Bismarck is ’n moderne haker: Stewig, ontsaglik sterk, ’n vernietigende skrumwerker wat weet hoe om met die bal te hardloop en, baie belangrik, hoe om die bal uit te deel waar dit die grootste skade sal aanrig. Hy was nog altyd en vir elke span waarin hy gespeel het, baie waardevol, die klip waarom die opposisie se wil gebuig word. Vroeg in sy loopbaan het hierdie wilsafdwinging met ’n prys gekom: Ritse geelkaarte en strafskoppe. Hy was nog altyd vurig, maar dis ’n vuur wat sy eie span kon skroei.
Wat hy nodig gehad het, was ’n mentor en hy was gelukkiger as baie ander in die een wat hy gevind het. As jong Haai het hy die massiewe voordeel gehad om fyner onderrig in sy ambag te onvang van ’n meestervakman: John Smit. Wat die kritiek ook al teen Smit, en daar was baie en baie daarvan was welverdiend, hy was nog altyd, sonder twyfel ’n kenner op sy vakgebied. Daar is min mense wat die prosesse van voorryspel en vastevyfspel in die algemeen beter verstaan. Dit word nou duidelik dat Du Plessis hierde lesse ingeneem en begin toepas het.
Hierdie vakleerlingverhouding met Smit was egter ’n haak-en-steekproposisie. Die leerling het gou die meester in tegniek, krag en uitwerking oortref. Dit het ’n lang frustrerende tydperk in Bismarck du Plessis se loopbaan ingelui. Beide provinsiale en nasionale afrigters was gretig om Smit se kennis en leierskapvoortreflikhede te behou en het in goedgunstige ontkenning jeens sy algemene spel geleef. Vandat Bismarck tot die Springbokbank verhef is, het dit beteken dat vir ’n groot deel van sy speelloopbaan hy wedstryde van dertig minute, as uitbuitspeler, gespeel het.
Tydens verlede jaar se Wêreldbekertoernooi het die kloof in spel tussen die twee spelers ’n bespotting van die situasie gemaak. Afrigter Peter de Villiers het aangedring dat die spelers presies reg aangewend word. Bismarck is ’n “impakspeler,” het hy oor en oor verduidelik, en dan gevra dat algar sal ag slaan op die uitwerking wat hy elke keer maak wanneer hy op die veld verskyn. Hy lig die span dan “na ’n hoër vlak,” wat voetbalkenners, van die professionele soort tot die leuenstoelsubspesie, hulle hande ten hemele laat gooi het. Want, vir wat op aarde moet hierdie vlak net vir dertig minute behaal word en nie vir ’n hele wedstryd nie? Na die Springbokke – vir die grootste deel sonder Du Plessis – se brieke so liederlik in die kwarteindrondte teen die Wallabies vasgeslaan het, het Smit gegroet en in die aandskemer in verdwyn.
Suid-Afrikaanse rugby het vir eens diep, waardevolle reserwekrag in elke posisie, en daar is niks karig aan die hakervoorraad nie. Tog is daar nie werklike debat oor wie die voorste haker in die land is nie. Bismarck du Plessis, die jongbul, het die voorbul geword. Hy is nog net so liggaamlik intimiderend as altyd, miskien sterker as ooit, verbasend beweeglik. Springbokrugby was nog altyd op sy beste as die span ’n dwangmeester het, iemand wat die opposisie kan verplig om die spel op Springbok-terme te speel. Vir amper ’n dekade was hierdie die werk wat Bakkies Botha voortreflik, skrikwekkend gedoen het. Bismarck du Plessis, meer as enige ander vaste voorspeler, is geskik en gereed om dié taak op te neem. Maar na so baie veldtogte in soveel loopgrawe, is hy deesdae ’n gesoute, denkende speler, en dit maak hom soveel meer doeltreffend.
