen die dennebome ingehaak. Al wat die onverstoorbare Oosthuyzen moes doen, was om die bal in die skoonveld te kry, maar hy het óók gehaak en toe sy naderhou fataal kort geslaan.

    Watson, ’n speler wat op natuurlike flair staatmaak, het ’n verbluffende hou tussen die bome deurgeslaan en die bal tot twee-en-’n–halfmeter van die vlag gerol. Oosthuyzen het ’n finale set gehad, van ’n goeie vyf meter af en dit pynlik naby die kommetjie verby gerol. Watson het twee houe gehad om die toernooi te wen en het toe so gemaak.

    Wat gholf vir die speler so uitdagend en vreesaanjaend maak, is dat hy vir spitsoomblikke self nie veel meer as ’n toeskouer is nie. Die gholfswaai is ’n komplekse meganisme met ’n rits fynontwerpte en ingeoefende bewegings wat haarfyn aaneen moet skakel. Wanneer ’n speler sy hou beplan en aangetree het, wag hy vir ’n oomblik bo die bal en dan trek hy as’t ware die sneller. Van daardie oomblik af, gaan sy liggaam in ’n soort outomatiese beheer in. As één onderdeel van sy swaai, daardie gewelddadige aanvalsboog, uit fase spring, is die gevolg ’n katastrofe. Die speler is as’t ware ’n veer wat hy self opwen. Die oomblik wat die swaai begin, kan hy niks doen om die verloop daarvan te verander nie. Soos die res van die mensdom, moet hy maar wag om te sien wat hy gedoen het. Dit is die speler wat óf vir die grootste deel van die toernooi beheer oor sy swaai kan hou, óf, nog skaarser, in nood sy swaai nóg gladder, harder en presieser kan maak, wat die sterre van die spel word.

    Daarom kan ons vir Oosthuyzen maar in sig hou. Hy het reeds die grootste prys in gholf – die Britse Ope – op die wêreld se beroemdste gholfveld – die Ou Baan by St. Andrews in Skotland – gewen. Hy is onverstoorbaar en dit gee sy swaai die beste kans om keer op keer te doen wat nodig is.

    As Oosthuyzen hiérdie Amerikaanse Meesters gewen het, was hy die derde boerseun in vyf jaar wat dit kon doen, en dit sou ’n verstommende prestasie gewees het. Hy het net-net nie daarin geslaag nie.

    Maar in gholf is net-net ’n massiewe, ewige, onoorbrugbare kloof. Dit laat die speler verbyster. En die sportskrywer uitgeput.

    лобановский александр интервью

  • Rugby: Haaie skraap deur teen Brumbies

    Haaie 29, Brumbies 26

    Ag, sal iemand tog met die Haaie, veral hulle agterste driehoek, hulle voorspelers en hulle losskakel praat? En ek bedoel, praat stadig met groot gebare en, indien nodig, teken prentjies. Want blykbaar verwar die regstreekse uitskopreël hulle. Telkens, wanneer hulle die bal met die afskop ontvang, dryf die voorspelers waaghalsig tot net oor die kwartgebiedstreep, gee die bal terug tot in die kwartgebied en dan moet die arme ontvanger die bal binneveld hou. Dit beteken dat hulle sekondes later hulle doellyn met mag en mening moet verdedig.

    Hierdie eenvoudige wanbegrip het vanoggend (Boeretyd) hittete veroorsaak dat die Haaie verkleineer is met een van voetbal se vernuftigste Houdini-toertjies. Die Natallers was 29-19 voor met minute op die stophorlosie oor. Riaan Viljoen, heelagter, ontvang ’n diep bal in sy eie kwartgebied. Hy moet: A) Die bal terugsool, regstreeks oor die kantlyn naby of oor die middellyn skop waar die Haaie die lynstaan kan betwis, of B) Hy moet die bal gryp en terwyl daar geen druk op hom is nie tot buite die kwartgebied storm en die bal luglangs oor die buitelyn skop. So wat doen Riaan, hmm? haa? Natúúrlik! Hy B verskriklik en nou is daar ’n Brumbie-lynstaan net buite sy kwartgebied. Die Wildeponies val uitgelate aan, die Haai-verdediging stotter en die skrumskakel Nick White glibber deur vir ’n drie wat sy span binne vyf punte van die Haaie bring. Te midde van die jubelinge gryp iemand die bal en vervyf dit sommer met ’n skepskop. Oomblikke later tjank die sirene en die Haaie móét afskop en mág nie die bal regstreeks uitskop nie. Die Brumbies val van 85 meter af aan en op die ou end is dit net ’n diep aanslaan in die Haaie se kwartgebied wat die eindfluitjie laat lawaai. Maar dit was net te naby…

    Die Haaie se taktiese skopwerk was, om presies te wees, van meet af pateties. Veral Frederic Michalak het die Haaie se verlange na die beseerde Patrick Lambie baie akuut gemaak. Of hy gejaag is en of hy tyd het, Michalak het die een bisarre skop na die ander met ’n boepensboog die middelveld in gepos. Die Brumbies het die bal gul ontvang en het met die een diep aanval na die ander losgebrand. Dit was net hardekwasverdediging deur veral die voorspelers en ’n paar keer wat die Haaie die Brumbies se bal op die grond vervreem het, wat die Natallers se aanspraak in die wedstryd lewend gehou het. Hieruit het hulle twee interkontinentale drieë gedruk, die een regoor die maksimum afstand toe hulle die balle uit Brumbie-hande oor die Haaie-doellyn geruk het. Slot Sykes het langs die kantlyn afgerammel en is uitasem gejag deur die buitesenter en Jesse Mog, die heelagter. Hy het kop en bal gehou totdat die verdedigers se hande omtrent om hom was voordat hy met ’n netjiese aangee vir Lwazi Mvovo gevind het. Dié het gehardloop asof twintig Dobermanns agter hom aan was en het ’n drie gedruk wat die Brumbies swaar gekwes het.

    Vroeër het Odwa Ndungane ’n mog’t-troffe aanslag op die bal tussen twee Brumbie-aanvallers geloods en dit onderskep. ’n Jonger Ndungane sou net daar ontvlam het om die resies na die hoekvlag te wen, maar die 2012-model het binnekant toe gedryf en vir Riaan Viljoen gevind wat genoeg ratte gehad het om deur te spaander vir ’n drie. ’n Derde van die Haaie se vier drieë is gedruk toe Speight, die Brumbies se vleuel nie ’n tollende, wippende bal in sy eie kwartgebied bymekaar kon maak nie en Willem Alberts van alle mense, soos ’n seekoei wat ballet, hom van agter bekruip het, die bal met ’n delikate toon vorentoe geknikker en toegeval het. Drie van die Haaie se vier drieë dan, was nie oorwegend die resultaat van goeie afronding van skrander planne nie.

    Die Brumbies self het net twee drieë gedruk; die een dié van Nick White en dan ’n  skitterende skop-, jaag- en vangpoging deur heelagter Jesse Mogg, ’n  drie wat nog merkwaardiger sou gewees het as hy nie die bal met ’n  blatante vorentoe-aangee ontvang het nie.

    Die Haaie maak meer staat op hulle brekers soos Bismarck du Plessis, Willem Alberts en Marcel Coetzee as op ’n  goedingestudeerde wedstrydplan. Die Brumbies, daarenteen, is goed afgerig en planmatig, veral vinnig en akkuraat op die aanval. Dit is net die Haaie se verbetenheid wat die Canberra-span in toom gehou het.

    Die Haaie het nog nie hulle persoonlikheid as span ontdek nie. Is hulle ’n  aanvallende span of is hulle een wat beter toegerus is om ’n  telling te verdedig? Dis moeilik om vas te stel. Hulle het nie die Vrystaat se flair op die aanval, die vermoë om soos die Bulle die vyand met skoppe en offensiewe verdediging in hulle eie kwartgebied onder kwarantyn te hou of om soos die Stormers hulle lyn onbepaald te verdedig nie. Hulle gaan bitter gou hulle sterkpunte moet ontdek en uitwerk hoe om ’n  wedstryd rondom dit te smee.

    Tog, met die twee Du Plessis’s, ’n  Willem Alberts, ’n  Marcel Coetzee en ’n  paar ander spelers wie se baarde begin hard word, sal geen span hulle as sawwe prooi beskou nie.

    Die vraag is of die Haaie bestendig genoeg goeie voetbal oor lang periodes kan speel. Vandag het hulle dit net met tye reg gekry en dit het gewerk. Maar tans lyk dit nie goed genoeg om ’n  ferm aanspraak op die titel te hê nie.

    лобановский политик

  • Rugby: Cheetahs vang die Hurricanes

    Dis nou maar eenmaal hoe ’n jagluiperd jag: Hy laat die prooi glip en dan haal hy hom van agter af in. Die gevolglike hoëspoedbotsing is so ontsenuend dat die slagoffer verdwaas en verwilderd gelaat word, reg vir die finale wurgslag. Wel, dit ís ’n metode, maar die sukseskoers is wisselvallig want soms as die prooi voor is, bly hy voor. Maar vanoggend (Boeretyd) kon die Hurricanes nie lank genoeg, ver genoeg voor die Cheetahs bly nie en het hulle tot hulle groot skok getuimel.

    Die Vrystaters het deesdae hulle eie eenvoudige wedstrydplan – wat ontsaglike vaardigheid en finesse vat om uit te voer: Hulle val bloot aan. Hulle is soos Genghis Kahn se ruitery. Van orals kom hulle, vinnig en dodelik, uit verrassende hoeke, met skokgeweld. Die Vrystaters het ’n onweerstaanbare vermoë om die verdediging heen en weer tot op die uiterste te rek asof dit kougom is en dan, wanneer die gate daarin val, klop hulle daardeur. Hulle het ook die behendigheid om keer op keer te hamer teen ’n verdedigingsmuur totdat daar ’n sagte plek in ontstaan en dan wen hulle meters veld.

    Dit is ’n totale aanslag, maar met voluitaanval is daar een risiko: Verloor die bal en jou eie verdediging is uit posisie en ongestruktureerd. Johan Goosen het vir ’n sekonde afgewyk van die plan en het die bal veldop geskop waar die regtervleuel Corey Jane dit gevang het. Die Hurricanes is een van die beter spanne op die teenoffensief en binne sekondes was hulle op volle vaart diep in die Cheetah kwartgebied en die terugskarrellende Cheetahs kon nie Polyfilla gou genoeg in al die krake smeer nie. Die Hurricane-haker, Dane Coles, elke vierkante sentimeter ’n moderne nommer twee, het gestorm, gepypkan en gedruk.

    Die Cheetahs het nie die kop gekrap nie; net die tande gekners, die bal afgerokkel en van vooraf aangeval. Hennie Daniller se strooptogte teen die linkerflank af het die Hurricanes se verdediging daar gekonsentreer en hulle yl aan die regterkant gelaat en toe die bal daarheen is na ’n losgemaal voor die pale, was dit eenvoudige, skoon, vernuftige hand-tot-hand sake en Andries Strauss het oor die laaste verdedigers getuimel vir ’n drie (wat, as dit nie vir kykweertegnologie was nie, waarskynlik nie toegeken sou wees nie.)

    Strafskoppe gewissel tussen losskakels Goosen en Barrett het die Hurricanes op ’n 10-8 voorsprong gelaat.

    Die Cheetahs het met hulle manier van dinge voortgegaan, eenvoudig beslag op die bal gelê en van bakboord na stuurboord en terug na bakboord gedryf en toe, net so eenvoudig, die bal in die vyandelike kwartgebied aangeslaan. Die Hurricanes het die sneller getrek en het deur die flarde van die Cheetah-verdediging gehardloop en dit was die vroomgesiglosskakel Beauden Barrett wat op ’n uitgerekte kurktrekkerlopie gegaan en self gaan druk het. Die Hurricanes het die bal skaars twee keer in besit geneem, maar was nou 17-3 voor.

    Die terugslag het binne minute ’n noodtoestand geword. Na nog twee langafstandaanvalle wat gelanseer is na hanteerfoute van die Cheetahs, het die Hurricanes drieë deur heelagter André Taylor en Peranara, die skrumskakel, gedruk. In teenkanting was daar slegs ’n Goosen-strafskop en met tien minute in die helfte oor, was die Cheetahs se prooi doer, ver voor hulle met die telling 32-11 in die Hurricanes se guns.

    Dit het nie gevorderde calculus geverg om te besef dat die Vrystaters 21 punte en dus drie doele agter was nie. Maklik. Druk drie drieë en laat Goosen hulle vervyf. En jou wragtag, dis toe presies wat hulle nog voor die halftydfluitjie doen. Met die eerste aanval waarin hulle nie die bal afgestaan het nie, is genoeg ruimte vir Hennie Daniller geskep om sy lang lyf deur te dryf vir ’n vyfpunter. Dit kon nie iemand meer verdienstelik toegekom het nie. Die groot heelagter was die hele eerste helfte vernietigend op die aanval. Hy het meters ruimte in verkeersknope gevind en het die vermoë om die aanvalshoek vinnig en venynig te verander. Dis veral aan die linkerkantse steelkant wat hy die Hurricanes oorbluf het en na hartelus diep tot in hulle gebied gehardloop het.

