praag.co.za

Die naweek se Superrugby: wie die bal nie bemin

Written by

in

Die Cheetahs, die Leeus en die Bulle het die naweek verloor waar hulle net sowel kon gewen het, en daar is ’n sorgwekkende tema in die manier waarop al drie spanne hulle rug op oorwinnings gedraai het. Hierdie spanne het nagelaat om die kosbaarste voorwerp op die veld – die bal – op te pas. Balbesit kan nie gekoop word nie, en as jy dit nie koester nie, sal jy verneder word.

In die eerste wedstryd het die Cheetahs in Canberra aangetree vir ’n wedstryd teen die ontluikende Brumbies onder Jake White. As daar een span is wat al daarvan ’n kuns gemaak het om ’n nederlaag uit ’n waarskynlike oorwinning te munt, is dit die Bloemfonteinse spul. Sedert hulle egskeiding uit die ongure Cats-verbintenis met die Leeus, het hulle nog nie noemenswaardige sukses op oorsese uitstappies gehad nie. Hierdie week het hulle na ’n vertrapping deur die Bulle en ’n lang vlug van die Groot Silwer Voël afgestap in ’n Australië wat gebaai is in vloede so groot soos Frankryk. Dit het enige ordentlike oefening verydel. Dus het niemand op ’n Cheetah-oorwinning gereken nie. Maar, soos ons al gesê het, as jy hulle net liefhet en niks van hulle verwag nie, sal die Kolletjieskatte jou verras. As ’n wedstryd stiptelik na 80 minute se spel geëindig het, sou hulle hierdie een gewen het. Maar ’n wedstryd is 80 minute plus die tydjie wat dit vir die spel vat om dood te loop. En dit was die verskil…

Die Cheetahs het verfrissend van afskopfluitjie af Cheetahs-rugby gespeel: Met die bal in gapings. Die vaste vyf het hulle man gestaan en Coenie Oosthuyzen, uiteindelik weer terug, het nog ’n paar versies in die eerste bedryf van ’n groot rugbyloopbaan geskryf. Hierdie is ’n man wat sy 125 kilogram binne 12 sekondes oor honderd meter kan skuif. Hy kom soos ’n kanonskoot van die merk af en tref die vlees-en-bloed voor hom met ’n magtige knal. Daar kan nie van hom verwag word om verfynde balbeheertegniek te hê nie – maar dit hét hy nietemin. Dit was sy delikate, goedbeplande aangee van ’n lynstaan af wat Willie le Roux, Cheetah linkervleuel, volspoed in ’n gaping gevind het. En hier is opwinding, die manier waarop Le Roux hardloop, swenk, die ruimte vind. Hy het die hele Brumbie-agterlyn verfonkfaai vir ’n drie onder die pale.

Die Brumbies se Henry Speight het self gapings gevind waar daar nie enige moes gewees het nie en vir die Wildeponies gaan druk. Strafskoppe het die res van die eerstehelftepunte opgemaak en die Cheetahs was onverwags 13-10 voor met halftyd.

’n Groot rede vir hulle voorsprong was die herontwaking van Heinrich Brüssow. In die Cheetahs se openingswedstryde was hy ’n grootliks ’n leë nommer-6 trui, bereid om met die bal te storm en om sy deel op die verdediging te doen, maar verbasend sku om die bal van die grond en in losgemale weg te stroop – juis dit wat van hom een van die skrikwekkendste oopkantflanke in die spel gemaak het. In hierdie wedstryd het hy sy slag herontdek en ’n indrukwekkende aantal Brumbie-aanvalle gesnuit met balle wat hy eenvoudig op beslag gelê het.

Die gevolg was dat die Cheetahs lekker vinnige afrokkelbesit gekry het wat hulle kon gebruik om uit verdediging oor te skakel na aanval voordat die Brumbies hulle aanvalformasies as verdedigingslinies kon herontplooi. In een so ’n teenaanval, vroeg in die tweede helfte, het Tewis de Bruyn vernuftig deurgewals vir ’n drie. Met nog ’n Goosen-strafskop was die Cheetahs onverwags 23-10 voor.

Vir die oorblywende 38 minute sou hulle nie weer ’n punt aanteken nie. O, hulle het soos die Voortrekkers van Vegkop verdedig, maar hulle het gesondig en hulle sonde was dat hulle stief was met die bal. Telkens wanneer hulle wel die bal in besit geneem het – meermale deur Brüssow se rampokkery – het los aangeë, paphandige grepe of onbesonne skoppe die bal van hulle vervreem. Daarmee het Pat McCabe ’n drie gaan druk, wat nie vervyf is nie, en losskakel Christiano Lealiifano het voor die sirene nóg twee strafskoppe bygevoeg om die Brumbies met 21-23 binne trefafstand te bring. In die bepalende laaste minute, in daardie ou bekende tydperk waar een span met fase na fase aanval en die ander verdedig, het die Cheetahs telkens die sakkie met die wedstryd in toegerits, net om die bal onverklaarbaar weer af te staan. Wat nodig was, was vir die voorspelers om die bal onder die arm te hou, ’n tree te dryf, te gronde te gaan, die bal optel, weer dryf… Wat hulle gedoen het, was om die afgerokkelde bal weg te slinger wat die aanvallende Brumbies die kans gegee het om tussen die Cheetahs in te beweeg om die besit te belemmer.