Saterdag, in Durban, het die Haaie Bismarck met al sy voortreflikhede nodig gehad – en hy het gepresteer. Die Haaie, uitgedun in die voorhoede, het aangetree met ’n voorpak saamgestel uit hardebaarde en penkoppe. Die jongeliede is almal tot barstens toe gelaai met talent en moed, maar kan baie bros in benadering wees, nog geneig om verward te wees of om moed te verloor. Dale Chadwick, Anton Bresler en Marcel Coetzee het daarom die versekering nodig gehad dat hulle skouer-aan-skouer staan met gebreide krygers soos Jannie en Bismarck du Plessis, Steven Sykes, Willem Alberts en Keegan Daniel.
Die Haaie het vroeg onder swaar druk gekom en was bitter gou 0-17 agter teen die Reds, die huidige kampioene. Hulle het skaars 30 persent aandeel in die bal gehad en hulle teenoffensiewe was min en lukraak gekonstrueer. Dit is hier, wat die Haaie dit allermins kon verwerk, wat hulle vir Jannie du Plessis en Sykes verloor het. Hulle plaasvervangers, Wiehahn Herbst en Jandre Marais was ook in die gewilligepenkopkategorie. Daar was nou meer melkbaarde as hardebaarde in die span. Hulle het verniet vir inspirasie na hulle kaptein, Keegan Daniel, gekyk. Hy was meestal afwesig in aksie. Maar hulle sou nie sonder leiding en voorbeeld wees nie. Bismarck du Plessis het die voortou opgeneem en ’n ferm ruimte geskep waarin jong kanonne soos Marcel Coetzee en Marais lustig kon afgaan.
Hy was sy gewone verwerende self. Wanneer hy iemand neersit, bly sy prooi op die grond, te geskud om blink idees te kry. Tref hy die verdedigingslinie, neem hy die kortste pad en weë dié wat tussen A en B staan. Hy buig daardie lyn, rek dit agtertoe tot op breekpunt en soms tot anderkant daar. Wat hom meer gedug gemaak het, is dat sy geweld ’n baie meer gefokusde mag is. Hy dons nie sondermeer in elke losskrum in nie, maar meet en pas waar hy die grootste uitwerking sal hê. Indien die bal vasgemeer is, val hy nie sommer daarin en mors sy trefkrag nie. Wanneer die bal egter vlak lê, en die tyd is reg, slaan hy met die skielike geweld van ’n slagyster toe. In Suid-Afrikaanse rugby is net Heinrich Brüssouw ’n meer bedrewe balrower.
Behalwe vir sy regstreekse optrede, is dit die manier waarop hy die magte versamel het om die Reds se aanslag te ontlont. Nadat die Haaie 27-22 vooruit was, het hulle besluit om die telling te verdedig, en dit wou hulle doen deur die Reds luglangs terug te dryf tot in hulle eie gebied en om dan grondgebied sentimeter vir bloedige sentimeter aan hulle te verkoop totdat die Haaie weer die bal kon weg stroop.
Dit was ’n openbaring om Bismarck du Plessis in dié proses te sien. Terwyl die spel deur talle fases gemaal het, het hy die verdedigingslinies opgestel en aangevoer en die Reds een duikslag op ’n keer verdruk totdat hulle te min magte kon werf om die bal te beskerm voordat hy toegeslaan het. Bygesê, as hy Saterdagaand sonder opmerking een of twee van sy agterlynkamerade ’n oorveeg gegee het, moes hulle nie daaroor gekibbel het nie. Hulle was baie spandabelrig met die bal wat Bismarck en sy voorspelers so duur bekom het en het dit telkens met betekenislose skoppies weggegee.
Dit is opmerklik dat Bismarck du Plessis net een strafskop afgestaan het – ’n aanvegbare onkantbeslissing teen hom. Daar is ’n nuwe volwassenheid in sy spel, sonder dat sy drif daardeur verdun is.
Daar gaan nog lekker gestry word oor die samestelling van die Springbokspan soos ontwerp deur Heyneke Meyer. Maar, beserings uitgesonder, daar kan geen twyfel wees oor wie die hakertrui gaan dra nie. Bismarck du Plessis se tyd het gekom.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.