    Minute later was dit die Hurricanes wat nie gou genoeg sandsakke in die rivierwal kon kry nie en Rayno Benjamin het laag gevlieg en hard gedruk vir nog ’n drie wat Goosen vervyf het.

    Weer het die wit golf gekom en verstommend genoeg het die Cheetahs nogmaals ’n front op die Hurricane-doellyn opgestel. Hulle keuse vir die deurslaggewende aanvaller was die kolossale Coenie Oosthuyzen en die loskop het sy direkte verdediger met al die grasie van ’n Bariesjnikof gepypkan en oorgedonder vir die Cheetahs se vierde en gelyktrekkende drie.

    Na die frenetiese harwar van die eerste helfte, sou die tweede helfte aansienlik makker wees. Die Hurricanes sou nie weer in die Cheetahs se doelgebied teenwoordig wees nie. Sonder afrokkelbesit het hulle niks gehad om die Vrystaters mee te kasty nie en die Cheetahs het die bal onbeskaamd gemonopoliseer. Hulle het nog twee drieë gedruk, een elk vir die stutte, en met Goosen se strafskopbydrae was hulle met tien minute oor 47-38 voor. Hulle het doeltreffend verdedig en dit was uiteindelik die finale telling.

    Die Vrystaat is nou eenmaal die Frankryk van Suid-Afrikaanse rugby. Hulle kan toor op die aanval en dan verstom met die ongeërgdheid waarmee hulle punte afstaan. Die opponerende span kan nooit seker wees dat hulle gewen het of dat hulle verloor het nie. Die Cheetahs kan groot agterstande uitwis, maar ook ewe maklik groot voorspronge laat vaar.

    Coenie Oosthuyzen het die volkome wedstryd vir ’n stut gespeel. Hy het die verdediging telkens met kort, harde lopies verskuif, goed geskrum en kop gehou vir twee drieë. In die laaste minute het hy sy lyf Heinrich Brüssow gehou en ’n onheilspellende Hurricane-aanval ontlont toe hy die bal by hulle geroof het. Brüssow self bewys nou elke naweek dat hy, benewens sy besitafrokkelry, sy werk as flank baie goed verstaan. Hy het ’n onverbeterlike instink vir die verwisselinge in die spel. Hy verdedig dodelik en is altyd ’n faktor naby ’n bal op die grond. Wat werklik beïndruk is die skakelwerk wat hy tussen voorpak en agterhoede vorm. Hy is die een wat dikwels die rathefboom van dryfaanval tot agterlynoffensief stoot. Hy is vinniger as wat hy lyk en hy ken die kortpaaie op die veld en is daarom gedurig in die hoogoond van die aksie.

    Om die jagluiperd in volle vaart op die jag uit te sien, is altyd opwindend. Die Cheetahs, as hulle vir die grootste deel van ’n wedstryd dinge reg doen, kan enige span klop. Maar hulle speel hoërisikovoetbal en wanneer dinge verkeerdloop kan hulle teen enige span verloor.

    Watter Cheetah-span gaan in hulle volgende wedstryd opdaag? Weet nie, maar ek kan nie wag om te sien nie.

     

    Данильченко

  • Proteas reik na die kroon

    Die Proteas-krieketspan het verlede maand die seile vir ’n belangrike sending na Nieu-Seeland gespan. ’n Blote oorwinning oor die Swartpette, wat toe hoog in hulle eie oë gevlieg het na ’n fratsoorwinning teen die Australiërs in Tasmanië en ’n genadelose afranseling van Zimbabwe, was die eerste, maar geensins belangrikste of veelseggendste, prioriteit. Wêreldranglysposisies in alle lengtes van die sport was voorop in krieketgemoedere. Die sendingopdrag was duidelik: Wen elke wedstryd. Met die finale syfers in het die Suid-Afrikaners net een wedstryd verloor – die eerste en grootliks onbenullige T20-raairaairiepa. Hulle het die eendagreeks oorheers en die toetsreeks een-nul gewen nadat twee van die wedstryde tot onbeslistheid uitgereën is. Al wat nou oorbly is die ontledings van wedstryde gespeel, balle geboul, lopies versamel en vangskote geneem of verbrou, en, allerbelangrik, van voorafontwerpte en toegepaste strategieë.

    Daar bestaan nie ernstige twyfel dat Suid-Afrika die orige twee toetse, as dit nie vir die reën was nie, ook sou gewen het nie. Met al die inligting beskikbaar, en kolf- en boulvertonings in ag geneem – sou Nieu-Seeland tekort geskiet het in die eerste toets wat deur reën gekortwiek is. Hulle moes meer as 400 lopies in hulle tweede beurt jaag en hoewel veral Brendon McCullum voortreflik gekolf het, is dit redelik om te verwag dat die Suid-Afrikaanse offensief wééreens net te skerp, net te doelgerig, net te dodelik sou wees.

    Die laaste toets was nog meer in die Protea-rigting gekantel. In die eerste twee dae het die reën ’n hap van ten minste 80 boulbeurte uit die wedstryd geneem. As Suid-Afrika net nóg, sê maar twintig boulbeurte met die nuwe bal gehad het, sou die Kiwi’s se kolfweerstand in alle waarskynlikheid ontbind het. Tog, as daar enige kritiek Graeme Smith veral en sy span in die geheel toekom, is dit die manier waarop hulle die laaste kolfbeurte van die toer bestuur het. Krieket, selfs oor vyf dae, word dikwels deur die kleinste optrede of voorval deurslaggewend beïnvloed.

    Martin Gillespie sal nooit weer ’n meer veelreikende lopie slaan as die een aan die einde van die Nieu-Seelanders se voorlaaste beurt nie. Dié enkellopie het die opvolgbeurt vir sy span afgeweer. Omdat hulle 199 lopies en nie 200 voor was nie, moes die Suid-Afrikaners weer kolf. Graeme Smith, wat voorheen in sy kapteinsloopbaan deur ’n té goedgunstige verklaring gebyt is, het sy kolwers heeltemal te lank voor die paaltjies gehou en daardeur vir sy boulers nét te min tyd verskaf om die doodskoot te trek. As die opvolgbeurt ingeskop het, sou die Swartkepse, te oordeel aan die ontvouing van die reeks, ten beste ’n kleinerige voorsprong gehad het wat die Proteas met relatiewe min moeite sou kon afkolf.

    Daar is twee krieketpryse waarna Suid-Afrika bo alles na streef: Om die Wêreldbeker te wen en om die onbetwiste Nommer-Een-span op die planeet te wees. Die volgende Wêreldbekerstryd is drie jaar voorkant toe. Die Proteas sal in alle waarskynlikheid vir die grootste deel van dié tydperk die voorste eendagspan ter wêreld wees. Maar hulle was dit al gereeld en dit is dun salf vir die seerplekke van hulle Wêreldbekermislukkings. Daarom sal die fokus vir eers wees waar dit altyd hoort: Op die kroonstryd in volwaardige toetskrieket.

    Suid-Afrika is sekerlik die beste span in die Wêreld, maar weens eienaardige burokratiese mistasting en ’n gevolglike agterstand in die hoeveelheid toetse wat hulle die afgelope jaar gespeel het, is die Proteas net nommer twee op die ranglys. Maar Nommer Een, die Engelse, is kwesbaar. Hulle het sopas hulle toets teen Sri Lanka verloor. Vier jaar gelede het die Suid-Afrikaners, onder strategiese leiding van Mickey Arthur, die Souties in Engeland verrinneweer. En die Proteas van vandag is aansienlik beter toegerus as die weergawe van 2008.

    Alles inaggenome was die uitstappie na die Kiwi-eilandjies ’n waardevolle boublok in die Proteas se ontwikkeling. ’n Span se selfbeeld is bepalend vir sukses en al was hier met ’n minderwaardige span meegeding, het die Suid-Afrikaners tog kosbare bevestiging van sekere onmisbare elemente gekry. Vir die eerste keer in ’n lang tyd het hulle twee hoofmagte, boulers en kolwers afsonderlik, wat wedstryde kan wen.

    Die boulaanval moet nou die beste ter wêreld wees. Die volgehoue akkuraatheid, venyn en variasie van die snelboulers sal deur min kolflyste weerstaan word. Vernon Philander bly ’n verbluffende verskynsel. Dis asof hy die kolwers hipnotiseer, meer op die manier van ’n toordraaier soos Warne of Muralitharan as ’n mediumsnelbouler. Sy knaende akkuraatheid bring die volle geweld van die Wet van Gemiddeldes na die kolfblad. Daar kan net soveel balle verby die kolfbuiterand flits voordat een gestreel word.

    Dit lyk nou al ’n ruk asof Morné Morkel besig is om sy hierjy! te herontdek en in die laaste toets het hy seëvierend daarmee vorendag gekom. Daar word al lank gewag vir ou Langeraad om sy lengte, spoed, akkuraatheid en wipkrag bymekaar te trek. Op sy beste is hy ’n vernietigingsmag. In die laaste kolfbeurt van die toer, het hy wasdom bereik en die bonus is dat dit ook neerslag gevind het in sy kolfwerk. Hy is ’n stertkantkolwer met die tegniese voortreflikheid van ’n middelordekolwer.

    Dale Steyn is die een bouler wat onderpresteer het, maar selfs ’n ritmelose Steyn is goed genoeg vir enige span in die wêreld. Ons ken hom darem ook al en weet dat hy deur die loop van ’n seisoen net beter word. Hy is van uitsonderlike genetiese materiaal en hoe meer hy boul – afskuwelike toonvergruising uitgesonder – hoe beter word hy. Tydens die vorige toer Engeland toe, het hy ’n paar sporte geklim na die bokant van die doeltreffendheidsleer. Dié keer sal hy daar land in die volheid van sy vermoëns.

    Dan is daar die nuwe jong geweldenaar: Marchant de Lange. Hier is ’n eiesoortige bouler, iemand met al die potensiaal om werklik skrikwekkend te word. Hy is ’n buffel van ’n bouler, enorm sterk en gewillig. Hy boul van ’n kort aanloop af wat sy ritme help, en hy tref die blad met amper skokkende geweld. En tog is daar finesse, en waaglustigheid. Hy skroom nie om ’n kophoogte kartets met ’n bytende, inswaaiende York-bal op te volg nie. Hier is ’n bouler wat ’n hele aanval kan dra as die ander se snykante al stomp geword het.

    Die aanvullende waarde van Jacques Kallis as bouler is deur sy afwesigheid in die laaste toets onderstreep. Op sy ouderdom, en in ’n poging om sy loopbaan te verleng, word hy oordeelkundig en in kort skofte aangewend, maar hy het waarlik die slag om hardnekkige vennootskappe te onknoop en ou Goue Arm se afwesigheid het ’n droewige leemte gelaat juis toe die Proteas hom die nodigste gehad het.

    Imran Tahir is tot dusver nie die tolbaloplossing wat gehoop is hy sal wees nie. Sy belangrikste aanwending, blyk dit, is om die onderkant van ’n kolflys uit te wis. Topordekolwers kan nog sy repertoire van aflewerings uitpluis, maar meeste stertkanters is heeltemal oorbluf wanneer hulle moet uitwerk of ’n bal links of regs gaan swenk, gaan opsis of deurwurm. Suid-Afrika is al voorheen ongedaan gemaak deur die slaankrag van die Engelse se laerordekolwers – dink maar Steve Harmison. In Engeland kan ’n stertkantsekel baie waardevol wees.

    Die Engelse toetssukses van die afgelope jaar is meestal aangedrewe deur hulle voorste kolflinie. Kolwers een tot ses het lopies by die gerwe geoes. Tog is hierdie kolfseksie niks indrukwekkender as dit wat die Proteas na die speelveld bring nie. Al het die Proteas in Nieu-Seeland nooit voluit met die wilge gevuur nie, het die kolwers in verskillende beurte tog elkeen homself in die span ingemessel met oortuigende bydraes. Van die sewe topordekolwers (ses plus JP Duminy wat vir Jacques Kallis in die laaste toets ingestaan het) het vyf – Graeme Smith, Alviro Petersen, Jacques Kallis, Jacques Rudolph en JP Duminy – honderdtalle aangeteken. Die beste kolwer op toer, en sekerlik nou die beste kolwer in die wêreld, AB de Villiers het nie ’n ton gekry nie, maar daar is so ’n bestendigheid aan hom, so ’n sekerheid dat hy lopies sál kry, en so ’n vermoë om sy spel te vorm soos die wedstrydsituasie dit verlang, dat ’n mens sidder om te dink wat hy oor die volgende paar jaar kan vermag.

    Daarby het Mark Boucher se vorm weer geset en hy is die ou veglustige, hardnekkige stuk bamboes bo aan die laer orde wat van hom ’n legende gemaak het. Sy vermoë om ’n ekstra 80 lopies in begeleiding van die stertkanters te maak, gaan nog van deurslaggewende waarde wees.

