DA wil Mandela-standbeeld in Kaapstad oprig

‘n Standbeeld van oudpres. Nelson Mandela kan dalk opgerig word voor die stadsaal in Kaapstad, waar hy ná sy vrylating sy eerste toespraak gelewer het, berig die Cape Times.

Leonore van der Walt, DA-raadslid, het Woensdag op ‘n raadsvergadering voorgestel dat ‘n komitee aangestel word om die om die proses en befondsing te bespreek.

Andre Fourie, ‘n VF-raadslid, het gewaarsku dat behoorlike konsultasie moet plaasvind om ‘n debakel soos dié van die vryheid van die stad-toekenning wat aan die Obamas toegeken word, te verhoed. Die aankondiging van dié toekenning het kritiek uit alle oorde ontlok.

“Dit moenie gebeur met ‘n persoon met die statuur van Mandela nie.”

Tony Ehrenreich, ANC-leier in die stadsraad, het gevra vir ‘n “koherente nasionale beleid” om Mandela te vereer, anders sal die standbeeld in Kaapstad ‘n “DA-foefie” wees.

Die proses sal volgens die berig sowat R1 miljoen kos.

Motlanthe vergader met myn-rolspelers

Adjunkpresident Kgalema Motlanthe vergader vandag in Pretoria met belangrike rolspelers in die mynbedryf.

Die Presidensie sê die vergadering is deel van die pogings om die bedryf te stabiliseer en ‘n volhoubare oplossing vir die probleme te kry.

Die National Union of Mineworkers, die vakbond AMCU, Solidariteit, NACTU, Cosatu, die Kamer van Mynwese en die Suid-Afrikaanse Mynontwikkelingsvereniging sal dit na verwagting bywoon.

Die spanning tussen die NUM en AMCU in die platinumsektor het vererger, wat gelei het tot geweld en stakings. AMCU het intussen ‘n beplande staking by Lonmin se platinummyne in Noordwes uitgestel.

Die vakbond sê die besluit hang af van ‘n positiewe uitslag van die vergadering met Motlanthe.

AMCU wil as die meerderheidsvakbond by die maatskappy se myne erken word. AMCU sê in ‘n verklaring hulle wil die adjunk-president die geleentheid gee om ‘n deurbraak te bewerkstellig.

Zuma vra dat land vir Mandela bid

President Jacob Zuma het weer ‘n beroep op mense gedoen om vir oudpresident Nelson Mandela, te bid en hom in hul gedagtes te hou. Zuma het Mandela in die hospitaal in Pretoria besoek, waar hy die afgelope ses dae vir ‘n longinfeksie behandel word.

Die hospitaal waar Mandela behandel word, sê hoewel hy die pligte van polisielede by die hospitaal respekteer, is die hospitaal se pasënte sy eerste prioriteit.

Dit volg na berigte dat die polisie ‘n hartpasiënt geteister het. ‘n Woordvoerder van Mediclinic, Lee-Ann Bell, sê egter die hospitaal het die nodige stelsels by die Pretoriase Harthospitaal om te verseker dat geen pasiënte of hulle besoekers verontrief word nie.

Volgens berigte is ‘n kardiologiepasiënt, Maxwell Mkhonto, verkeerdelik vir ‘n joernalis by die hospitaal aangesien waarna hy na bewering aangerand, deursoek en beslag op sy selfoon gelê is.

‘n Gebeddiens word vanoggend vir die oud-president in die St George’s katedraal in Kaapstad gehou. Verskeie godsdienstige groepe sal die diens bywoon. Die ANC se sekretaris in die Wes-Kaap sê die diens is om vir Mandela se spoedige herstel te bid.

Vyfde Turkse betoger sterf

‘n Betoger wat beseer is tydens botsings met die Turkse onluste-polisie, is dood, het ‘n prokureur gesê.

Die sterftesyfer ná twee weke se betogings in die land het nou na vyf gestyg.

Protesaksies naby Istanboel se Taksim-plein het oënskynlik begin toe inwoners ongelukkig was oor ‘n plan om ‘n plaaslike park te herontwikkel. Dit het egter intussen na ander dele van die land oorgespoel.

Ongeveer 70% van Turke voel ongelukkig oor hul regering se vyandigheid teenoor Sirië.

Die familie van die oorledene se prokureur, Sema Aksoy, het gesê die 26-jarige Ether Sarisuluk – wat vir dae lank aan lewensondersteuningsmasjiene gekoppel was – is Donderdag dood verklaar. Hy is glo op 1 Junie tydens betogings in Ankara met ‘n traangaskannetjie teen die kop getref.

‘n Menseregtegroep het gesê duisende mense is vir beserings behandel in die betogings wat op 31 Mei begin het.

Vandale skend Christengrafte in Jerusalem

Vandale het grafte by ‘n Christelike begraafplaas in Tel Aviv beskadig, het die polisie gesê.

Micky Rosenfeld, ‘n polisiewoordvoerder, het gesê die woord “prysetiket” is Donderdag op verskeie grafte in die voorstad Jaffa gevind.

