praag.co.za

Proteas – op die nippertjie van grootsheid?

Written by

in

Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika nie die wêreld in ten minste twee sportsoorte – voetbal en krieket – oorheers nie. Die Springbokke het darem twee wêreldbekers gewen en die naasbelangrikste toernooi, die Drie Nasies, drie keer. Die Proteas – ou nuus hierdie – het nog nooit ’n  uitklopwedstryd in hulle wêreldbekertoernooie gewen nie. Tog, vir lang tye tussenin, was hulle die toonaangewende span in die wêreld. Nie dat dit so ophemelwaardig is nie. Die werklike stand van ’n  land se krieketmag word in toetskrieket bepaal. Tans rus hierdie wêreldkroon ongemaklik, asof dit nie gemeet is vir die verskillende hoofde waarop dit onlangs geplaas is nie. Maar een span lyk asof die kroon langer, fermer en regmatig op hulle kan pas – die Proteas.

Suid-Afrika het in 2008/9 verskyn as die gepaste troonopvolgers toe hulle die verslete ou heersers uit die stoel gestoot het. Die Australiese span het ’n ware dinastie van die dae van Allan Border tot met die herfstyd van Ricky Ponting se bewind daargestel. ’n  Goeie span het onder Border se voogskap tot ’n  gedugte uitdager gevorder. Onder Mark Taylor het hulle hulle plek tot in die troonkamer oopgeveg. Die onbuigsame, verbete Steve Waugh het van hulle ’n  allesverpletterende masjien gemaak en hulle het met Ponting in die voorste hoede ’n  lang, rokende strook verwoesting deur wêreldkrieket agter hulle gelaat.

Die Proteas het in hierdie baie lang epog soms manhaftig teen die Ausies gespeel, maar het telkens iewers in hulle mondering ’n  fatale swakplek gehad en is gereeld genadeloos afgeransel. Die beste wat legendes soos Hansie Cronjé, Allan Donald, Darryl Cullinan en Gary Kirsten ooit teen hulle sou vaar was om reekse te deel. Ander, soos Kallis, Shaun Pollock en Mark Boucher moes oor en oor oorweldigende reeksnederlae sluk. Hulle kon net nooit suksesvol teen hierdie vloede swem nie. Eers in 2008 het die gety gedraai.

Die Australiërs het ’n  skielike uittog van legendariese ringkoppe beleef. Geen land het die reserwes om die leemtes gelaat deur Justin Langer, Matthew Hayden, Adam Gilchrist, Glenn McGrath, Shane Warne en ander toe te stop nie. In hierdie selfde tyd het Suid-Afrika se gekonsentreerde talent versolied onder die tegniese oog van Mickey Arthur. Die kolwers het geset in hulle posisies en die boulaanval het jong, nuwe en baie skerp angels bekom. In ’n toetsreeks van die hewigste opwinding en spanning, het Suid-Afrika vir die eerste keer ’n  toetsreeks in Australië gewen.

Die koms van ’n  nuwe jong wêreldleier is besing, maar in een van daardie onverklaarbare struikelinge het Suid-Afrika versuim om hulle posisie teen Australië te bevestig toe die Proteas in die omgekeerde toer met 2-1 in Suid-Afrika verloor het. Daarna het Suid-Afrika nog ’n  paar geleenthede gehad om hulle kleimpenne finaal in te kap met goeie vertonings oorsee. En tog het die raaiselagtige vormverval tuis hulle telkens gekniehalter. Hulle het Engeland, Indië en Australië goed onder beheer gehad maar het elke keer die reeks onverklaarbaar gedeel. Hierdie drie spanne het veral van Kingsmead op Durban ’n  doodsakker van Suid-Afrikaanse krieketambisies gemaak. Die onlangse reeks teen Sri Lanka bygetel, het die Proteas nou hulle laaste vier wedstryde in Durban verloor.

Die kroon waarmee die Proteas so gewiggel het, is uiteindelik deur Indië opgeraap, maar hulle moes dit aan Engeland oorgee omdat hulle blykbaar geen ideale het om buite hulle geliefde sub-kontinent te wen nie. Engeland, na ’n  oortuigende Asse-veldtog in Australië en ’n  verrinnewering van Indië het kortstondiglik na die regmatige kroondraers gelyk, en toe gaan val hulle 0-3 in ’n  toetsreeks teen die onbesonge Pakistan vas. Dit het die valhek oor die grag vir Suid-Afrika geplaas om weer die kroon terug te neem, iets wat sou gebeur het as hulle die huidige toetsreeks teen Nieu-Seeland 3-0 sou wen. Dis nou, nadat die weer tot die Kiwi’s se verligting die laaste dag se spel verspoel het, nie meer moontlik nie. Die Proteas se volgende geleentheid kom ’n  bietjie later in die seisoen met ’n  toer na Engeland. Daar is baie redes vir die Proteas om optimisties te voel oor dié toer.

