Die Basin Reserve in Wellington is nie ’n plek vir opgevoede mense om krieket te speel nie. Die wind waai daar, altyd, die hele tyd, behalwe as dit reën. Dit waai selfs op windstildae en op winderige dae waai dit erger, soms blykbaar uit meer as een rigting. Dié week het dit, krieket in ag geneem, te min gewaai want toe reën dit, so ’n mislike regaf kantgordynreën wat alles so triestig maak, dis asof die wind self nie kans sien om te waai nie. Die reën het voor die aanvang van spel opgehou – en die wind het begin waai – maar dele van die buiteveld was so modderig soos ’n sekere soort stoeikryt van die buitewyke van Las Vegas. Daar was geen spel in die eerste sessie nie, maar toe die spanne mekaar uiteindelik in die arena ontmoet, was dit duidelik die Nieu-Seelanders het gewens die wind wil weer ophou waai sodat die reën weer kan begin.
Hierdie is ’n Nieu-Seelandse span op die nippertjie van ineenstorting. Weke se onafgebroke afknouery deur die Proteas het die geestesenergie getap en die veglusvonk gesnuit. Dit was amper onafwendbaar. Dit is uitmergelend vir ’n middelmatige span om in pas met die beste span in die wêreld te probeer bly. Daarvoor is ontkenning ’n voorvereiste, en afgelei uit die Kiwi’s se kordaat spanpraatjies en openbare uitsprake, was hierdie ’n span wat hulleself deeglik mislei het, dwarsdeur drie T20-wedstryde, drie internasionale eendaers en twee toetse. Maar die laaste hiervan, waarin hulle redelik minagtend afgeransel is, was te veel, selfs vir hulle titaniumsterkte ontkenning.
Die Nieu-Seelanders het aangetree met ’n versterkte kolflys en ’n uitgedunde boulaanval. Die Suid-Afrikaners moes Jacques Kallis – wat ’n nek het – vervang en het twee spelers daarvoor nodig gehad: JP Duminy om Kallis se lopies te probeer kry en Marchant de Lange vir sy paaltjies. Maar twaalf is nie elf nie en Imran Tahir sal koeldrankies in dié toets aandra.
Dit was nie ’n dag sonder merkwaarde nie. Selde het ’n spankaptein sy moer so deeglik in die openbaar vir sy boulers gestroop. Ross Taylor het die loot gewen en besluit sy span sal eerste met veldwerk inval. Die normale besluit is om te kolf, en ’n span wat besluit om te boul, moet hulle afwyking van die gewone gestand doen met ’n vuisvol paaltjies vir min lopies. Die Swartkepsies het twee paaltjies ontvang – presente met groen-en-goue strikkies om, onverdiende vroeë Kersgeskenke. Taylor se naatboulers was só vrot dat hy binne die eerste uur vir wegbreker Daniel Vettori aangestel het om hulle te versterk.
’n Baldraaier wat in die eerste sessie van ’n toets op ’n tollose blad boul, is ’n aanklag teen die snelaanval. Meer nog, dis doodgewoon vernederend, maar Nieu-Seelander se boulers, Martin, Bracewell en Gillespie het die teregwysing verdien. Hulle was lusteloos en het verseg om by die wedstrydplan te bly. Hulle het nukkerig weerskante van die penne gebou en dit was asof hulle druk met water in ’n sifdraadhouer probeer opbou het. Daar was skaars ’n boulbeurt van geduldige, presiese, toegewyde boulwerk. Wanneer die kolwer verseg het om sy paaltjie agter los balle aan weg te gooi, het die boulers óf te kort, óf te wyd geboul en die Suid-Afrikaners het hulle daarin verlekker.
Die boulers het duidelik nog nie die boodskap verinnerlik nie en Taylor het homself naderhand só vererg dat hy die mees skadelose bouler in wêreldkrieket, die kolwer Dean Brownlie in hulle plek aangebring het om stadige, hoflike malvalekkers te boul.
Graeme Smith se paaltjie is weggegee in ’n spanpoging tussen hom en die TV-skeidsregter. Smith het wéér gewaai na ’n wye Bracewell-aflewering en is agter gevang. Hy het gemor daaroor en nadat die kykweerappél gewys het die kolf was nie in die onmiddellike omgewing van die bal nie, is hy onverklaarbaar tog deur Billy Doctorow uitgegee. Nou ja, Smith moenie te rumoerig daaroor raak nie. Daardie hou het niks beter verdien nie.
Alviro Petersen en Hashim Amla het moeiteloos gekolf vir ’n 90-lopie vennootskap. Amla, veral, het die bal met die grootste elegansie gedryf en gehaak. Hy het algeheel onkwesbaar gelyk totdat hy na teetyd net té rustig geraak het met ’n kortbal en dit in die lug opgehaak het vir ’n maklike vangskoot. Daar is weer gekyk omdat die skeidsregter onrustig was oor Gillespie se agtervoet en op die hele wêreld behalwe Billy Doctorow se televisieskerms was dit ’n duidelike foutbal. Amla is gevolglik uitgegee en, weereens, verdien hy dit vir sy mamparraskoot.
JP Duminy het ingetrippel gekom, fyntjies op sy tone soos ’n Malteser wat op sy agterpote bedel vir lekkernye, en het netjies en doeltreffend gekolf. Teen die tyd wat die wind genoeg wolke nader gewaai het vir die dag om vroeg te eindig, was die Proteas op 136 vir twee na 42 boulbeurte, met nog groot lopiepotensiaal in die kolwe van Petersen en Duminy en De Villiers, Rudolph, Boucher en die ondeunde boulers om te volg.
Nieu-Seeland se boulers het gewys dat hulle geen veglus oor het nie. Die vraag is of daar enige ruggraat in die Kiwi-kolflys, versterk soos dit mag wees, oor is. En hulle gaan baie gruis nodig hê, want hierdie keer het die Proteas opgehou rondpeuter met ’n baldraaier en die veglustige, gromhonger jong Marchant de Lange nader gehark. Daar sal vir die Swartkepse geen blaaskans wees nie, net een lang, onafgebroke haelstorm van snelgeweld.
Nou ja… hulle wil mos teen die grotes speel.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.