In ’n beduidende mosie wat die afgelope week by die Europese parlement in Straatsburg ingedien is, spreek 48 Europese parlementslede hulle uit teen die “sistematiese aard” van die aanvalle op wit boere in Suid-Afrika en vra die Suid-Afrikaanse regering om dringend maatreëls in te stel om hul veiligheid te verhoog.
Die mosie is ingedien deur mnr. Louis Michel, ’n lid van die liberale Belgiese party die Mouvement Réformateur. Die 48 ondertekenaars (uit ’n totaal van 754 parlementslede) verteenwoordig sewe politieke faksies wat van links na regs strek: sosialiste, liberale, christendemokrate, nie-ingeskrewes, eurokritici en selfs ’n lid van die kommunistiese groepering.
Op Facebook is ’n globale versetgroep, wat hom die “South Africa Project” noem, ook besig om betogings ter ondersteuning van Afrikaners voor Suid-Afrikaanse ambassades en in hoofstede van Amerikaanse deelstate te organiseer.
Trouens, ondersteuners van die Suid-Afrika-projek het reeds in Sacramento, Kalifornië, met lede van die versetbeweging Occupy gebots sodat die polisie moes ingryp om orde te handhaaf. Agterna het die voorval nasionale koerante en TV-nuusbulletins in die VSA gehaal.
Wat is hier aan die gebeur? Kan ons praat van ’n omgekeerde anti-apartheidsbeweging, wat skielik die wittes en Afrikaner-minderheid in ons land ondersteun en skerp kritiek teen die ANC uitspreek?
In hierdie kringe word terme soos “Afrikaner-volksmoord” of “Boer Genocide” met dieselfde soort onverbiddelikheid gebruik as wat die gewraakte woord “apartheid” tydens die 80’s in die wêreldmedia uitbasuin is. Indien daar ’n episentrum of episentra vir dié nuwe globale simpatie met Afrikaners bestaan, is dit in die VSA en in die Lae Lande geleë. Vlaamse en Nederlandse parlementslede neem dikwels die voortou in die Europese parlement te Straatsburg, Frankryk, of in hul eie parlemente in Brussel of Den Haag om plaasmoorde en taaldiskriminasie teen Afrikaans aan die groot klok te hang.
Die Suid-Afrikaanse staatsman en wysgeer Jan Smuts, eens ’n Boeregeneraal en toe ’n dienaar van die Britse Ryk, het op ’n keer gesê “die toekoms van Suid-Afrika sal altyd buite haar grense bepaal word”.
Daarmee het hy op siniese, dog realistiese wyse sowel ons koloniale status as ons strategiese swakheid beklemtoon. Dit was die geval in 1902, maar ook in 1992 toe die Nasionale Party onder internasionale druk geswig en holderstebolder alle mag aan die buitelandse gunsteling, die ANC, oorhandig het.
Die magsoorname van die ANC is nie soseer binnelands nie, maar buitelands voorberei. Só het die Sweedse ambassadeur op 27 April 2004 in RSG se Monitor-program gesê: “Sonder Sweedse steun sou die ANC nooit aan die bewind gekom het nie.”
Hierdie merkwaardige erkenning deur ’n diplomaat uit Stockholm het die Smuts-beginsel in die Suid-Afrikaanse politiek beklemtoon.
Tydens sy eeufeestoespraak op 8 Januarie in Bloemfontein het pres. Jacob Zuma die oorwinning van die ANC as ’n militêre triomf deur Umkhonto we Sizwe voorgehou. Net so het die PW Botha-regering miljarde rande in die ontwikkeling van die Ratel-pantservoertuig, asook die Rooivalk-aanvalshelikopter, gestort, maar nooit werklik die potensiaal van sy militêre slaankrag teen die ANC benut nie.
Die konflik was uiteindelik ’n woordeoorlog wat in die internasionale media besleg is. Die woord “apartheid” was die wapen vir massavernietiging wat die ou orde gekelder het; nie die Kerkstraat-bom van 20 Mei 1983 nie.
Die ANC en sy bondgenote, daarenteen, gloei nog van voldoening oor sy propaganda-oorwinning in die vroeë-90’s en gaan binnekort dalk die Grondwet herskryf dat dit hom nóg beter pas.
In dié stadium steur hy hom nie aan die internasionale protes teen plaasmoorde en taaldiskriminasie nie. Dit word as die werk van regse randeiergroepe afgelag. Soos die onthutste, linkse Occupy-betogers egter in Sacramento geskreeu het: “Die f***** varke (polisie) beskerm die Nazi’s!”
Dít verwysende na die pro-Afrikaanse beswaarmakers wat heel ordelik die linkse hoon getrotseer het.
Met die opkoms van linksgesindes in die 1960’s en die Amerikaanse burgerregtebeweging van Martin Luther King kon die ANC op internasionale steun reken. Kan Afrikaners dalk die begunstigdes van ’n opkomende, konserwatiewe beweging in die Weste, asook van Oos-Europese nasionaliste, word?
Soos mnr. Martin Bosma, die besoekende Nederlandse parlementslid en lid van die regse Partij voor de Vrijheid, ’n week of twee gelede in Pretoria opgemerk het: “Julle Afrikaners is die eerste Westerse volk wat weens demografiese oorheersing besig is om uit te sterf. Julle is die kanarie in die steenkoolmyn wat die hele Weste behoort te waarsku.”
Soos in die dae van Paul Kruger is die lot van Afrika se “wit stam” weer besig om die wêreld se verbeelding aan te gryp.
Die Boere as nuwe underdog teen die magtige Nguni-empaaier? Die volgende hoofstuk in ons wye en droewe land se geskiedenis wag om geskryf te word.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.