Frankryk, wat die grootste Joodse bevolking van ‘n halfmiljoen in Wes-Europa huisves, is geruk deur die moorde by ‘n Joodse skool in Toulouse.
Toulouse, die “pienk stad” vanweë sy rooskleurige baksteengeboue, huisves ook die grootste studentebevolking in Frankryk buite Parys. Dis ‘n kosmopolitiese stad in die suide van die land wat ‘n groot Mosleminstroming beleef vanuit Noord-Afrika.
Daar woon tussen 10 000 en 15 000 Jode in die stad van ongeveer 440 000 siele. Omdat die bevolking jonk is, is hulle ook dikwels linksgesind en anti-Israel.
Die korrespondent van France24, Chris Bockman, sê bronne by justisie meen die skote is van dieselfde wapen gevuur as wat in die moorde van soldate pas terug uit Afghanistan, net ‘n week gelede, gebruik is. Die motorfiets is ook glo dieselfde een. Soldate in Frankryk word tans verbied om hul uniforms buite hul basisse te dra.
Bockman sê ook die aanval was ‘n rasgedrewe aanval op minderhede in ‘n hoofsaaklik wit land. Die ondersoek is reeds by die polisie oorgeneem deur die regering se anti-terreurspesialistespan.
Een van die ooggetuies sê die skieter het nie doelloos na die kinders geskiet nie, maar sy wapen sekuur gerig en hulle een vir een, om die beurt, ‘n kopskoot gegee.
Israel verkeer in skok en het die moorde veroordeel as anti-Semitiese haatmisdade. ‘n Lid van die Knesset, Yakov Katz het Jode in Frankryk aangemoedig om die land dadelik te verlaat en gesê Sarkozy en Obama kan nie Jode se veiligheid waarborg nie. Hy het bygevoeg dat net Israel ‘n toevlug kan wees.
Die rabbi wat in die aanval dood is, Jonathan Sandler (30), was ironies genoeg ‘n Israeli wat in Frankryk skoolgegee het.
Die aanval het, hartseer genoeg, Sarkozy se kanse om herverkies te word ‘n hupstoot gegee. Hy stoei tans met Marine Le Pen van die Nasionale Front, die regse anti-immgrasieparty, wat stemme van sy UMP afrokkel.
Dit sal ook Frans-Duitse eenheid bestendig wat onder kwaai spanning verkeer nadat die Sosialistiese kandidaat Francois Hollande gedreig het om die EU-hulppakket die rug te keer.
Merkel weier steeds om Hollande, wat vóór die skietery die gunsteling was om die Franse verkiesing in April te wen, te ontmoet. Elio de Rupo, die Belgiese premier, is een van Hollande se ondersteuners.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.