Die span is man-vir-man beslis opgewasse teen die Engelse. Die Rooinekke het ’n indrukwekkende top- en middelordekolflys, met Strauss, Cook, Trott, Bell en Pietersen almal gevaarlike bydraers. Maar Suid-Afrika het vir Graeme Smith, Alviro  Petersen, Hashim Amla, Jacques Kallis en AB de Villiers wat selfs dodeliker is. Die Engelse aanval is ’n  venynige een, maar meeste kolwers ter wêreld sal hulle liewers as Dale Steyn, Morné Morkel, Vernon Philander en die nuwe slinger, Marchant de Lange sien instorm. Die één angel wat die Engelse het wat skerper is as enige iets in die Suid-Afrikaanse arsenaal, is hulle draaibouler, Graham Swann. Tog is hy nie ’n  natuurmag soos wat Warne vir Australië of Muralitharan vir Sri Lanka was nie.

Die een speler wat meer as enige ander die sleutel is in hierdie geskil, is waarskynlik Graeme Smith. Ek is seker die enigste persoon in Suid-Afrika wat sy saak nog bepleit, maar hy is dit werd. Van sy vroegste toetsdae af het hy ’n  voorliefde vir Engelse omstandighede. Hy reserveer sy vernietigendste vorm vir hulle. In sy eerste uithuisige toer as kaptein, het hy in opeenvolgende wedstryde dubbelhonderttalle teen hulle geslaan en sy persoon so aggressief op hulle afgedruk dat hulle gespartel het vir oorlewing. In Suid-Afrika se laaste toer, het hy die eerste postisolasie kaptein van ’n  seëvierende span in Engeland geword. En hy was g’n  passasier. In die beklinkende toets op Edgbaston het hy korte mette van ’n  aansienlike telling gemaak toe hy 154 lopies nie uit nie geslaan het in Suid-Afrika se suksesvolle agtervolging van ’n  wentelling. Dit word as een van die allerbeste vierdebeurtkolfvertonings gereken. Sy blote teenwoordigheid intimideer die Engelse, en as sy kolf enigsins in volle swang gaan wees, sal dit baie bydra tot ’n Suid-Afrikaanse reeksoorwinning.

Daar is wel ’n  anderkant aan die Smith-faktor. Hy bly een van die mees bruuske en oordonderende oopmaakkolwers in wêreldkrieket, ja, maar dit is my mening dat Suid-Afrika ’n vernuwing makeer in die kapteinstoel. Smith was ten beste ’n kaptein wat vooruit gegaan het vir ander om te volg. Daar was soms verblindende hoogtepunte van suiwer kreatiwiteit – soos toe hy vir Ricky Ponting om elke draai uitoorlê het in dáárdie reeks in Australië in 2008. En tog was hy nog nooit ’n  kaptein wat deurgaans skeppend te werk gaan nie. Die gevoel is soms dat hy ’n  handleiding het wat hy volg, selfs as daar ’n  oorverdowende geroep om instinktiewe maneuvers op die veld is. Die enigste rede om hom as uitvoerder van sy eie planne op die veld te hou, sou wees indien daar nie ’n  ware vervangingskandidaat in die geledere was nie. Nou is daar. AB de Villiers het as eendagkaptein homself reeds as iemand met ’n  besondere aanvoeling vir die subtiele wendings, slaggate en geleenthede op die veld onderskei. Hy het ook bewys dat hy een van daardie rare krieketwesens is wie se spel in dieselfde juk as kapteinskap floreer.

Dié Suid-Afrikaanse span is lankal nie meer die onbuigsame samestelling wat die Proteas onder, sê, Hansie Cronjé was nie. Dit is ’n  span wat gemaklik vorm kan smee na gelang van die ontvouing van ’n  wedstryd. Die kolwers, van 1-6, kan ewe gemaklik die beurt anker as lostrek om ’n  weifelende aanval te verrinnewoes. Die boulers is almal veelsydig genoeg om lopievloei toe te draai of om bresse te slaan in ’n  kolflys.

Suid-Afrika sál een of ander tyd weer Nommer Een in die krieketheelal wees. Dit kom ’n  goeie span toe. Maar as ons regtig groot wil droom, dan is dit van ’n  span wat, soos die Australiese bende van weleer, teenstanders nie net verslaan nie, maar vernietig, wat vir lang tydperke aaneen eenvoudig sal verleer om te verloor. Kan dit wees? Ja, met al die spelers in ons kraal, ja, dit kan gedoen word. Dit alles begin teen Engeland in Engeland.

Net solank hulle nie vergeet om eers die Nieu-Seelanders in Nieu-Seeland in die stof te loop nie.

лобановский депутат

Comments

Leave a Reply