    Wat strategie, aanvoeling en die uitvoering van planne betref, was hierdie een van die beter Protea-toere, en Gary Kirsten se hand is hierin te bespeur. Graeme Smith het die agting van sy volgelinge behou as gevolg van sy kolfwerk in die voorhoede. Hy lei nie van agter af nie. Die enigste kritiek teen sy kapteinskap is dat hy in sy middelspeeljare miskien ’n snars konserwatief geword het. Die Graeme Smith van vyf jaar gelede sou Dinsdag ’n uur vroeër verklaar het en van eerste tot laaste bal aangeval het.

    Elke span soek na ’n trappie tot die volgende vlak in hulle ontwikkeling en miskien is dit tyd vir Smith om die wiel aan AB de Villiers te oorhandig. Te oordeel aan hoe hy sy werk voor die penne benader, is daar min spelers met ’n meer gesofistikeerde aanvoeling vir die subtiele verskuiwings in die wedstryd; van wat nodig is en van wat gedoen kan word.

    Suid-Afrika het die staf, die vaardighede en die gees om uiteindelik die troon van wêreldkrieket te beset. Gary Kirsten en Allan Donald is deurwinterde, spesialisafrigters en hulle beplanning en aansporing is uiters doeltreffend. Daar is genoeg reserwes om selfs die tydelike of permanente verlies van sleutelspelers te lap. Die bestuur van Krieket Suid-Afrika is vernuwe en kan uiteindelik bydra tot sukses eerder as om ’n rem op die span te wees.

    Suid-Afrikaanse krieket het voorheen al kanse gehad om hulleself as die primêre mag in internasionale krieket te vestig. Dit is nou hulle tyd! Laat dit so wees…

    Александр Фильчаков прокурор

  • Rugby: Die Laastekwartierbewerasies en hoe om dit te voorkom

    Oor die naweek is daar sewe Super Rugby-wedstryde gespeel en ses van die verloorspanne het ’n bonuspunt vir ’n goeie nederlaag gekry. Dit wil sê, hulle het met sewe punte of minder verloor. In hierdie ses wedstryde was die gemiddelde punteverskil net meer as vier per wedstryd. Suid-Afrikaanse spanne het in vier wedstryde meegeding, insluitende ’n binnelandse tweegeveg tussen die Leeus en die Stormers. Drie van dié spanne – Die Cheetahs, Haaie en Leeus – het verloor, met die Kolletjieskatte van Bloemfontein wat die ergste loesing op die lyf geloop het, en dit was met sewe punte.

    Die punt is, Suid-Afrikaanse spanne is net te geneig om verwoed vir die uitslag van ’n wedstryd in die laaste vyftien minute te moet spook. Dikwels het hulle die geleenthede gehad om die wedstryd alreeds teen hierdie tyd toegerits te hê. Dis asof die Suid-Afrikaners gerieflik voel om die uitslag in die loopgraaf van die Laaste Kwartier uit te baklei. As daar strategieverskille onder die spanne is, dan is dit vir die Leeus, die Stormers en die Haaie om skraal voorspronge te probeer beskerm en vir die Cheetahs om in die pylvak aan te val om hulle snoete net voor die eindsirene voor te kry.

    Die een span wat regtig moes gewen het, maar tekort geskiet het, was die Haaie teen die Waratahs in Sydney. Die Haaie was vir lang grepe van die wedstryd behoorlik in beheer. Hulle vaste vyf, met Bismarck du Plessis heel vooraan, het die Aussie Ligbloues behoorlik verdruk en op losskakel het Patrick Lambie die balvloei knap gereguleer om sy snellers gereeld in posisie te kry. Dit was net asof hulle telkens die voet van die keel gelig het. Die probleem is miskien die oudste onbesonnenheid van Suid-Afrikaanse voetbal: Die voorliefde om in puntebeskermingsmodus in te gaan deur die bal te probeer diep skop en om dan ’n verdedigingslinie regoor die veld te span in ’n poging om die teenstanders in te hok.

    Saterdag het die Haaie, met tien minute om te speel, nadat Patrick Lambie drie punte met ’n strafskop gemaak het, 30-27 voorgeloop. Dit wat gevolg het, was alte voorspelbaar. Hulle het eenvoudig die bal aangegee na die Waratahs en as’t ware daarmee gesê: Doen julle bes. Dis tyd dat die Haaie besef hulle het nie die verdedigingspotensiaal om ’n verbete inbreker onbepaald uit die spens te hou nie. Die probleem is dat hulle verdedigingslyn net te buigsaam is. Die spelers bly in posisie ja, en dis nie dat onnodige gate daarin val nie, maar wanneer vinnige of swaar aanvallers die linie tref, buig dit terug tot agter die oorpronklike skermutselingslyn. Die verdedigers ontvang die aanvaller, eerder as om hulle te gaan jag. Die gevolglike momentum is dus aan die kant van die indringers en as hulle geduldig is, dryf hulle die Haaie met snelherlaaifases terug tot in die kwartgebied waar die uitslag oor die laaste vesting, die doellyn self, beslis word.

    Die Haaie is nie die beste span in hierdie soort uitmergelende stryd vir die laaste paar sentimeters nie en Saterdag het die laaste linie onvermydelik gevou en ’n laaste, noodlottige drie ingelaat. Die Haaie het ’n wedstryd uit die hounet laat glibber. Hulle sal moet leer om die laaste kwart van die wedstryd soos die eerste driekwart daarvan te benader. Hierdie is ’n span wat gevaarlik op die aanval is. Die voorspelers hersirkuleer die bal behendig genoeg, voor- en agterhoede skakel vloeiend en hulle het genoeg knal om drieë uit die agterste driehoek te druk. Die grootste dividend is natuurlik dat wanneer hulle knaend aanval, hulle nie knaend hoef te verdedig nie.

    Die Cheetahs voorkom die noodsaak om ’n klein voorsprong vir die laaste kwartier te verdedig deur te sorg dat hulle nie net-net voor is nie, maar net-net agter. Dan is dit hulle wat wild en woes vir ’n deurbraak aanval. In hulle vorige wedstryd, teen die Rebels, het hulle die wendrie – ’n ware mirakelpoging – met die kwynende eggo’s van die laaste sirene in hulle ore gedruk. Saterdag, teen die Crusaders kon hulle nie dieselfde knoop deurhaak nie. Die Jagluiperd is ’n jagdier en die gedagte inspireer die gelyknamige span blykbaar om die teenstander voor hom te laat uitkom en hom dan agterna te sit en plat te trek. Soms is hulle net te ambisieus en laat hierdie voorsprong net te groot word. Die Cheetahs het hierdie keer die Crusaders amper oor die kim sien verdwyn met ’n 18-punte gaping.

    Hierdie week gaan Todd Blackadder se span hulle kop krap en dinge wat nie stukkend is nie, probeer regmaak. Die Vrystaters het eenvoudig deur gapings gehardloop wat nie bestaan nie om drieë te druk wat nooit moes gewees het nie. In sekerlik een van die jaar se beste drieë tot nog toe, het hulle uit hulle eie kwartgebied weggebreek en Johan Goosen, Andries Strauss en Willie le Roux het een-twee, een-twee met mekaar teen die linkerkantlyn af gespeel, die verdedigers se koppe dronk gedraai en net nog ’n paar meter gewen waar daar niks beskikbaar was nie, totdat Goosen dit agter die kalk afgerond het. Daar is niks fout met Crusader-verdediging nie. Hierdie was net ’n onweerstaanbare drie. Op 21 elk het die Cheetahs die Crusaders egter een keer te veel toegelaat om voor te trek en dié keer kon hulle nie die agterstand uitvee nie. Wanneer hulle moes verdedig, het die Cheetahs dit venynig volgens die ou beproefde metode gedoen: Hulle val die bene van die aanvallers aan. Hulle het net nie die strukturele hegtheid in verdediging nie en daarom ontstaan daar soms ontoestopbare skeure in hulle keerlyne.

    Die een Suid-Afrikaanse span wat ’n voorsprong in die laaste kwartier kan verdedig, is die Stormers. Hulle voorspelers werk hard saam om die opponerende vaste vyf se dryfaanslae te smoor, die losvoorspelers is doeltreffende verdedigers om die buitewyke van skrum, losskrum of losgemaal en die agterlyn is goed georganiseer. Saterdag het hulle binne 25 minute ’n speling van 18 punte teen die Leeus se nul gehad. Vir hulle was dit heel aanvaarbaar om nie die voorsprong nie net vir die laaste kwartier nie, maar vir die hele tweede helfte te verdedig. Die Leeus het geslaan en geslaan en geslaan maar die naaste wat hulle aan die Kapenaars kon kom was 16 punte teenoor 18. Twee laat strafskoppe het hulle ’n onuitwisbare agt punte voor geplaas, en steeds het hulle die Leeus uit die doelgebied gehou. Die Transvalers moes uiteindelik tevrede wees om ’n bonuspunt met ’n skepskop te smee. Die Stomers het die wedstryd hoofsaaklik aan 120 suksesvolle lakke te danke.

    Daar is een ander benadering tot hierdie laastekwartierkonundrum: Sorg dat jy voor, ver voor, is en dan teken jy nog meer punte aan. Die Bulle het gewys hoe om aggressiewe verdediging as aanvalsmetode te gebruik. Hulle het in die eerste deel van die wedstryd die Reds eenvoudig pap geduik. ’n Red wat die bal op die aanval gedra het, is nie geabsorbeer soos wat die Haaie dit doen, of by die enkels afgesny op die Cheetah-manier nie, nee, hy is oombliklik gestuit, gelig en agtertoe geblaas asof deur ’n toegespitsde orkaan, en dan is met sy liggaam ’n duik in die speelveld geslaan. Daarmee het nie net hulle harte op die aanval gefaal nie, hulle het ook alle smaak vir die verdediging verloor. Hulle kon dit eenvoudig nie in hulleself vind om elke sentimeter grondgebied met durf en daad te beding nie. Die Bulle het hulle eenvoudig eers moeggedryf en toe kis gehardloop. ’n Wentelling van 61-3 is ’n sterk aanduiding dat daar nie erg aan Pretoriase naels in die laaste kwartier gekou is nie.

    Die gevolgtrekking wat hieruit gemaak kan word is: Die beste manier om die laastekwartierbewerasies te voorkom is om vroeg in die wedstryd baie punte aan te teken en, wanneer die laaste vyftien minute van die wedstryd aanbreek, nog meer punte te kry.

    топкарго отзыв

  • Proteas oorheers in triestige Wellington

    Dit was ’n tipiese sonskyndag in Wellington, Nieu-Seeland… wat beteken dit het meeste van die tyd gereën en vir die res was dit triestig en windverwaai. Die Nieu-Seelandse boulers het op hulle kenmerkende sprankelende manier geboul – met ander woorde hulle was lusteloos, planloos en vir die ganse dag paaltjieloos. Hulle werk, soos hulle dit blykbaar verstaan, is nie om paaltjies te neem nie maar om balle te boul. Die plan, as daar ’n plan was, was om te wag dat die kolwers ’n fout sal maak en ’n paaltjie Nieu-Seeland se kant toe sou gooi. Hulle het nie lank gewag nie – daar was maar 37 boulbeurte in die dag geboul – maar hulle het te vergeefs gewag. Die Proteas se twee Kleurlingkolwers, Alviro Petersen en JP Duminy, het moeitelose, dramalose krieket gespeel. Petersen, wat sekerlik genoeg gedoen het om nou in die span te bly, het 96 nie-uit-nie lopies van 224 balle gekry en Duminy was op 76. Een hele dag is reeds verlore, maar as die Proteas hulle eerstebeurttelling kan verdubbel, het hulle waarskynlik genoeg brisant in die arsenaal om die Kiwi’s twee keer uit te boul.

    Фільчаков Олександр Васильович прокурор

  • Krieket: Kiwi’s val suutjies op nat dag aan

    Die Basin Reserve in Wellington is nie ’n plek vir opgevoede mense om krieket te speel nie. Die wind waai daar, altyd, die hele tyd, behalwe as dit reën. Dit waai selfs op windstildae en op winderige dae waai dit erger, soms blykbaar uit meer as een rigting. Dié week het dit, krieket in ag geneem, te min gewaai want toe reën dit, so ’n mislike regaf kantgordynreën wat alles so triestig maak, dis asof die wind self nie kans sien om te waai nie. Die reën het voor die aanvang van spel opgehou – en die wind het begin waai – maar dele van die buiteveld was so modderig soos ’n sekere soort stoeikryt van die buitewyke van Las Vegas. Daar was geen spel in die eerste sessie nie, maar toe die spanne mekaar uiteindelik in die arena ontmoet, was dit duidelik die Nieu-Seelanders het gewens die wind wil weer ophou waai sodat die reën weer kan begin.

