In die tweede toets, en veral in die tweede beurt, was die boulers niks minder as vreesaanjaend nie. Sit tog ’n oomblik opsy om in die skoene van die kolwer te staan. Die Suid-Afrikaanse boulaanval is ’n eksamen met baie modules en jy moet almal baasraak of jy slaag nie; pluk een vraag, pluk die hele vraestel.
Eers kom die snelaanval, maar afgevuur uit twee baie verskillende offensiewe wapens. Dale Steyn is vinnig en venynig, deurgaans op soek na die kleinste skuiwer in jou mondering vir hom om op toe te spits. As hy ’n straaltjie water sien loop uit die dyk van jou verdediging, gaan hy daaraan torring en grawe en woel totdat jou verdediging meegee. Hy is nie lank nie, so die aflewerings streep deur van die blad af, maar hy kan hulle ook soos ’n hark waarvan die tande raakgetrap is, uit die blad laat regop spring met die potensiaal om ernstige strukturele skade aan te rig. Dit is hierdie variasie wat maak dat ’n kolwer nie vir ’n enkele aflewering kan ontspan nie. Elke bal wat geboul word, stel ’n nuwe vraag, is ’n nuwe raaisel om te ontknoop.
Van die anderkant af is Vernon Philander die eksaminator. Alhoewel dié kougomkouende, loslittige Kleurling met sy effens mollige bolyf en swaar onderlyf allermins daarna lyk, is sy afdeling van die vraestel ’n deurlopende foltering vir die kolwer om te beantwoord. Die kolwer weet wat Philander gaan doen, dis net dat hy nie weet hoe om in reaksie op te tree nie. Die “Vern” gaan redelik vol net buite die wegpen boul, op ’n lyn wat die kolwer se kolf soos ’n alkoholis na ’n bottel trek. Dis nie dat jy daarna wíl speel nie, dis nie dat jy nie van beter weet nie, maar aflewering na ellendige aflewering swiep onheilspellend by die wegpen verby. Uiteindelik, onvermydelik, neem die instink oor en jy hou die kolf as ’n skans buite die wegpen, die bal tik teen die buiterand en die falanks Suid-Afrikaners agter jou rug maak sterspronge en jil soos Vandale op ’n Roomse troue.
Dit is juis die manier waarop die aanval van die twee kante af verskil wat van hierdie aanvangboulerspaar so ’n verterende kombinasie maak. Die kolwer moet baie vinnig een handleiding wegsit en heeltemal ’n ander een uithaal. Steyn intimideer; Philander mesmeriseer. Aan die einde van ’n Steyn-skof voel dit vir die kolwer of hy te lyf gegaan is, pimpel en pers is (en natuurlik, dikwels ís hy), asof hy rondgestoot en gekarnuffel is. Na ’n Philander-skof ly hy aan hallusinasies. Sou die kolwer hierdie uiteenlopende aanslae oorleef het, is dit nie die einde van sy ellende nie.
Nou verskyn daar ’n dun pilaar om balle uit die hoogte na benede te laat hael. Morné Morkel is nie net lank nie, hy het ook ’n hoë boulaksie, met die boulhand wat op maksimum hoogte bo seespieël is wanneer hy die bal laat loop. Die eenvoudige driehoeksmeting is dat die bal baie skerper van die blad af opspat van dieselfde lengte as wat die ander aanvallers boul. Weg met die vorige twee handleidings. Nou moet die kolwer wip en leun en koes en keer ter wille van suiwer fisiese oorlewing. ’n Kolwer moet die vlug van ’n bal akkuraat kan voorspel om suksesvol daarteen op te tree. ’n Bal wat van agt meter van die kolwer af na sy bolyf toe zoem, is baie moeilik om in die oë te kyk. Dit gaan teen alle oorlewingsinstinkte in om daar te bly staan en jou toevlug agter ’n paar sentimeters se kolflem te vind. Die kondisionering kom gou, en dit is net natuurlik dat die kolwer vóór die versending van die bal reeds sal besluit hoe, waar en hoe gou om te probeer ontvlug. As die bal nou heel verbluffend vol en net buite die wegpen is, is dit baie moeilik om van die agtervoet af vorentoe te trap vir ’n voorvoethou.
Wanneer dié soort boulwerk nou skielik afgewissel word met die katalogus van goëlaflewerings van Imran Tahir, of Jacques Kallis se knaende volballe wat met skielike, brutale kortballe uitgeruil word, is die kolwer voortdurend besig om deur die handleidings in sy kop te blaai.
Hierdie boulerarsenaal se bedreiging lê deesdae ook nie net in die verwoestingspotensiaal en variasie van die aflewerings nie, maar veral in die presiesheid waarmee dit volgens ’n onweerstaanbare plan geïmplementeer word. Die vingerafdrukke van Gary Kirsten en boulafrigter Allan Donald lê regoor hierdie strategiese benadering.
Dis te siene in, byvoorbeeld, die manier waarop Jacques Kallis die paaltjie van Daniel Vettori gepluk het. Twee balle op ’n goeie lengte is opgevolg met ’n kort bal wat na die sternum opgeskiet het en wat Vettori net-net kon wegkeer. Nog twee goeielengteballe om hom vorentoe te trek en toe moes Vettori skielik weer ’n kort bal beteuel, een van dieselfde lengte as die vorige een, maar ’n bal wat ’n goeie twintig sentimeter hoër deurgefluit het. Natuurlik het hy daarna gespeel en natuurlik kon hy dit nie skadeloos stel nie en is hy van die handskoene af agter uitgevang.