Net voor die sirene het die Cheetahs in die middel van die veld aangeslaan en in die daaropvolgende skrum is hulle ietwat raaiselagtig gestraf. Nadat die sirene reeds weemoedig geloei het, het Lealiifano die noodlottige drie punte raakgeskiet om die Cheetahs net nog een van ’n lang reeks naelskraapse nederlae toe te dien.

Nederlaag nieteenstaande, as die Cheetahs kan opmaak met die bal en dit die sorg en beskerming gee wat dit verdien, gaan hulle nog ’n groot Super Rugby-reeks hê.

Die volgende episode in die dag se Suid-Afrikaanse Super Rugby-sage was die interprovinsiale wedywering tussen die Leeus en die Haaie in Durban. Die Leeus het nie gewen nie want hulle was nooit veronderstel om te wen nie – maar hulle kon,,, as hulle net meer geheg was aan die bal. Hierdie was ’n woes uitgedunde Johannesburgse span. Hulle het drie stutte, ’n slot, en redelik noodlottig, hulle losskakel Elton Jantjes voor die wedstryd op die beseringslys ingeskryf. Nie lank in die wedstryd in nie, moes die gedugte Alwyn Hollenbach ook bes gee met ’n dyspierknyp. Die onbekroonde jong Andries Coetzee was nou op die nommer-10 spilposisie.

Die Haaie daarenteen het ’n speler-en-’n –half herwin met Willem Alberts wat gerehabiliteer is. Hierdie is ’n turbo-aangedrewe herinterpretasie van ’n ander verloopte Transvaler, Wahl Bartmann. Sy verwoestende dryfwerk, brutale lopies en genadelose lakwerk verdoesel baie gebreke in die Haaie-voorpak. Boonop het ’n ander grysbeer, Bismarck du Plessis, uit sy winterslaap ontwaak.

Uit hierdie bestanddele is ’n voortreflike, aksievolle wedstryd opgekook. Beide spanne het met venyn aangeval, veral die Haaie en beide spanne het hardnekkig verdedig, veral die Leeus. Die Goudstedelinge het ’n oeroue nuwe benadering as primêre verdedigingswapen gebruik: Hulle het die bene van die Haaie aangeval. Telkens het groot voorspelers soos hoë bome geval, hulle bene eenvoudig onder hulle uitgesekel.

Teen die 29ste minuut was die telling ’n swaarverdiende drie punte elk, voordat die Leeus se slordigheid hulle gepootjie het. Dit was reeds duidelik dat die Haaie nie die tande gehad het om uit eerste fases se besit drieë aan te teken nie. Al was Bismarck du Plessis titanies in die stryd om die losbal, het die Leeus soveel geroof as wat hulle afgestaan het. Maar die een afdeling waarin hulle onwaardig was, was met taktiese skopwerk. Dit was ’n terugskop van Jaco Taute uit die kwartgebied wat omgespring het om die Leeus in die wind te skop. Die skadelose skop het Riaan Viljoen gevind en hy het dit langs ’n hoë parabool terug gestuur. Die Leeus het die bal stief behandel, dit ongeërg teruggeklap net betyds vir die aanstormende Viljoen se aankoms. Skielik was hy en die bal alleen en die doellyn ’n paar treë verder. Hy het bymekaar gemaak en gedruk.

Butch James het die skade met ’n strafskop beperk maar toe, net voor die halftydsein, het die Leeus se ingewikkelde verhouding met die bal nóg ’n wending geneem. Reg op hulle doellyn het hulle die bal in hulle lynstaan laat ronddobber, Bismarck het beslag gelê daarop en dit is deur die hande langs die agterlyn aangewip vir Lwazi Mvovo om in die hoek te druk. Patrick Lambie het die bal deur die pale geryg vir ’n 17-6 halftydtelling.

Die eerste deel van die tweede helfte het baie van die patrone voortgesit met die Haaie wat voor- en agterlangs hard aangeval het en metodies by die bene afgesny is deur iesegrimmige lakwerk. Lambie het uiteindelik nog ’n strafskop behaal vir ’n 14-punte voorsprong, maar die Haaie kon net nie die wedstryd bêre nie. Dit was nou die Haaie se voorspelers se beurt om die bal weg te wys. Die nuwe Leeus-skakel Andries Coetzee het die lyn reguit getrek en die beweging het op ’n kortafstandaanval deur die sterk Taute tot ’n drie gelei.