    Hierdie is ’n Nieu-Seelandse span op die nippertjie van ineenstorting. Weke se onafgebroke afknouery deur die Proteas het die geestesenergie getap en die veglusvonk gesnuit. Dit was amper onafwendbaar. Dit is uitmergelend vir ’n middelmatige span om in pas met die beste span in die wêreld te probeer bly. Daarvoor is ontkenning ’n voorvereiste, en afgelei uit die Kiwi’s se kordaat spanpraatjies en openbare uitsprake, was hierdie ’n span wat hulleself deeglik mislei het, dwarsdeur drie T20-wedstryde, drie internasionale eendaers en twee toetse. Maar die laaste hiervan, waarin hulle redelik minagtend afgeransel is, was te veel, selfs vir hulle titaniumsterkte ontkenning.

    Die Nieu-Seelanders het aangetree met ’n versterkte kolflys en ’n uitgedunde boulaanval. Die Suid-Afrikaners moes Jacques Kallis – wat ’n nek het – vervang en het twee spelers daarvoor nodig gehad: JP Duminy om Kallis se lopies te probeer kry en Marchant de Lange vir sy paaltjies. Maar twaalf is nie elf nie en Imran Tahir sal koeldrankies in dié toets aandra.

    Dit was nie ’n dag sonder merkwaarde nie. Selde het ’n spankaptein sy moer so deeglik in die openbaar vir sy boulers gestroop. Ross Taylor het die loot gewen en besluit sy span sal eerste met veldwerk inval. Die normale besluit is om te kolf, en ’n span wat besluit om te boul, moet hulle afwyking van die gewone gestand doen met ’n vuisvol paaltjies vir min lopies. Die Swartkepsies het twee paaltjies ontvang – presente met groen-en-goue strikkies om, onverdiende vroeë Kersgeskenke. Taylor se naatboulers was só vrot dat hy binne die eerste uur vir wegbreker Daniel Vettori aangestel het om hulle te versterk.

    ’n Baldraaier wat in die eerste sessie van ’n toets op ’n tollose blad boul, is ’n aanklag teen die snelaanval. Meer nog, dis doodgewoon vernederend, maar Nieu-Seelander se boulers, Martin, Bracewell en Gillespie het die teregwysing verdien. Hulle was lusteloos en het verseg om by die wedstrydplan te bly. Hulle het nukkerig weerskante van die penne gebou en dit was asof hulle druk met water in ’n sifdraadhouer probeer opbou het. Daar was skaars ’n boulbeurt van geduldige, presiese, toegewyde boulwerk. Wanneer die kolwer verseg het om sy paaltjie agter los balle aan weg te gooi, het die boulers óf te kort, óf te wyd geboul en die Suid-Afrikaners het hulle daarin verlekker.

    Die boulers het duidelik nog nie die boodskap verinnerlik nie en Taylor het homself naderhand só vererg dat hy die mees skadelose bouler in wêreldkrieket, die kolwer Dean Brownlie in hulle plek aangebring het om stadige, hoflike malvalekkers te boul.

    Graeme Smith se paaltjie is weggegee in ’n spanpoging tussen hom en die TV-skeidsregter. Smith het wéér gewaai na ’n wye Bracewell-aflewering en is agter gevang. Hy het gemor daaroor en nadat die kykweerappél gewys het die kolf was nie in die onmiddellike omgewing van die bal nie, is hy onverklaarbaar tog deur Billy Doctorow uitgegee. Nou ja, Smith moenie te rumoerig daaroor raak nie. Daardie hou het niks beter verdien nie.

    Alviro Petersen en Hashim Amla het moeiteloos gekolf vir ’n 90-lopie vennootskap. Amla, veral, het die bal met die grootste elegansie gedryf en gehaak. Hy het algeheel onkwesbaar gelyk totdat hy na teetyd net té rustig geraak het met ’n kortbal en dit in die lug opgehaak het vir ’n maklike vangskoot. Daar is weer gekyk omdat die skeidsregter onrustig was oor Gillespie se agtervoet en op die hele wêreld behalwe Billy Doctorow se televisieskerms was dit ’n duidelike foutbal. Amla is gevolglik uitgegee en, weereens, verdien hy dit vir sy mamparraskoot.

    JP Duminy het ingetrippel gekom, fyntjies op sy tone soos ’n Malteser wat op sy agterpote bedel vir lekkernye, en het netjies en doeltreffend gekolf. Teen die tyd wat die wind genoeg wolke nader gewaai het vir die dag om vroeg te eindig, was die Proteas op 136 vir twee na 42 boulbeurte, met nog groot lopiepotensiaal in die kolwe van Petersen en Duminy en De Villiers, Rudolph, Boucher en die ondeunde boulers om te volg.

    Nieu-Seeland se boulers het gewys dat hulle geen veglus oor het nie. Die vraag is of daar enige ruggraat in die Kiwi-kolflys, versterk soos dit mag wees, oor is. En hulle gaan baie gruis nodig hê, want hierdie keer het die Proteas opgehou rondpeuter met ’n baldraaier en die veglustige, gromhonger jong Marchant de Lange nader gehark. Daar sal vir die Swartkepse geen blaaskans wees nie, net een lang, onafgebroke haelstorm van snelgeweld.

    Nou ja… hulle wil mos teen die grotes speel.

    Александр Фильчаков прокурор

  • Rugby: Die Bismarck du Plessis-era begin

    Hy het nie bloot op die toneel verskyn nie, hy het opgestorm gekom, ’n jong bul met die oormerke van grootsheid in hom, sterk, plofkragtig, verwoestend in kontak, onverskrokke en veglustig. Hy was egter bestem om die eerste strek van sy loopbaan in die korterwordende skaduwee van ’n  besielende leier in dieselfde posisie te speel, maar nou is daar niks tussen Bismarck du Plessis en grootsheid nie. En sy waardevolste bate, in sy loopbaan en ook op die veld, kan verbasend genoeg sy geduld wees. Verlede Saterdag was die tekens daar vir ’n  rustelose voetbalpubliek om te sien: Hierdie bul het grootgeword.

    Bismarck is ’n  moderne haker: Stewig, ontsaglik sterk, ’n vernietigende skrumwerker wat weet hoe om met die bal te hardloop en, baie belangrik, hoe om die bal uit te deel waar dit die grootste skade sal aanrig. Hy was nog altyd en vir elke span waarin hy gespeel het, baie waardevol, die klip waarom die opposisie se wil gebuig word. Vroeg in sy loopbaan het hierdie wilsafdwinging met ’n prys gekom: Ritse geelkaarte en strafskoppe. Hy was nog altyd vurig, maar dis ’n  vuur wat sy eie span kon skroei.

    Wat hy nodig gehad het, was ’n  mentor en hy was gelukkiger as baie ander in die een wat hy gevind het. As jong Haai het hy die massiewe voordeel gehad om fyner onderrig in sy ambag te onvang van ’n  meestervakman: John Smit. Wat die kritiek ook al teen Smit, en daar was baie en baie daarvan was welverdiend, hy was nog altyd,  sonder twyfel ’n  kenner op sy vakgebied. Daar is min mense wat die prosesse van voorryspel en vastevyfspel in die algemeen beter verstaan. Dit word nou duidelik dat Du Plessis hierde lesse ingeneem en begin toepas het.

    Hierdie vakleerlingverhouding met Smit was egter ’n  haak-en-steekproposisie. Die leerling het gou die meester in tegniek, krag en uitwerking oortref. Dit het ’n  lang frustrerende tydperk in Bismarck du Plessis se loopbaan ingelui. Beide provinsiale en nasionale afrigters was gretig om Smit se kennis en leierskapvoortreflikhede te behou en het in goedgunstige ontkenning jeens sy algemene spel geleef. Vandat Bismarck tot die Springbokbank verhef is, het dit beteken dat vir ’n  groot deel van sy speelloopbaan hy wedstryde van dertig minute, as uitbuitspeler, gespeel het.

    Tydens verlede jaar se Wêreldbekertoernooi het die kloof in spel tussen die twee spelers ’n  bespotting van die situasie gemaak. Afrigter Peter de Villiers het aangedring dat die spelers presies reg aangewend word. Bismarck is ’n  “impakspeler,” het hy oor en oor verduidelik, en dan gevra dat algar sal ag slaan op die uitwerking wat hy elke keer maak wanneer hy op die veld verskyn. Hy lig die span dan “na ’n  hoër vlak,” wat voetbalkenners, van die professionele soort tot die leuenstoelsubspesie, hulle hande ten hemele laat gooi het. Want, vir wat op aarde moet hierdie vlak net vir dertig minute behaal word en nie vir ’n   hele wedstryd nie? Na die Springbokke – vir die grootste deel sonder Du Plessis – se brieke so liederlik in die kwarteindrondte teen die Wallabies vasgeslaan het, het Smit gegroet en in die aandskemer in verdwyn.

    Suid-Afrikaanse rugby het vir eens diep, waardevolle reserwekrag in elke posisie, en daar is niks karig aan die hakervoorraad nie. Tog is daar nie werklike debat oor wie die voorste haker in die land is nie. Bismarck du Plessis, die jongbul, het die voorbul geword. Hy is nog net so liggaamlik intimiderend as altyd, miskien sterker as ooit, verbasend beweeglik. Springbokrugby was nog altyd op sy beste as die span ’n dwangmeester het, iemand wat die opposisie kan verplig om die spel op Springbok-terme te speel. Vir amper ’n  dekade was hierdie die werk wat Bakkies Botha voortreflik, skrikwekkend gedoen het. Bismarck du Plessis, meer as enige ander vaste voorspeler, is geskik en gereed om dié taak op te neem. Maar na so baie veldtogte in soveel loopgrawe, is hy deesdae ’n  gesoute, denkende speler, en dit maak hom soveel meer doeltreffend.

    Saterdag, in Durban, het die Haaie Bismarck met al sy voortreflikhede nodig gehad – en hy het gepresteer. Die Haaie, uitgedun in die voorhoede, het aangetree met ’n  voorpak saamgestel uit hardebaarde en penkoppe. Die jongeliede is almal tot barstens toe gelaai met talent en moed, maar kan baie bros in benadering wees, nog geneig om verward te wees of om moed te verloor. Dale Chadwick, Anton Bresler en Marcel Coetzee het daarom die versekering nodig gehad dat hulle skouer-aan-skouer staan met gebreide krygers soos Jannie en Bismarck du Plessis, Steven Sykes, Willem Alberts en Keegan Daniel.

    Die Haaie het vroeg onder swaar druk gekom en was bitter gou 0-17 agter teen die Reds, die huidige kampioene. Hulle het skaars 30 persent aandeel in die bal gehad en hulle teenoffensiewe was min en lukraak gekonstrueer. Dit is hier, wat die Haaie dit allermins kon verwerk, wat hulle vir Jannie du Plessis en Sykes verloor het. Hulle plaasvervangers, Wiehahn Herbst en Jandre Marais was ook in die gewilligepenkopkategorie. Daar was nou meer melkbaarde as hardebaarde in die span. Hulle het verniet vir inspirasie na hulle kaptein, Keegan Daniel, gekyk. Hy was meestal afwesig in aksie. Maar hulle sou nie sonder leiding en voorbeeld wees nie. Bismarck du Plessis het die voortou opgeneem en ’n ferm ruimte geskep waarin jong kanonne soos Marcel Coetzee en Marais lustig kon afgaan.

    Hy was sy gewone verwerende self. Wanneer hy iemand neersit, bly sy prooi op die grond, te geskud om blink idees te kry. Tref hy die verdedigingslinie, neem hy die kortste pad en weë dié wat tussen A en B staan. Hy buig daardie lyn, rek dit agtertoe tot op breekpunt en soms tot anderkant daar. Wat hom meer gedug gemaak het, is dat sy geweld ’n  baie meer gefokusde mag is. Hy dons nie sondermeer in elke losskrum in nie, maar meet en pas waar hy die grootste uitwerking sal hê. Indien die bal vasgemeer is, val hy nie sommer daarin en mors sy trefkrag nie. Wanneer die bal egter vlak lê, en die tyd is reg, slaan hy met die skielike geweld van ’n  slagyster toe. In Suid-Afrikaanse rugby is net Heinrich Brüssouw ’n  meer bedrewe balrower.

    Behalwe vir sy regstreekse optrede, is dit die manier waarop hy die magte versamel het om die Reds se aanslag te ontlont. Nadat die Haaie 27-22 vooruit was, het hulle besluit om die telling te verdedig, en dit wou hulle doen deur die Reds luglangs terug te dryf tot in hulle eie gebied en om dan grondgebied sentimeter vir bloedige sentimeter aan hulle te verkoop totdat die Haaie weer die bal kon weg stroop.

    Dit was ’n  openbaring om Bismarck du Plessis in dié proses te sien. Terwyl die spel deur talle fases gemaal het, het hy die verdedigingslinies opgestel en aangevoer en die Reds een duikslag op ’n  keer verdruk totdat hulle te min magte kon werf om die bal te beskerm voordat hy toegeslaan het. Bygesê, as hy Saterdagaand sonder opmerking een of twee van sy agterlynkamerade ’n  oorveeg gegee het, moes hulle nie daaroor gekibbel het nie. Hulle was baie spandabelrig met die bal wat Bismarck en sy voorspelers so duur bekom het en het dit telkens met betekenislose skoppies weggegee.