Philander, op sy beurt, het te werk gegaan aan die paaltjie van die hardnekkige Kruger van Wyk. Hy het vir hom vyf uitswaaiers geboul en, toe hy seker is dat die Kiwi-paaltjiewagter goed gekondisioneer is, het hy een ingeswaai. Van Wyk het die kolf hooggehou en sy beenskutte teruggetrek vir die bal om weereens skadeloos buite wegpen verby te suis, toe dié ellendige ding inswaai en ’n gemors van sy paaltjies maak.
Morkel het baie dieselfde met Bracewell gedoen. Die planne was besig om te werk. Ou langeraad het selfs ewe skielik die omswaaier ontdek, en as hy dít bestendiglik kan doen, gaan hy absoluut vreesaanjaend wees, ’n ellelange Wasim Akram.
Tog was dit nie net die boulers se individuele taktieke wat sukses gebring het nie, maar die manier hoe hulle saam ’n web van verwoesting gespan het. Dis asof Kallis, Steyn en Morkel – selfs Tahir – die kolwers een vir een vasgehou het vir Philander om kis te moker.
Suid-Afrika was op koers om die eerste toets te wen voor hulle deur die weer gekniehalter is, en het die tweede toets gemaklik in die sakkie toegerits – hoofsaaklik danksy die werk van die boulers. In albei toetse het die oorhand wat hulle uiteindelik gehad het, die kollig van die kolwers se onvoldoende bydrae weggekaats. In beide toetse is die kolfimpetus gestuit deur ineenstortings. In Dunedin was dit die ou krygsperd, Chris Martin, wat die mat onder die kolflys uitgereik het, en verlede week was dit die onbesonge Gillespie. Tog, al het die kolfmasjien nog nie in twee beurte in ’n ry op dreef kon kom nie, het hulle ook nog nie in opvolgende beurte misluk nie.
Eintlik lyk die kolflys allermins broos. Die kolwer met die swakste oes in die top-6 is Alviro Petersen. In Nieu-Seeland was sy opbrengs tot dusver 11, 25, 29 en 1 vir ’n gemiddeld van 16,25. Hy lyk allermins gemaklik voor die stokke, asof hy nie sy werk mooi verstaan nie. Hy swaai wanneer hy moes blok en gooi wal wanneer hy kon aanval. Dit kan wees dat hy vir sy toetsplek in die laaste toets kan speel. En tog is hy so ’n onverstoorbare, gesoute karakter dat ’n mens tog verwag dat hy skielik in rat sal klik en met ’n gerusstellende beurt vorendag sal kom.
Daar kan nie ’n ernstige vinger na sy openingsvennoot gewys word nie. Graeme Smith, hy met die krom tegniek, het lopies heel maklik gevind. Hy het in die vier beurte tot dusver op toets ingeweeg met 53, 113, 13 en 55* vir ’n gemiddeld van 78. Sy reputasie as die beste vierdebeurtkolwer in die wêreld is weereens verstewig.
Op nommer drie het Hashim Amla nie gefaal nie, maar ook nog nie regtig die opposisie behoorlik bygekom nie. Met ’n hoogste telling van 62 en ’n gemiddeld van 42 op die toer, het hy sy kant gebring. Nou wag ons vir die groot beurt van hom.
Jacques Kallis mors blykbaar nie tyd met middelmatige beurte nie. Onlangs gaan hy groot of gaan hy uit. In sy drie beurte het hy 0, 113 en 6 gekry vir ’n gemiddeld wat raak-raak aan 40.
Ten spyte van ’n dramatiese eendeier met die eerste bal wat hy op toer getrotseer het, en ’n daaropvolgende 29 waarmee hy sy paaltjie in die saak van die span se gejaag na vinnige lopies opgeoffer het, was AB de Villiers ’n bestendigende teenwoordigheid op nommer vyf. In die tweede toets het hy die Proteas se eerstebeurtpoging met ’n bedrewe 83 lopies gestabiliseer, die waardevolste kolfbydrae van die wedstryd.
Selfs op nommer ses lyk dit of sake agtermekaar is. Jacques Rudolph het in drie beurte 52, 105* en 1 gekry wat vir hom ’n gemiddeld van 79 gee.
Alles in ag genome is hierdie nie ’n kolwerafdeling in krisis nie. Die probleem is nie dat hulle nog nie almal gelyktydig gevuur het nie, maar dat te veel van hulle op twee geleenthede vasgeval het. Daar is ander bemoedigende aspekte aan die gesamentlike vertonings tot dusver. Mark Boucher het sy yster bo-aan die stertkant herontdek en die boulers het met mening daarop gereageer en veelseggende lopies gemaak. In die eerste beurt van die tweede toets het die laaste drie paaltjies, hoofsaaklik sonder die begeleiding van ’n erkende kolwer, 102 lopies opgelewer en dit is juis die soort opbrengs wat ’n opponerende span se gees kan knak.
Daar is niks ernstig fout met die Proteas se kolwerslys nie. Die enigste aanpassing sal kom as Petersen nie sy slag kan herwin nie. In dié geval is dit denkbaar dat hy die pienkbriefie kan kry en dat van Amla af die hele kolwerslys een posisie sou opskuif om vir JP Duminy plek op nommer ses te maak. Dit is ’n spilpuntposisie in enige kolfaanslag, maar Duminy het die tegniek en temperament om lopies op nommer ses te jaag of, indien nodig, om die glans van die nuwe bal af te slaan.
Die finale toets begin oor ’n paar dae en die Nieu-Seelanders weet nou hoe dit voel om in die visier van waarskynlik die beste boulaanval ter wêreld te wees. In alle waarskynlikheid gaan hulle ook ’n Suid-Afrikaanse kolwergeweld raakloop soos selde tevore.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.