Na al die Leeus se terugslae en dramas was hulle binne 7 punte van die Haaie, en hulle sou werklike druk kon toepas as hulle nie weereens iewers op die aanval kontak met die bal verloor het nie. Die Haaie se JP Pietersen het in die geharwar homself in groot leegtes bevind en hoewel hy ingejaag en neergevel is, het hy vir Meyer Bosman gevind vir die Haaie se derde drie.

Die Leeus van vanmelewe sou net daar die onvermydelike aanvaar het, maar nie hierdie weergawe nie. Hulle het dadelik ’n teenoffensief georganiseer en Ruan Dreyer, die plaasvervangerstut, het gaan druk om die Leeus weereens binne trefafstand te bring.

Die genadeskoot was ’n rolmaal deur die Haaie met die gesoute Jacques Botes in sy gebruiklike skippersposisie aan die agterkant daarvan. ’n Uitgeputte Leeu-voorpak kon oplaas nie meer genoeg kilogramme voorgegooi kry nie en Botes het sy kenmerkende drie gedruk.

Die eindtelling was 24-10.

Beide hierdie spanne het die materiaal, die spelplanne en die gees om tot diep in hierdie kompetisie te vorder.

En dit sal ’n mooi ding wees.

Die laaste beweging van hierdie naweek se voetbalconcerto was die skermutseling tussen die Bulle en die Blues op Loftus. Dit is ’n kenmerk van ’n kampioenspan dat hulle steeds wen al speel hulle nie goed nie. Die Bulle van Matfield in die pasafgelope era het dit gereeld gedoen. Dit is ook tekenend van ’n kampioenspan dat as hulle vroeg agterloop in ’n wedstryd, hulle ’n manier sal vind om deur te druk. Die Bulle is dus nie die kampioenspan wat hulle eers was en in alle waarskynlikheid weer sal word nie. ’n Blaps vroeg in die wedstryd het hulle ontsenu, hulle wedstrydbestuur het hulle versaak en hulle het onnodig ’n wedstryd verbeur.

In ooreenstemming met ons tema, was dit juis hulle ongeërgdheid met die bal wat tot hulle val gelei het. Skaars ’n minuut in die wedstryd het die Bulle, teen hulle beproefde krygsplan in, ’n vlak agterlynaanval geloods. Die bal het van binnesenter Francois Venter se skouer weerkaats in plaas van om sy hande te vind en die Blues se jong losskakel Gareth Anscombe was skielik, bal en al, agter vyandelike linies met net ’n wye, onbewaakte doellyn voor hom. Hy het sy eie drie verdoel. Dit was net die begin van ’n droomdebuut vir hom.

Die Bulle kon van daar af nie hulle wedstrydplan bestendig afdwing nie. Bulle-voetbal is gebaseer op territoriale oorheersing. Die skoppers druk die teenstander in sy eie gebied was en die Bulle se voorspelers wurg hom daar tot flaters waaruit drieë of strafskoppe gemunt kan word. Gisteraand het die Bulle se voormasjien net nooit op dreef gekom nie. Hulle is gekonfronteer deur ’n hardebaard-Nieu-Seelandse agttal wat hierdie aand nie maklik grondgebied afgestaan het nie.

Dié uitrafeling van die plan het deurgesyfer na Morné Steyn wat vier skoppe fataal van koers af geloods het. Die Bulle was heeltemal uit sinchronisasie en van die dodelik effektiewe wisselwerking tussen voor en agter is min gesien. Tog het hulle met een aanval genoeg ruimte vir Bjorn Basson op die vleuel oopgevlek vir ’n drie. Die Blues het ’n lang teenoffensief van vlak buite hulle kwartgebied in reaksie van stapel gestuur en uiteindelik was dit dieselfde jong Anscombe wat met die bal oor die doellyn is. Met dit en die daaropvolgende verdoeling, het hy al 29 die Blues se punte aangeteken. Miskien is daar tog lig in die All Blacks se na-Carter duisternis, hoewel dit heeltemal te vroeg is om seker te wees.

’n Bulle-span uit fase is een wat baie oortree en die strafskoptelling het hulle ritme net nog meer versteur. Hulle was meestal onmagtig om die bal in besit te hou en het selde dreigend aangeval.

Die wedstryd se doodsroggels was reeds hoorbaar toe Basson weer in besit gestel is vir sy tweede drie en ’n bonuspunt vir die Bulle.

Hierdie is ’n lang kompetisie en alle spanne moet begroot vir swak wedstryde. Die Bulle moet hoop hierdie was hulle s’n .

topcargo отзывы сотрудников

Comments

Leave a Reply