praag.co.za

Geen finale ooreenkoms oor Pretoria-naam nie, sê VF+

Written by

in

Die VF Plus het bevestig dat gesprekke oor die naam van Pretoria, asook sowat 27 straatname in Pretoria tans tussen die VF Plus en die ANC plaasvind, maar het gesê dat daar tans geen finale formele ooreenkoms tussen die VF Plus en die ANC rakende ‘n oplossing vir die naamkwessie bestaan nie.

Die ANC in die Tshwane-metroraad beoog al vir ‘n geruime tyd om al 27 straatname wat tans oorweeg word, te verander. Dit is daarom belangrik dat straatname met beduidende historiese waarde vir die Afrikanergemeenskap behou moet word. Dit sal ‘n groot oorwinning wees as die naam van Pretoria in die proses behoue kan bly.

Volgens dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid, is gesprekke oor die naamkwessie in ‘n baie vroee stadium en bestaan daar tans geen formele aanbod vanaf die ANC om Pretoria se naam te behou in ruil vir die verandering van 27 straatname nie.

“Die VF Plus verwelkom die moontlike behoud van die name van Paul Krugerstraat en Pretoriusstraat, maar die party kan nie instem tot die verwydering van talle ander straatname met beduidende historiese betekenis, soos Kerkstraat en Voortrekkerweg, nie. Die party dink egter ‘n politieke oplossing, wat beide die naam Pretoria asook straatname aanspreek, is moontlik”, het Beyers gesê.

Die VF Plus sal dit verwelkom indien die aansoek vir Pretoria se naamsverandering teruggetrek word. Die VF Plus sal egter nie instem tot enige proses waar die geskiedenis van een groep bloot met die geskiedenis van ‘n ander groep vervang word nie. Die VF Plus sal ook die hernoem van enige strate na “struggle”-figure wat ernstige aanstoot aan die Afrikanergemeenskap gee, teenstaan.

Die VF Plus sal nie instem tot enige ooreenkoms rakende die naam van Pretoria sonder dat behoorlike waarborge bestaan dat dit ‘n permanente reëling is nie.

Die VF Plus is bereid om wen-wen oplossings te oorweeg, maar indien daar nie op sodanige oplossings ooreengekom kan word nie, sal die VF Plus nie huiwer om huidige hofsake rakende Pretoria se naam, asook straatnaamveranderinge, te hervat nie.

topcargo

Comments

Leave a Reply