Die frase word gewoonlik deur ‘n groep Joodse ekstremiste gebruik.

Die groep is gekant teen wat hulle sien as die Israelse regering se pro-Palestynse beleid.

Rosenfeld het bygevoeg dat die polisie tans na die oortreders soek.

Donderdag se voorval volg ná ‘n soortgelyke voorval by ‘n kerk in Jerusalem twee weke gelede.

EFF wil Lamola ontbloot na kritiek teen Malema

Die sogenaamde Economic Freedom Fighters het Ronald Lamola as ‘n “kortsigtige beroepsondersteuner” uitgekryt nadat Lamola Malema gekritiseer het.

“Lamola sal enigiets doen, insluitend diktators smeek vir sy persoonlike vryheid, en dus die saak vir ekonomiese vryheid in ons leeftyd opoffer,” het Floyd Shivambu, voormalige woordvoerder van die ANC-jeugliga, in ‘n verklaring namens die EFF gesê.

“Mnr. Lamola moet basies sy mond hou, omdat nie weet waarvan hy praat nie en niemand neem hom in elk geval ernstig op nie.”

Shivambu het reageer op Lamola se uitlatings dat die jeug nie Julius Malema se voorgestelde nuwe politieke party moet ondersteun nie.

In ‘n onderhoud met The Star het Lamola gesê Malema se forum van “radikale militante” is niks minder as militante wat mislei word nie.

Lamola het Malema daarvan beskuldig dat hy die jeugliga se resolusies oor ekonomiese vryheid, wat in 2011 op die nasionale konferensie in Midrand aanvaar is, “gekaap” het.

Shivambu het op sy beurt gesê Lamola het weggedryf van dié resolusies en aangesluit by die koor van “neo-liberale hervormers”.

Hy het ook gewaarsku indien Lamola aanhoudend dié soort uitlatings gaan maak, sal die EFF hom “ontbloot” vir die verskeie “individuele onderhandelings en manewales” in die aanloop tot die ANC se nasionale konferensie in Mangaung verlede jaar.

Die jeugliga se nasionale uitvoerende komitee is vroeër vanjaar deur die ANC ontbind en vervang met ‘n nasionale taakspan.

Zuma herinner SA aan Mandela se ware nalatenskap

Nelson Mandela was nie net ‘n vriendelike ANC-lid nie, maar ‘n “ware Afrikaan”, het pres. Jacob Zuma Donderdag gesê.

Opposisiepartye moenie Mandela se nalatenskap verdraai nie en moet “eerlik en opreg” wees in hul waardering van hom, het hy gesê.

Mense skep ‘n oppervlakkige beeld van Madiba, het hy gesê.

“Hulle moet lief wees vir Madiba, die hoof-vrywilliger van die versetveldtog, Madiba die bevelvoerder van Umkhonto we Sizwe, Madiba die revolusionêr, Madiba die lang dienende gevangene,” het Zuma gesê.

“Ons moenie net fokus op Madiba die eerste president van ‘n demokratiese Suid-Afrika wat ANC-beleid van rekonsiliasie en transformasie geïmplementeer het nie.”

Mandela het Donderdag sy sesde dag in ‘n hospitaal in Pretoria deurgebring.

Zuma het Woensdag gesê hy reageer goed op die medikasie wat hy ontvang.

Die kabinet het Donderdag die land verseker dat oudpres. Nelson Mandela die beste mediese behandeling ontvang.

Mandela is Saterdag in ‘n ernstige maar stabiele toestand in die hospitaal opgeneem met ‘n herhalende longinfeksie.

“Die kabinet is bly dat hy goed reageer op behandeling en benadruk die versoek vir die media en publiek om die privaatheid van die voormalige president se familie te respekteer,” lui ‘n verklaring wat ná die kabinet se tweeweeklikse vergadering uitgereik is.

Mandela is al ses keer sedert Januarie 2011 in hospitale in Johannesburg en Pretoria behandel.

SA dra volle koste van bi-laterale ontplooiings

Die teenwoordigheid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in die Sentraal Afrikaanse Republiek (SAR) sedert 2009, het Suid-Afrika R166,2 miljoen gekos. Dit blyk uit die antwoord van die minister van Verdediging en Militêre Veterane, me. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, aan Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus in die parlement.

“Die werklikheid is dat die belastingbetalers se geld in die SAR gemors was, aangesien die SANW daaruit moes onttrek en nie die bi-laterale ooreenkoms kon nakom nie. Die minister het verklaar dat slegs sowat 25 lede van die SANW in die SAR teenwoordig was tot in 2012. Dit beteken R6,648 miljoen per lid was spandeer. Hierdie geld kon eerder spandeer gewees het aan die aankoop van nuwe toerusting en opleiding van soldate binne Suid-Afrika,” sê mnr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder vir Verdediging van die Vryheidsfront Plus.