    Dit is opmerklik dat Bismarck du Plessis net een strafskop afgestaan het – ’n  aanvegbare onkantbeslissing teen hom. Daar is ’n  nuwe volwassenheid in sy spel, sonder dat sy drif daardeur verdun is.

    Daar gaan nog lekker gestry word oor die samestelling van die Springbokspan soos ontwerp deur Heyneke Meyer. Maar, beserings uitgesonder, daar kan geen twyfel wees oor wie die hakertrui gaan dra nie. Bismarck du Plessis se tyd het gekom.

    Лобановский

  • Proteas: Tyd vir Kolwers om Kant te Bring

    Die Proteas se boulaanval is goed op dreef, baie dankie, en wag nou net vir die kolwers om by hulle aan te sluit om die span die beste in die wêreld te maak. Die individuele en kollektiewe prestasies van veral die eerste ses kolwers op die lys inaggenome, kan dit so gou as die volgende toets – die derde en laaste op hierdie toer na Nieu-Seeland – wees.

    In die tweede toets, en veral in die tweede beurt, was die boulers niks minder as vreesaanjaend nie. Sit tog ’n  oomblik opsy om in die skoene van die kolwer te staan. Die Suid-Afrikaanse boulaanval is ’n  eksamen met baie modules en jy moet almal baasraak of jy slaag nie; pluk een vraag, pluk die hele vraestel.

    Eers kom die snelaanval, maar afgevuur uit twee baie verskillende offensiewe wapens. Dale Steyn is vinnig en venynig, deurgaans op soek na die kleinste skuiwer in jou mondering vir hom om op toe te spits. As hy ’n straaltjie water sien loop uit die dyk van jou verdediging, gaan hy daaraan torring en grawe en woel totdat jou verdediging meegee. Hy is nie lank nie, so die aflewerings streep deur van die blad af, maar hy kan hulle ook soos ’n  hark waarvan die tande raakgetrap is, uit die blad laat regop spring met die potensiaal om ernstige strukturele skade aan te rig. Dit is hierdie variasie wat maak dat ’n  kolwer nie vir ’n  enkele aflewering kan ontspan nie. Elke bal wat geboul word, stel ’n  nuwe vraag, is ’n  nuwe raaisel om te ontknoop.

    Van die anderkant af is Vernon Philander die eksaminator. Alhoewel dié kougomkouende, loslittige Kleurling met sy effens mollige bolyf en swaar onderlyf allermins daarna lyk, is sy afdeling van die vraestel ’n deurlopende foltering vir die kolwer om te beantwoord. Die kolwer weet wat Philander gaan doen, dis net dat hy nie weet hoe om in reaksie op te tree nie. Die “Vern” gaan redelik vol net buite die wegpen boul, op ’n  lyn wat die kolwer se kolf soos ’n  alkoholis na ’n  bottel trek. Dis nie dat jy daarna wíl speel nie, dis nie dat jy nie van beter weet nie, maar aflewering na ellendige aflewering swiep onheilspellend by die wegpen verby. Uiteindelik, onvermydelik, neem die instink oor en jy hou die kolf as ’n  skans buite die wegpen, die bal tik teen die buiterand en die falanks Suid-Afrikaners agter jou rug maak sterspronge en jil soos Vandale op ’n  Roomse troue.

    Dit is juis die manier waarop die aanval van die twee kante af verskil wat van hierdie aanvangboulerspaar so ’n  verterende kombinasie maak. Die kolwer moet baie vinnig een handleiding wegsit en heeltemal ’n   ander een uithaal. Steyn intimideer; Philander mesmeriseer. Aan die einde van ’n  Steyn-skof voel dit vir die kolwer of hy te lyf gegaan is, pimpel en pers is (en natuurlik, dikwels ís hy), asof hy rondgestoot en gekarnuffel is. Na ’n  Philander-skof ly hy aan hallusinasies. Sou die kolwer hierdie uiteenlopende aanslae oorleef het, is dit nie die einde van sy ellende nie.

    Nou verskyn daar ’n  dun pilaar om balle uit die hoogte na benede te laat hael. Morné Morkel is nie net lank nie, hy het ook ’n  hoë boulaksie, met die boulhand wat op maksimum hoogte bo seespieël is wanneer hy die bal laat loop. Die eenvoudige driehoeksmeting is dat die bal baie skerper van die blad af opspat van dieselfde lengte as wat die ander aanvallers boul. Weg met die vorige twee handleidings. Nou moet die kolwer wip en leun en koes en keer ter wille van suiwer fisiese oorlewing. ’n  Kolwer moet die vlug van ’n  bal akkuraat kan voorspel om suksesvol daarteen op te tree. ’n  Bal wat van agt meter van die kolwer af na sy bolyf toe zoem, is baie moeilik om in die oë te kyk. Dit gaan teen alle oorlewingsinstinkte in om daar te bly staan en jou toevlug agter ’n  paar sentimeters se kolflem te vind. Die kondisionering kom gou, en dit is net natuurlik dat die kolwer vóór die versending van die bal reeds sal besluit hoe, waar en hoe gou om te probeer ontvlug. As die bal nou heel verbluffend vol en net buite die wegpen is, is dit baie moeilik om van die agtervoet af vorentoe te trap vir ’n  voorvoethou.

    Wanneer dié soort boulwerk nou skielik afgewissel word met die katalogus van goëlaflewerings van Imran Tahir, of Jacques Kallis se knaende volballe wat met skielike, brutale kortballe uitgeruil word, is die kolwer voortdurend besig om deur die handleidings in sy kop te blaai.

    Hierdie boulerarsenaal se bedreiging lê deesdae ook nie net in die verwoestingspotensiaal en variasie van die aflewerings nie, maar veral in die presiesheid waarmee dit volgens ’n  onweerstaanbare plan geïmplementeer word. Die vingerafdrukke van Gary Kirsten en boulafrigter Allan Donald lê regoor hierdie strategiese benadering.

    Dis te siene in, byvoorbeeld, die manier waarop Jacques Kallis die paaltjie van Daniel Vettori gepluk het. Twee balle op ’n  goeie lengte is opgevolg met ’n  kort bal wat na die sternum opgeskiet het en wat Vettori net-net kon wegkeer. Nog twee goeielengteballe om hom vorentoe te trek en toe moes Vettori skielik weer ’n  kort bal beteuel, een van dieselfde lengte as die vorige een, maar ’n  bal wat ’n  goeie twintig sentimeter hoër deurgefluit het. Natuurlik het hy daarna gespeel en natuurlik kon hy dit nie skadeloos stel nie en is hy van die handskoene af agter uitgevang.

    Philander, op sy beurt, het te werk gegaan aan die paaltjie van die hardnekkige Kruger van Wyk. Hy het vir hom vyf uitswaaiers geboul en, toe hy seker is dat die Kiwi-paaltjiewagter goed gekondisioneer is, het hy een ingeswaai. Van Wyk het die kolf hooggehou en sy beenskutte teruggetrek vir die bal om weereens skadeloos buite wegpen verby te suis, toe dié ellendige ding inswaai en ’n  gemors van sy paaltjies maak.

    Morkel het baie dieselfde met Bracewell gedoen. Die planne was besig om te werk. Ou langeraad het selfs ewe skielik die omswaaier ontdek, en as hy dít bestendiglik kan doen, gaan hy absoluut vreesaanjaend wees, ’n  ellelange Wasim Akram.

    Tog was dit nie net die boulers se individuele taktieke wat sukses gebring het nie, maar die manier hoe hulle saam ’n  web van verwoesting gespan het. Dis asof Kallis, Steyn en Morkel – selfs Tahir – die kolwers een vir een vasgehou het vir Philander om kis te  moker.

    Suid-Afrika was op koers om die eerste toets te wen voor hulle deur die weer gekniehalter is, en het die tweede toets gemaklik in die sakkie toegerits – hoofsaaklik danksy die werk van die boulers. In albei toetse het die oorhand wat hulle uiteindelik gehad het, die kollig van die kolwers se onvoldoende bydrae weggekaats. In beide toetse is die kolfimpetus gestuit deur ineenstortings. In Dunedin was dit die ou krygsperd, Chris Martin, wat die mat onder die kolflys uitgereik het, en verlede week was dit die onbesonge Gillespie. Tog, al het die kolfmasjien nog nie in twee beurte in ’n  ry op dreef kon kom nie, het hulle ook nog nie in opvolgende beurte misluk nie.

    Eintlik lyk die kolflys allermins broos. Die kolwer met die swakste oes in die top-6 is Alviro Petersen. In Nieu-Seeland was sy opbrengs tot dusver 11, 25, 29 en 1 vir ’n  gemiddeld van 16,25. Hy lyk allermins gemaklik voor die stokke, asof hy nie sy werk mooi verstaan nie. Hy swaai wanneer hy moes blok en gooi wal wanneer hy kon aanval. Dit kan wees dat hy vir sy toetsplek in die laaste toets kan speel. En tog is hy so ’n  onverstoorbare, gesoute karakter dat ’n  mens tog verwag dat hy skielik in rat sal klik en met ’n  gerusstellende beurt vorendag sal kom.

    Daar kan nie ’n ernstige vinger na sy openingsvennoot gewys word nie. Graeme Smith, hy met die krom tegniek, het lopies heel maklik gevind. Hy het in die vier beurte tot dusver op toets ingeweeg met 53, 113, 13 en 55* vir ’n  gemiddeld van 78. Sy reputasie as die beste vierdebeurtkolwer in die wêreld is weereens verstewig.

    Op nommer drie het Hashim Amla nie gefaal nie, maar ook nog nie regtig die opposisie behoorlik bygekom nie. Met ’n  hoogste telling van 62 en ’n  gemiddeld van 42 op die toer, het hy sy kant gebring. Nou wag ons vir die groot beurt van hom.

    Jacques Kallis mors blykbaar nie tyd met middelmatige beurte nie. Onlangs gaan hy groot of gaan hy uit. In sy drie beurte het hy 0, 113 en 6 gekry vir ’n  gemiddeld wat raak-raak aan 40.

    Ten spyte van ’n  dramatiese eendeier met die eerste bal wat hy op toer getrotseer het, en ’n  daaropvolgende 29 waarmee hy sy paaltjie in die saak van die span se gejaag na vinnige lopies opgeoffer het, was AB de Villiers ’n  bestendigende teenwoordigheid op nommer vyf. In die tweede toets het hy die Proteas se eerstebeurtpoging met ’n  bedrewe 83 lopies gestabiliseer, die waardevolste kolfbydrae van die wedstryd.

    Selfs op  nommer ses lyk dit of sake agtermekaar is. Jacques Rudolph het in drie beurte 52, 105* en 1 gekry wat vir hom ’n  gemiddeld van 79 gee.

    Alles in ag genome is hierdie nie ’n  kolwerafdeling in krisis nie. Die probleem is nie dat hulle nog nie almal gelyktydig gevuur het nie, maar dat te veel van hulle op twee geleenthede vasgeval het. Daar is ander bemoedigende aspekte aan die gesamentlike vertonings tot dusver. Mark Boucher het sy yster bo-aan die stertkant herontdek en die boulers het met mening daarop gereageer en veelseggende lopies gemaak. In die eerste beurt van die tweede toets het die laaste drie paaltjies, hoofsaaklik sonder die begeleiding van ’n  erkende kolwer, 102 lopies opgelewer en dit is juis die soort opbrengs wat ’n  opponerende span se gees kan knak.

    Daar is niks ernstig fout met die Proteas se kolwerslys nie. Die enigste aanpassing sal kom as Petersen nie sy slag kan herwin nie. In dié geval is dit denkbaar dat hy die pienkbriefie kan kry en dat van Amla af die hele kolwerslys een posisie sou opskuif om vir JP Duminy plek op nommer ses te maak. Dit is ’n  spilpuntposisie in enige kolfaanslag, maar Duminy het die tegniek en temperament om lopies op nommer ses te jaag of, indien nodig, om die glans van die nuwe bal af te slaan.

    Die finale toets begin oor ’n  paar dae en die Nieu-Seelanders weet nou hoe dit voel om in die visier van waarskynlik die beste boulaanval ter wêreld te wees. In alle waarskynlikheid gaan hulle ook ’n  Suid-Afrikaanse kolwergeweld raakloop soos selde tevore.

    Фильчаков прокурор харьков

  • Proteas trek die Kiwi’s se velle af

    Hulle sê die Proteas het ‘n lang stert. ‘n Krokodil het ook ‘n lang stert. Daardie stert kan woes slaan. Die Proteas se stert kan ook woes slaan. Vra maar vir elf Nieu-Seelandse krieketspelers. Hulle het die letsels daarvan om te vertoon. En as dit die Proteas se kolfagterhoede is wat seermaak, is dit die voorkant van hulle boulaanval wat skerp tande het. In die Kiwi-kleedkamer, so terwyl ek skryf, word daar mismoedig wonde gelek.

    Nie dat die Suid-Afrikaners ongeskonde is nie. Hulle toporde het ook selftoegediende wonde waarop hulle pleisters moet plak.

    Die dag het heel onskuldig begin, met Suid-Afrika op 27 lopies vir die paaltjies van ‘n onbesonne Graeme Smith en ‘n vroeggevrekte naguiltjie, Dale Steyn. Alviro Petersen het bedees te werk gegaan, sy kolf en skutte netjies bymekaar gehou in ‘n poging om uit die moeilikheid te bly. Amla was soos ‘n ware hoofseun voor die penne, baie verantwoordelik en geduldig. Die Nieu-Seelanders het knaend aangeval en die bal, anders as gister, het begin sywaarts sweef. Die gevaarlikste van die boulers was Martin Gillespie wat sy toetsterugkeer na drie jaar gemaak het. Hy lyk net nie so indrukwekkend nie, met nou skouers, breë heupe en swaar boude. Maar sy aflewerings is geniepsig genoeg en hy het voortdurend gesoeksteek vir ‘n skuiwergat in die Protea-verdediging.

    Uiteindelik het Amla ‘n bal van Gillespie met die grootste presiesheid in Kane Williamson se hande op punt gedryf. Hy is uit op 19. Petersen se kolf het gou daarna ‘n noodlottige ompad om ‘n aflewering van Gillespie gevind en hy is uit vir 29 van 74 balle. Kallis het gekom, ‘n buiterand gebruik om ‘n ses agter sy rug te slaan en toe die volgende bal, van einste Gillespie, bykant toe gevryf vir Kruger van Wyk om te vang. Die kolos se kolfgrafiek wys deesdae of diep dieptes óf hoë hoogtes. Sy laaste aantal beurte was 0, 0, 227, 0, 113, 6. En die volgende is… wel, die Nieu-Seelanders moet maar asem ophou.

    As ek een speler moes kies om vir my lewe te speel sal dit nie Michael Clarke of Alistair Cook wees nie, nee, nie eens Jacques Kallis nie. Daar is deesdae net een: AB de Villiers. Dit lyk net asof hy in ‘n ander wedstryd betrokke is. Waar ander kolwers skoffel en krap, trap hy presies en slaan raak. Dis asof die balle wat sy kant toe kom met ‘n rek aan die bouler se hand vas is. Dit vat oënskynlik net soveel langer om by hom te kom. Sy eerste vennoot, Jacques Rudolph het gou genoeg Gillespie se vierde sukses geword; agter die paaltjies uitgevang vir een. Mark Boucher het by De Villiers aangesluit en daadwerklike stysel in die kreukelende kolflys gesit. Hy het diep, ernstig en doeltreffend geswoeg.

    De Villiers, aan die ander kant, was net te vinnig op sy voete en net te presies met sy kolfhoue vir die Swartpette. Hy het sonder merkbare drama moeiteloos verby ‘n verbluffende vyftigtalmerkie gekolf. Boucher is uiteindelik uit toe hy ‘n Gillespie-aflewering teruggekeer het op sy paaltjies. Philander het ook sorgeloos gekolf totdat hy ‘n fatale konsentrasiebreuk beleef het en sy kolf gelig het vir ‘n bal wat ingeswaai het na sy binne. Hy is deur Bracewell geboul. De Villiers is uiteindelik na tee uit vir 83 toe ‘n aflewering van Vettori al met die voorkant van sy kolf afgegly en stadig met sy paaltjies gebots het.

    Morné Morkel het met lang treë op die veld verskyn te midde grynslagte van die Kiwi’s wat reken die lang Suid-Afrikaner is so intimiderend soos ‘n opgestopte kameelperd voor die paaltjies. Ons mor al lank dat Morkel ‘n baie beter kolwer is as wat hyself besef en vandag het hy ons punt onderstreep. Hy het met die grootste elegansie gehaak en gedryf vir sy onbeëindigde beurt van 35. Selfs klein Imran Tahir het alles binne reikafstand raakgeslaan. Die laaste drie paaltjies was uiteindelik 102 lopies werd – tot die bloedige frustrasie van die Kiwi’s. Elkeen van die laaste drie vennootskappe het, asof afgespreek, 34 lopies bedra.

    Suid-Afrika is almal uit vir ‘n teleurstellende 253, wat nogtans 68 lopies meer as die Nieu-Seelanders se eerste poging was.

    Die Kiwi’s het hulle sommetjies gemaak en kom kolf met die voorbedagte rade om die agterstand uit te wis sonder om ‘n paaltjie af te staan. Teen uitskeityd het hulle net drie lopies gekort om die agterstand in te haal, maar met die ongevalle van vier paaltjies.

    Hulle ellende is dat Dale Steyn sy venyn weer gevind het, en ‘n bal wat swaai. Philander was so akkuraat soos altyd en het vir Rob Nicol vasgepen. Dié arme Swartkepserigheid het ‘n bal van sy penne weggekeer en dit in die hitte van die daad met sy binne-arm teruggestamp in sy penne in. Dit was nie ‘n mooi manier om uit te gaan nie, maar uit is uit.

    Oomblikke later het Steyn vir Guptill soos ‘n koeksister voor die penne gedraai en dié openingskolwer het die bal na Amla op vlakhalfby gestuur.

    McCullum het gou voor Philander geswig, been voor paaltjie vir een. Ross Taylor en Kane Williamson het daarna net gekonsentreer om uit die moeilikheid te bly. Maar soms, as jy nie moeilikheid soek nie, kom besoek dit jou. Steyn het teen hierdie tyd die bal laat andersom sweef en dit het Taylor toet en taal gefnuik. Hy is baie deeglik met sy been voor die paaltjies betrap.

    Williamson het darem ‘n skaflike 41 gemaak en hy en Vettori het die laaste drietal beurte – net-net – oorleef.

    Die Kiwi’s is oor die wawiel gespan en dit is moeilik om te dink hoe hulle ‘n afgedankste loesing gaan vryspring. Dié keer kan selfs nie hulle vriend, die Reën, vir hulle intree nie. Daar bly ‘n volle drie dae se spel oor. En hulle bloei alreeds…

    александр лобановский супермаркет класс

  • Dale Steyn vat vlam in Nieu-Seeland

    Wat staan ‘n Kiwi te doen? Hulle is die gashere vir die huidige toetsreeks en moet die kolfblaaie voorberei. O, hulle het keuses, die een so onbemoedigend soos die ander. Is die blad mak, slaan die Suid-Afrikaanse kolwers hulle boulers kis. Is die blad wild, boul die Suid-Afrikaanse boulers hulle kolwers kis. Hoe jy ook al daarna kyk, daar gaan in alle waarskynlikheid verrinneweerde Kiwi’s na die tyd wees.

    Vir die tweede toets, wat vanoggend (beskaafde tyd) in Hamilton, Nieu-Seeland begin het, is verrassend genoeg ‘n blad met ‘n groen stoppelbaard onthul, een wat op die oog af bietjie knal in die bal sal sit. Graeme Smith het die loot gewen, en tot niemand se verbasing nie, die granaat bo die tak verkies en die Swartkepse laat kolf.
    Dit was gou duidelik dat ‘n groen blad in Nieu-Seeland nie die manjifieke wip van groen blaaie in Suid-Afrika het nie. En daar is meer swaai in ‘n stalaktiet as wat daar op dié dek was, het Dale Steyn en Vernon Philander gou genoeg agtergekom. Die wedstryd het gedwee in ‘n baie voorspelbare rigting begin drentel. Eers het Philander aangehou om vir Rob Nicol uit te nooi om die bal buite die wegpen deur te streel na die handskoene agter die paaltjies. So gedaan met Nicol se telling op 2.

    Steyn het daarna roetinegewys van Martin Guptill ontslae geraak deur ‘n handbreedte by die wegpen te boul en te wag dat die bal in die penne in gekap word. Dit het die Nieu-Seelander, na ‘n paar uitgelate grenshoue, gedienstig gedoen, met ‘n diagonale kolf wat soos ‘n blindeman se kierie gevoel-voel het vir die bal wat dit toe teen die onderkant getref het.

    Brendon McCullum en Ross Taylor het, ewe voorspelbaar, bestendig gespeel, die dreigende balle uitgelos waar hulle kon, ander gekeer, onder kophoogte missiele weggekoes en die uitskotballe hard geslaan. Graeme Smith se planne het gou opgedroog en dit was asof hy tussen twee taktieke vasgeval en nie geweet het of hy moet aanval of verdedig nie. Die boulwerk, wat aanvanklik deurtastend en stug was, het begin uitrafel en vir ‘n heerlike tussentyd het die Nieu-Seelanders die bal diep en ver versend. Die boulers het ongeduldig geword en eerder as om die teenstander te probeer wurg, het hulle die kortpad slagaar toe gesoek met aflewerings op die beenskutte, en dis omtrent uitsonderingloos weggeslaan.

    Ete het gekom en daarmee die Nieu-Seelanders se ou, bestendige bondgenoot: Reën. Die Suid-Afrikaners het die hele middelsessie, waartydens nie ‘n bal geboul is nie, gehad om gewoond te raak aan die gedagte dat die Kiwi’s goed op koers is na 300 eerder as 200. Maar blykbaar bring tyd regtig raad. Na teetyd het die boulers die aanslag op skutte en stokke gestaak en gekonsentreer om die lopies skaars te maak met kort aflewerings buite die wegpen. Veral Kallis en Morkel het die kolwers daar vir ‘n suinige rits boulbeurte gesmoor. McCullum en Taylor is darem kolwers met klas en het gaandeweg maniere gekry om die bal te smeer. Hulle het weer fluks gevorder totdat Kallis en Morkel hulle weer kon terugkatrol.

    Dale Steyn het weer die bal gekry en voortgegaan met ‘n plan na McCullum. Eers boul hy kort en wyd buite die wegpen, vinnig genoeg om die lopievloei af te skakel, en dan wissel hy dit met ‘n opskietbal na die bolyf. McCullum se filosofie is om die bouler te verdruk en dit doen hy deur wat binne trefafstand is hard te slaan. Vroeër het hy sulke lyfballe suksesvol deur die grens getrek. Nou, in Steyn se een boulbeurt, was hy ‘n aks te stadig om so ‘n bal behoorlik in die tande te slaan en dit het afgekaats tot voor sy voete. Hy het homself openlik betig. Die feit is, die ware Dale Steyn, afwesig tot nou toe, was besig om op te staan. Daar was meer spoed en venyn in sy boulwerk.

    In sy volgende boulbeurt het hy die aanslagpatroon voortgesit. Buite die wegpen, buite die wegpen, na die lyf… Dié een het ribbehoogte opgestaan en McCullum kon dit omroer vir ‘n vier na skerpby. Weer hoog buite die wegpen en toe weer na die lyf. Dié keer, op byna dieselfde lengte, het die bal opgeskroei en daar was net geen moontlikheid dat McCullum, oorheers deur motief en spiergeheue, nie na die bal sou haak nie. Hy het, maar die bal was so hoog dat dit vir hom wetenskaplik onmoontlik sou wees om dit afwaarts te slaan. Die bobbejaanstertvlug van die bal het Jacques Rudolph op die middebaangrens gevind. Na die McCullum-Taylor-vennootskap van 89, was die Nieu-Seelandse telling 133, ‘n getal wat vir hulle baie gou pynlike betekenis sou kry.

    Taylor, ontsenu deur die verlies van sy vennoot, en verwar deur Morkel se onttrekking uit die aanval en Philander se toetrede, het nie rekening gehou met die verskil in aflewering nie. Eerder as Morkel se opskietende kartetse, was dit nou Philander se geslepe dienste wat sy kant toe gekom het. Taylor het gestreel na ‘n bal buite die wegpen en is deur Smith in die glippe gevang. Die telling was steeds 133.

    Dit was ook op 133 wat Steyn in die volgende beurt die nuwe kolwer, Williamson, se kolfbuiterand gevind het en Smith weer in besigheid was in die glippe. Minute later het Philander ‘n pad deur Daniel Vettori se skanse gevind en sy paaltjies verfomfaai met die Kiwi-telling op… 133. En steeds was die Suid-Afrikaners nie met die Swartpette op 133 klaar nie. Philander het vir Bracewell op daardie swart telling agter laat uitvang vir nul. En die groot totaal was steeds 133.

    Dit het ‘n verloopte Suid-Afrikaner, Kruger van Wyk, geverg om die bloedvloeiing te laat stol. Hy het ‘n astrante, maar bedrewe 21 lopies aangeteken. Aan die ander kant het die bouler, Mark Gillespie, 27 lopies gekry, niks daarvan astrant óf bedrewe nie. Hy was ooglopend gretig om van die vuurfront af te kom en het wild geswaai na alles binne bereik. So het nie hy óf die Suid-Afrikaners gekry wat hulle gesamentlik gesoek het nie – sy paaltjie. Hy het selfs ‘n paar sesse geslaan, een van hulle met ‘n baie koddige poging. Hy het weggekoes van ‘n skokbal, heeltemal weggeswaai sodat sy gesig na skerpby toe gewys het. Fisika en fisiologie bepaal dat die kolf iewers heen moet gaan, en in die geval het dit toevallig die bal iewers in die vlug getref en dit het oor regby gesweef vir ‘n maksimum.