Volgens die minister het Suid-Afrika vier bi-laterale ooreenkomste op militêre gebied in Afrika gesluit wat gesamentlik sedert 2009 Suid-Afrika R471,8 miljoen gekos het. Die verkiesing in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) in 2011 en 2012 het die SANW R117 miljoen (R116 998 778) gekos, waarvan R100 miljoen terug ontvang is. Die patrollering van die Mosambiekse kanaal teen seerowery beloop tot einde 2012 R150,85 miljoen.

“Behalwe operasie Senoko in die RDK-verkiesing, moet die verdedigingsbegroting die volle koste dra vir die bi-laterale ooreenkomste. Hierdie is bi-laterale ooreenkomste en nie verpligtinge in terme van die Afrika-Unie of Verenigde Nasies nie. Dit veroorsaak dat die toerusting en opleiding van die SANW binnelands nie sy verpligtinge behoorlik kan nakom nie. Van hierdie gelde sou beter aangewend kon word vir byvoorbeeld grensbeheer in Suid-Afrika,” het Groenewald gesê.

Iran ook deel van Siriese vredeskonferensie

Iran se adjunkminister van buitelandse sake het gesê dat sy land uitgenooi is na die komende vredeskonferensie oor Sirië, wat in Genève sal plaasvind, het die plaaslike media Woensdag berig.

Die konferensie, wat deur Rusland en die VSA byeengeroep is en later hierdie maand plaasvind, sal verteenwoordigers van die Siriese president, Bashar al-Assad, en verteenwoordigers van die Siriese rebelle saambring om oor vrede in die land te praat.

“Ons het ‘n mondelingse uitnodiging ontvang om deel te neem aan die Genève-konferensie. Iran speel ‘n groot rol daarin om die krisis in Sirië op te los,” het Hossein Amir-Abdullahian gesê.

Hy het bygevoeg dat Iran op die uitnodiging sal reageer sodra hy ‘n skriftelike weergawe ontvang.

Daar was geen onmiddelike kommentaar vanaf die Verenigde Nasies of enige ander lande om Abdullahian se verklaring te bevestig nie.

Rusland, ‘n bondgenoot van Sirië, het glo gevra dat Iran by die byeenkoms ingesluit word.

Iran, Assad se hoof streeks-bondgenoot, beskou die Siriese opposisie as terroriste wat deur Westerse groepe ondersteun word.

Meer as 90 000 mense is sedert Maart 2011 in die Siriese burgeroorlog dood.

Twee Waterkloof-aangeklaagdes moet weer tronk toe!

Beeld berig dat twee lede van “die sogenaamde Waterkloof-vier wat 18 maande gelede onder korrektiewe toesig uit die tronk vrygelaat is”, gister beveel is om op 10 Julie vir voortgesette tronkstraf aan te meld.

Drie regters van die hooggeregshof in Pretoria het tot dié slotsom gekom.

Beeld berig voorts dat “die hof Reinach Tiedt en Gert van Schalkwyk – wat elk net minder as drie en ‘n half jaar tronkstraf uitgedien het – beveel (het) om na die Zonderwater-tronk in Cullinan terug te keer om hul tronkstraf te hervat”.

Dié twee jong mans is elk tot 12 jaar tronkstraf gevonnis omdat hulle 12 jaar gelede in 2001 as skoliere ‘n onbekende swartman in ‘n Pretoriase park doodgeslaan het.

Die vader van Christoff Tiedt, het gister oor die uitspraak gesê: “Ons is stomgeslaan. Ons verstaan dit nie.”

Die Waterkloof-2 se prokureur, me. Jenny Brewis, sal eers die uitspraak bestudeer en sal regsadvies inwin voordat daar besluit word om daarteen te appelleer, al dan nie.

Sowel Tiedt as Van Schalkwyk werk reeds met allerlei verantwoordelikhede. Daarom het regter Hans Fabricius gister gesê dit sou “erg onbillik en onmenslik wees” om te verwag dat hulle dadelik vir tronkstraf moet aanmeld. Daarom word hulle ‘n maand lank gegun om reëlings te tref.

‘n Volle bank van drie regters het in die guns van die minister en die kommissaris van die departement van korrektiewe dienste (DKD) se aansoek beslis dat streeklanddros Peet Johnson van Pretoria se bevel op 15 Desember 2011 – waardeur die tronkstraf in korrektiewe toesig omgeskep is – tersyde gestel moet word.

Volgens die kommissaris het hy en die minister van korrektiewe dienste nie geweet van die paroolraad se omskeppingsaansoeke voor landdros Johnson nie en het dit daarom nie teengestaan nie. Daar mag slegs vyf jaar voor die einde van ‘n straftermyn aansoek om parool gedoen word, terwyl die twee se termyn tot 20 Februarie 2020 strek.

Die landdros was daarom nie by magte om die omskeppingsaansoeke aan te hoor nie.

Regter Fabricius het wel gemeen dat “die twee geskikte kandidate is vir die omskepping van hul tronkstraf in korrektiewe toesig op ‘n datum wat nie langer as vyf jaar voor hul vrylatingsdatum is nie”.