    Selfs sulke beplande en onbeplande weerstand kon nie te lank duur nie. Imran Tahir, nie veel van ‘n breker teen die toporde nie, is genoeg van ‘n raaisel om die stertkant dronk te draai en hy het die laaste stuiptrekkinge van die beurt kortgeknip met twee paaltjies.

    Die Nieu-Seelanders, op ‘n groen maar mak blad, was uit vir 185.

    Die Suid-Afrikaners het 15 boulbeurte gehad om voor uitskeityd te absorbeer. Dis juis in sulke tye wat Graeme Smith op sy kwesbaarste is. Met sy voortdurende stryd om sy gebrekkige tegniek te bestuur, lyk dit soms te veel gevra dat hy vir kort tydjies moet konsentreer eerder as om homself deeglik vir ‘n lang skof in te grawe. Heel voorspelbaar is hy agter uitgevang, maar dit net omdat hy na die bal doer anderkant die wegpen gaan aankeer het.

    ‘n Konsentrasiebreuk in Protea-geledere het toegesien dat Dale Steyn op naguiltjiediens, ‘n goeie halfuur voor die einde verskyn om die nuwe bal te trotseer. Hy het dit vir ‘n volle vyf balle gedoen voordat hy uitgevang is.

    Stem-in-die-bos Amla het gedoen wat hy minute tevore moes doen: Uitgekom en kom kolf. Hy en Alviro Petersen het die res van die aflewerings skadeloos gestel om Suid-Afrika op 27 vir twee te los.

    Op ‘n blad soos hierdie, is dit redelik om te aanvaar dat die Suid-Afrikaanse kolwers in ‘n lopiekoors gaan maai. Hulle plan moet wees om genoeg lopies te kry om die hart uit die opvolgende Kiwi-kolfaanslag te ruk voordat Suid-Afrika vir ‘n tweede keer hoef te kolf.

    Die beste nuus vir Suid-Afrika is die verskyning van Dale Steyn. Sy ou veglus is terug, en so ook, gaandeweg deur die dag, sy boulspoed. Op 136 km/u is Steyn so goed soos enige bouler in die wêreld. Op 152 km/u is hy verreweg die beste.

    Александр Фильчаков

  • Proteas – op die nippertjie van grootsheid?

    Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika nie die wêreld in ten minste twee sportsoorte – voetbal en krieket – oorheers nie. Die Springbokke het darem twee wêreldbekers gewen en die naasbelangrikste toernooi, die Drie Nasies, drie keer. Die Proteas – ou nuus hierdie – het nog nooit ’n  uitklopwedstryd in hulle wêreldbekertoernooie gewen nie. Tog, vir lang tye tussenin, was hulle die toonaangewende span in die wêreld. Nie dat dit so ophemelwaardig is nie. Die werklike stand van ’n  land se krieketmag word in toetskrieket bepaal. Tans rus hierdie wêreldkroon ongemaklik, asof dit nie gemeet is vir die verskillende hoofde waarop dit onlangs geplaas is nie. Maar een span lyk asof die kroon langer, fermer en regmatig op hulle kan pas – die Proteas.

    Suid-Afrika het in 2008/9 verskyn as die gepaste troonopvolgers toe hulle die verslete ou heersers uit die stoel gestoot het. Die Australiese span het ’n ware dinastie van die dae van Allan Border tot met die herfstyd van Ricky Ponting se bewind daargestel. ’n  Goeie span het onder Border se voogskap tot ’n  gedugte uitdager gevorder. Onder Mark Taylor het hulle hulle plek tot in die troonkamer oopgeveg. Die onbuigsame, verbete Steve Waugh het van hulle ’n  allesverpletterende masjien gemaak en hulle het met Ponting in die voorste hoede ’n  lang, rokende strook verwoesting deur wêreldkrieket agter hulle gelaat.

    Die Proteas het in hierdie baie lang epog soms manhaftig teen die Ausies gespeel, maar het telkens iewers in hulle mondering ’n  fatale swakplek gehad en is gereeld genadeloos afgeransel. Die beste wat legendes soos Hansie Cronjé, Allan Donald, Darryl Cullinan en Gary Kirsten ooit teen hulle sou vaar was om reekse te deel. Ander, soos Kallis, Shaun Pollock en Mark Boucher moes oor en oor oorweldigende reeksnederlae sluk. Hulle kon net nooit suksesvol teen hierdie vloede swem nie. Eers in 2008 het die gety gedraai.

    Die Australiërs het ’n  skielike uittog van legendariese ringkoppe beleef. Geen land het die reserwes om die leemtes gelaat deur Justin Langer, Matthew Hayden, Adam Gilchrist, Glenn McGrath, Shane Warne en ander toe te stop nie. In hierdie selfde tyd het Suid-Afrika se gekonsentreerde talent versolied onder die tegniese oog van Mickey Arthur. Die kolwers het geset in hulle posisies en die boulaanval het jong, nuwe en baie skerp angels bekom. In ’n toetsreeks van die hewigste opwinding en spanning, het Suid-Afrika vir die eerste keer ’n  toetsreeks in Australië gewen.

    Die koms van ’n  nuwe jong wêreldleier is besing, maar in een van daardie onverklaarbare struikelinge het Suid-Afrika versuim om hulle posisie teen Australië te bevestig toe die Proteas in die omgekeerde toer met 2-1 in Suid-Afrika verloor het. Daarna het Suid-Afrika nog ’n  paar geleenthede gehad om hulle kleimpenne finaal in te kap met goeie vertonings oorsee. En tog het die raaiselagtige vormverval tuis hulle telkens gekniehalter. Hulle het Engeland, Indië en Australië goed onder beheer gehad maar het elke keer die reeks onverklaarbaar gedeel. Hierdie drie spanne het veral van Kingsmead op Durban ’n  doodsakker van Suid-Afrikaanse krieketambisies gemaak. Die onlangse reeks teen Sri Lanka bygetel, het die Proteas nou hulle laaste vier wedstryde in Durban verloor.

    Die kroon waarmee die Proteas so gewiggel het, is uiteindelik deur Indië opgeraap, maar hulle moes dit aan Engeland oorgee omdat hulle blykbaar geen ideale het om buite hulle geliefde sub-kontinent te wen nie. Engeland, na ’n  oortuigende Asse-veldtog in Australië en ’n  verrinnewering van Indië het kortstondiglik na die regmatige kroondraers gelyk, en toe gaan val hulle 0-3 in ’n  toetsreeks teen die onbesonge Pakistan vas. Dit het die valhek oor die grag vir Suid-Afrika geplaas om weer die kroon terug te neem, iets wat sou gebeur het as hulle die huidige toetsreeks teen Nieu-Seeland 3-0 sou wen. Dis nou, nadat die weer tot die Kiwi’s se verligting die laaste dag se spel verspoel het, nie meer moontlik nie. Die Proteas se volgende geleentheid kom ’n  bietjie later in die seisoen met ’n  toer na Engeland. Daar is baie redes vir die Proteas om optimisties te voel oor dié toer.

    Die span is man-vir-man beslis opgewasse teen die Engelse. Die Rooinekke het ’n indrukwekkende top- en middelordekolflys, met Strauss, Cook, Trott, Bell en Pietersen almal gevaarlike bydraers. Maar Suid-Afrika het vir Graeme Smith, Alviro  Petersen, Hashim Amla, Jacques Kallis en AB de Villiers wat selfs dodeliker is. Die Engelse aanval is ’n  venynige een, maar meeste kolwers ter wêreld sal hulle liewers as Dale Steyn, Morné Morkel, Vernon Philander en die nuwe slinger, Marchant de Lange sien instorm. Die één angel wat die Engelse het wat skerper is as enige iets in die Suid-Afrikaanse arsenaal, is hulle draaibouler, Graham Swann. Tog is hy nie ’n  natuurmag soos wat Warne vir Australië of Muralitharan vir Sri Lanka was nie.

    Die een speler wat meer as enige ander die sleutel is in hierdie geskil, is waarskynlik Graeme Smith. Ek is seker die enigste persoon in Suid-Afrika wat sy saak nog bepleit, maar hy is dit werd. Van sy vroegste toetsdae af het hy ’n  voorliefde vir Engelse omstandighede. Hy reserveer sy vernietigendste vorm vir hulle. In sy eerste uithuisige toer as kaptein, het hy in opeenvolgende wedstryde dubbelhonderttalle teen hulle geslaan en sy persoon so aggressief op hulle afgedruk dat hulle gespartel het vir oorlewing. In Suid-Afrika se laaste toer, het hy die eerste postisolasie kaptein van ’n  seëvierende span in Engeland geword. En hy was g’n  passasier. In die beklinkende toets op Edgbaston het hy korte mette van ’n  aansienlike telling gemaak toe hy 154 lopies nie uit nie geslaan het in Suid-Afrika se suksesvolle agtervolging van ’n  wentelling. Dit word as een van die allerbeste vierdebeurtkolfvertonings gereken. Sy blote teenwoordigheid intimideer die Engelse, en as sy kolf enigsins in volle swang gaan wees, sal dit baie bydra tot ’n Suid-Afrikaanse reeksoorwinning.

    Daar is wel ’n  anderkant aan die Smith-faktor. Hy bly een van die mees bruuske en oordonderende oopmaakkolwers in wêreldkrieket, ja, maar dit is my mening dat Suid-Afrika ’n vernuwing makeer in die kapteinstoel. Smith was ten beste ’n kaptein wat vooruit gegaan het vir ander om te volg. Daar was soms verblindende hoogtepunte van suiwer kreatiwiteit – soos toe hy vir Ricky Ponting om elke draai uitoorlê het in dáárdie reeks in Australië in 2008. En tog was hy nog nooit ’n  kaptein wat deurgaans skeppend te werk gaan nie. Die gevoel is soms dat hy ’n  handleiding het wat hy volg, selfs as daar ’n  oorverdowende geroep om instinktiewe maneuvers op die veld is. Die enigste rede om hom as uitvoerder van sy eie planne op die veld te hou, sou wees indien daar nie ’n  ware vervangingskandidaat in die geledere was nie. Nou is daar. AB de Villiers het as eendagkaptein homself reeds as iemand met ’n  besondere aanvoeling vir die subtiele wendings, slaggate en geleenthede op die veld onderskei. Hy het ook bewys dat hy een van daardie rare krieketwesens is wie se spel in dieselfde juk as kapteinskap floreer.

    Dié Suid-Afrikaanse span is lankal nie meer die onbuigsame samestelling wat die Proteas onder, sê, Hansie Cronjé was nie. Dit is ’n  span wat gemaklik vorm kan smee na gelang van die ontvouing van ’n  wedstryd. Die kolwers, van 1-6, kan ewe gemaklik die beurt anker as lostrek om ’n  weifelende aanval te verrinnewoes. Die boulers is almal veelsydig genoeg om lopievloei toe te draai of om bresse te slaan in ’n  kolflys.

    Suid-Afrika sál een of ander tyd weer Nommer Een in die krieketheelal wees. Dit kom ’n  goeie span toe. Maar as ons regtig groot wil droom, dan is dit van ’n  span wat, soos die Australiese bende van weleer, teenstanders nie net verslaan nie, maar vernietig, wat vir lang tydperke aaneen eenvoudig sal verleer om te verloor. Kan dit wees? Ja, met al die spelers in ons kraal, ja, dit kan gedoen word. Dit alles begin teen Engeland in Engeland.

    Net solank hulle nie vergeet om eers die Nieu-Seelanders in Nieu-Seeland in die stof te loop nie.

    лобановский депутат

  • Die naweek se Superrugby: wie die bal nie bemin

    Die Cheetahs, die Leeus en die Bulle het die naweek verloor waar hulle net sowel kon gewen het, en daar is ’n sorgwekkende tema in die manier waarop al drie spanne hulle rug op oorwinnings gedraai het. Hierdie spanne het nagelaat om die kosbaarste voorwerp op die veld – die bal – op te pas. Balbesit kan nie gekoop word nie, en as jy dit nie koester nie, sal jy verneder word.

    In die eerste wedstryd het die Cheetahs in Canberra aangetree vir ’n wedstryd teen die ontluikende Brumbies onder Jake White. As daar een span is wat al daarvan ’n kuns gemaak het om ’n nederlaag uit ’n waarskynlike oorwinning te munt, is dit die Bloemfonteinse spul. Sedert hulle egskeiding uit die ongure Cats-verbintenis met die Leeus, het hulle nog nie noemenswaardige sukses op oorsese uitstappies gehad nie. Hierdie week het hulle na ’n vertrapping deur die Bulle en ’n lang vlug van die Groot Silwer Voël afgestap in ’n Australië wat gebaai is in vloede so groot soos Frankryk. Dit het enige ordentlike oefening verydel. Dus het niemand op ’n Cheetah-oorwinning gereken nie. Maar, soos ons al gesê het, as jy hulle net liefhet en niks van hulle verwag nie, sal die Kolletjieskatte jou verras. As ’n wedstryd stiptelik na 80 minute se spel geëindig het, sou hulle hierdie een gewen het. Maar ’n wedstryd is 80 minute plus die tydjie wat dit vir die spel vat om dood te loop. En dit was die verskil…

    Die Cheetahs het verfrissend van afskopfluitjie af Cheetahs-rugby gespeel: Met die bal in gapings. Die vaste vyf het hulle man gestaan en Coenie Oosthuyzen, uiteindelik weer terug, het nog ’n paar versies in die eerste bedryf van ’n groot rugbyloopbaan geskryf. Hierdie is ’n man wat sy 125 kilogram binne 12 sekondes oor honderd meter kan skuif. Hy kom soos ’n kanonskoot van die merk af en tref die vlees-en-bloed voor hom met ’n magtige knal. Daar kan nie van hom verwag word om verfynde balbeheertegniek te hê nie – maar dit hét hy nietemin. Dit was sy delikate, goedbeplande aangee van ’n lynstaan af wat Willie le Roux, Cheetah linkervleuel, volspoed in ’n gaping gevind het. En hier is opwinding, die manier waarop Le Roux hardloop, swenk, die ruimte vind. Hy het die hele Brumbie-agterlyn verfonkfaai vir ’n drie onder die pale.

    Die Brumbies se Henry Speight het self gapings gevind waar daar nie enige moes gewees het nie en vir die Wildeponies gaan druk. Strafskoppe het die res van die eerstehelftepunte opgemaak en die Cheetahs was onverwags 13-10 voor met halftyd.

    ’n Groot rede vir hulle voorsprong was die herontwaking van Heinrich Brüssow. In die Cheetahs se openingswedstryde was hy ’n grootliks ’n leë nommer-6 trui, bereid om met die bal te storm en om sy deel op die verdediging te doen, maar verbasend sku om die bal van die grond en in losgemale weg te stroop – juis dit wat van hom een van die skrikwekkendste oopkantflanke in die spel gemaak het. In hierdie wedstryd het hy sy slag herontdek en ’n indrukwekkende aantal Brumbie-aanvalle gesnuit met balle wat hy eenvoudig op beslag gelê het.

    Die gevolg was dat die Cheetahs lekker vinnige afrokkelbesit gekry het wat hulle kon gebruik om uit verdediging oor te skakel na aanval voordat die Brumbies hulle aanvalformasies as verdedigingslinies kon herontplooi. In een so ’n teenaanval, vroeg in die tweede helfte, het Tewis de Bruyn vernuftig deurgewals vir ’n drie. Met nog ’n Goosen-strafskop was die Cheetahs onverwags 23-10 voor.

    Vir die oorblywende 38 minute sou hulle nie weer ’n punt aanteken nie. O, hulle het soos die Voortrekkers van Vegkop verdedig, maar hulle het gesondig en hulle sonde was dat hulle stief was met die bal. Telkens wanneer hulle wel die bal in besit geneem het – meermale deur Brüssow se rampokkery – het los aangeë, paphandige grepe of onbesonne skoppe die bal van hulle vervreem. Daarmee het Pat McCabe ’n drie gaan druk, wat nie vervyf is nie, en losskakel Christiano Lealiifano het voor die sirene nóg twee strafskoppe bygevoeg om die Brumbies met 21-23 binne trefafstand te bring. In die bepalende laaste minute, in daardie ou bekende tydperk waar een span met fase na fase aanval en die ander verdedig, het die Cheetahs telkens die sakkie met die wedstryd in toegerits, net om die bal onverklaarbaar weer af te staan. Wat nodig was, was vir die voorspelers om die bal onder die arm te hou, ’n tree te dryf, te gronde te gaan, die bal optel, weer dryf… Wat hulle gedoen het, was om die afgerokkelde bal weg te slinger wat die aanvallende Brumbies die kans gegee het om tussen die Cheetahs in te beweeg om die besit te belemmer.

    Net voor die sirene het die Cheetahs in die middel van die veld aangeslaan en in die daaropvolgende skrum is hulle ietwat raaiselagtig gestraf. Nadat die sirene reeds weemoedig geloei het, het Lealiifano die noodlottige drie punte raakgeskiet om die Cheetahs net nog een van ’n lang reeks naelskraapse nederlae toe te dien.

    Nederlaag nieteenstaande, as die Cheetahs kan opmaak met die bal en dit die sorg en beskerming gee wat dit verdien, gaan hulle nog ’n groot Super Rugby-reeks hê.

    Die volgende episode in die dag se Suid-Afrikaanse Super Rugby-sage was die interprovinsiale wedywering tussen die Leeus en die Haaie in Durban. Die Leeus het nie gewen nie want hulle was nooit veronderstel om te wen nie – maar hulle kon,,, as hulle net meer geheg was aan die bal. Hierdie was ’n woes uitgedunde Johannesburgse span. Hulle het drie stutte, ’n slot, en redelik noodlottig, hulle losskakel Elton Jantjes voor die wedstryd op die beseringslys ingeskryf. Nie lank in die wedstryd in nie, moes die gedugte Alwyn Hollenbach ook bes gee met ’n dyspierknyp. Die onbekroonde jong Andries Coetzee was nou op die nommer-10 spilposisie.

    Die Haaie daarenteen het ’n speler-en-’n –half herwin met Willem Alberts wat gerehabiliteer is. Hierdie is ’n turbo-aangedrewe herinterpretasie van ’n ander verloopte Transvaler, Wahl Bartmann. Sy verwoestende dryfwerk, brutale lopies en genadelose lakwerk verdoesel baie gebreke in die Haaie-voorpak. Boonop het ’n ander grysbeer, Bismarck du Plessis, uit sy winterslaap ontwaak.

    Uit hierdie bestanddele is ’n voortreflike, aksievolle wedstryd opgekook. Beide spanne het met venyn aangeval, veral die Haaie en beide spanne het hardnekkig verdedig, veral die Leeus. Die Goudstedelinge het ’n oeroue nuwe benadering as primêre verdedigingswapen gebruik: Hulle het die bene van die Haaie aangeval. Telkens het groot voorspelers soos hoë bome geval, hulle bene eenvoudig onder hulle uitgesekel.

    Teen die 29ste minuut was die telling ’n swaarverdiende drie punte elk, voordat die Leeus se slordigheid hulle gepootjie het. Dit was reeds duidelik dat die Haaie nie die tande gehad het om uit eerste fases se besit drieë aan te teken nie. Al was Bismarck du Plessis titanies in die stryd om die losbal, het die Leeus soveel geroof as wat hulle afgestaan het. Maar die een afdeling waarin hulle onwaardig was, was met taktiese skopwerk. Dit was ’n terugskop van Jaco Taute uit die kwartgebied wat omgespring het om die Leeus in die wind te skop. Die skadelose skop het Riaan Viljoen gevind en hy het dit langs ’n hoë parabool terug gestuur. Die Leeus het die bal stief behandel, dit ongeërg teruggeklap net betyds vir die aanstormende Viljoen se aankoms. Skielik was hy en die bal alleen en die doellyn ’n paar treë verder. Hy het bymekaar gemaak en gedruk.

    Butch James het die skade met ’n strafskop beperk maar toe, net voor die halftydsein, het die Leeus se ingewikkelde verhouding met die bal nóg ’n wending geneem. Reg op hulle doellyn het hulle die bal in hulle lynstaan laat ronddobber, Bismarck het beslag gelê daarop en dit is deur die hande langs die agterlyn aangewip vir Lwazi Mvovo om in die hoek te druk. Patrick Lambie het die bal deur die pale geryg vir ’n 17-6 halftydtelling.

    Die eerste deel van die tweede helfte het baie van die patrone voortgesit met die Haaie wat voor- en agterlangs hard aangeval het en metodies by die bene afgesny is deur iesegrimmige lakwerk. Lambie het uiteindelik nog ’n strafskop behaal vir ’n 14-punte voorsprong, maar die Haaie kon net nie die wedstryd bêre nie. Dit was nou die Haaie se voorspelers se beurt om die bal weg te wys. Die nuwe Leeus-skakel Andries Coetzee het die lyn reguit getrek en die beweging het op ’n kortafstandaanval deur die sterk Taute tot ’n drie gelei.

    Na al die Leeus se terugslae en dramas was hulle binne 7 punte van die Haaie, en hulle sou werklike druk kon toepas as hulle nie weereens iewers op die aanval kontak met die bal verloor het nie. Die Haaie se JP Pietersen het in die geharwar homself in groot leegtes bevind en hoewel hy ingejaag en neergevel is, het hy vir Meyer Bosman gevind vir die Haaie se derde drie.

    Die Leeus van vanmelewe sou net daar die onvermydelike aanvaar het, maar nie hierdie weergawe nie. Hulle het dadelik ’n teenoffensief georganiseer en Ruan Dreyer, die plaasvervangerstut, het gaan druk om die Leeus weereens binne trefafstand te bring.

    Die genadeskoot was ’n rolmaal deur die Haaie met die gesoute Jacques Botes in sy gebruiklike skippersposisie aan die agterkant daarvan. ’n Uitgeputte Leeu-voorpak kon oplaas nie meer genoeg kilogramme voorgegooi kry nie en Botes het sy kenmerkende drie gedruk.

    Die eindtelling was 24-10.

    Beide hierdie spanne het die materiaal, die spelplanne en die gees om tot diep in hierdie kompetisie te vorder.

    En dit sal ’n mooi ding wees.

    Die laaste beweging van hierdie naweek se voetbalconcerto was die skermutseling tussen die Bulle en die Blues op Loftus. Dit is ’n kenmerk van ’n kampioenspan dat hulle steeds wen al speel hulle nie goed nie. Die Bulle van Matfield in die pasafgelope era het dit gereeld gedoen. Dit is ook tekenend van ’n kampioenspan dat as hulle vroeg agterloop in ’n wedstryd, hulle ’n manier sal vind om deur te druk. Die Bulle is dus nie die kampioenspan wat hulle eers was en in alle waarskynlikheid weer sal word nie. ’n Blaps vroeg in die wedstryd het hulle ontsenu, hulle wedstrydbestuur het hulle versaak en hulle het onnodig ’n wedstryd verbeur.

    In ooreenstemming met ons tema, was dit juis hulle ongeërgdheid met die bal wat tot hulle val gelei het. Skaars ’n minuut in die wedstryd het die Bulle, teen hulle beproefde krygsplan in, ’n vlak agterlynaanval geloods. Die bal het van binnesenter Francois Venter se skouer weerkaats in plaas van om sy hande te vind en die Blues se jong losskakel Gareth Anscombe was skielik, bal en al, agter vyandelike linies met net ’n wye, onbewaakte doellyn voor hom. Hy het sy eie drie verdoel. Dit was net die begin van ’n droomdebuut vir hom.

    Die Bulle kon van daar af nie hulle wedstrydplan bestendig afdwing nie. Bulle-voetbal is gebaseer op territoriale oorheersing. Die skoppers druk die teenstander in sy eie gebied was en die Bulle se voorspelers wurg hom daar tot flaters waaruit drieë of strafskoppe gemunt kan word. Gisteraand het die Bulle se voormasjien net nooit op dreef gekom nie. Hulle is gekonfronteer deur ’n hardebaard-Nieu-Seelandse agttal wat hierdie aand nie maklik grondgebied afgestaan het nie.

    Dié uitrafeling van die plan het deurgesyfer na Morné Steyn wat vier skoppe fataal van koers af geloods het. Die Bulle was heeltemal uit sinchronisasie en van die dodelik effektiewe wisselwerking tussen voor en agter is min gesien. Tog het hulle met een aanval genoeg ruimte vir Bjorn Basson op die vleuel oopgevlek vir ’n drie. Die Blues het ’n lang teenoffensief van vlak buite hulle kwartgebied in reaksie van stapel gestuur en uiteindelik was dit dieselfde jong Anscombe wat met die bal oor die doellyn is. Met dit en die daaropvolgende verdoeling, het hy al 29 die Blues se punte aangeteken. Miskien is daar tog lig in die All Blacks se na-Carter duisternis, hoewel dit heeltemal te vroeg is om seker te wees.

    ’n Bulle-span uit fase is een wat baie oortree en die strafskoptelling het hulle ritme net nog meer versteur. Hulle was meestal onmagtig om die bal in besit te hou en het selde dreigend aangeval.

    Die wedstryd se doodsroggels was reeds hoorbaar toe Basson weer in besit gestel is vir sy tweede drie en ’n bonuspunt vir die Bulle.

    Hierdie is ’n lang kompetisie en alle spanne moet begroot vir swak wedstryde. Die Bulle moet hoop hierdie was hulle s’n .

    topcargo отзывы сотрудников